[Foto’s] BMW se GS Trophy

BMW se GS Trophy (Foto: BMW)

Nie lank ná die eerste enjins in fietse ingesit is nie, is die eerste wedren gehou. Sedertdien word motorfietse in verskillende dissiplines aangewend sodat mense teen mekaar kan kompeteer. Toe BMW hulle GS aan die wêreld bekendgestel het, was dit ook nie lank voor Jan Alleman ʼn rede gesoek het om sy bedrewenheid met ʼn fiets teen sy buurman te toets nie.

Die naweek van  4 tot 7 Mei het BMW hul agtste GS Trophy aangebied by Badplaas in Mpumalanga. Met 879 deelnemers wat hul staal kom wys het, was dit die grootste aantal inskrywings nog.

Edgar Kleinbergen, die algemene bestuurder van BMW Motorrad Suid Afrika, verduidelik dat hierdie geleentheid BWM-klante die kans gee om die gees van GS te kom uitleef.

Roetes is spesiaal uitgemerk, en smiddae het die verskillende provinsiale spanne teen mekaar meegeding vir die algehele titel. Die kwalifiserende rondes is vroeër in April gehou, en sewe provinsiale spanne en drie damesspanne moes uithaal en wys in die vaardigheidstoets.

Ná twee dae se uitdagings, wat vergelykbaar is met die internasionale GS Trophy, is die span van Gauteng as die algehele wenners aangewys. Dié span van drie het bestaan uit Eugene Fourie, Mark Dickinson en Alfred van der Westhuizen.

BMW se GS Trophy (Foto: BMW)

Die damesspan wat uit Elzelda van Jaarsveld, Linda Steyn en Antoinette van Rensburg bestaan het, het met die louere weggestap onder die skoner geslag. Maar as ek so na die roetes kyk, was hulle allesbehalwe skoon.

Kleinbergen was beïndruk deur die vaardigheid van ons plaaslike ryers en veral die toenemende getal vroulike ryers wat deelneem. Hy sê hierdie kompetisie wys nie net individuele vaardigheid nie, maar ook spanwerk op ‘n nasionale vlak.

Die 2018 International GS Trophy word volgende jaar in Mongolië gehou. Al die provisiale spanne gaan in Augustus kans kry om te kwalifiseer om Suid Afrika daar te verteenwoordig. Sover is daar alreeds veertien lande wat beslis aan die 2018-kompetisie gaan deelneem. Dit beloof dus om weer ‘n taai stryd te wees. Kom ons kyk of Span SA, soos in 2016, weer die trofee huis toe kan bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Burger ·

Dis lekkerrrrr. Gebruik van jou aftree geld of vat n ekstra verband , moenie n sinvolle rede soek om een te koop nie want daar is nie . Die rede regverdig hom met tyd …

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.