[Foto’s] BMW se Pure and Crafted-fees nou groter en beter

BMW se Pure and Crafted-fees (Foto: Brian Cheyne)

BMW se jaarlikse Pure & Crafted SA-fees is verlede jaar vir die eerste keer by The Ground in Muldersdrif gehou. Die voormalige algemene bestuurder, Alex Baraka, was baie opgewonde oor die fees, en het ons tóé al vertel wat hy anders sal doen in 2017. Die 2017 Pure & Crafted het die naweek van 30 September plaasgevind, en hoewel Baraka nou al aanbeweeg het, glo ek sy insette het tog ʼn plek gekry in vanjaar se fees. Die hele atmosfeer en uitleg van die terrein het anders gelyk en gevoel.

Die opdrag was eenvoudig: kom vroeg en bly laat. Die verrigtinge het 11:00 begin en die ligte was eers af teen Sondag 02:00. Reg in die middel van die terrein was die groot Whitley High-Ferriswiel. Jy kon dit nie miskyk nie. Dit het dadelik die karnavalatmosfeer geskep wat die dag mooi beklemtoon het.

Die kosstalletjies was weer op dieselfde plek onder digte bome, maar vanjaar was die verhoog gedraai om meer van die feesgangers te betrek waar hulle onder die bome uitspan. Oral was stalletjies waar privaat brouerye hulle beste bier kon voorsit. Dit is nou die Craft-gedeelte van die naam. Oor ʼn biertjie en ʼn burger het ek gesels met ʼn paartjie wat uit Durban hier aangekom het. Hulle het vertel dat hulle baie van hierdie Craft-feeste bywoon, want dis nie soos ʼn kroeg waar iemand hartseer in sy leë bierglas staar en huil oor sy verlore liefde nie. Hier het almal lekker saamgekuier, want die groot tafels het die feesgangers aangemoedig om in groepe saam te kuier oor gedeelde belangstellings soos bier, musiek en, natuurlik, motorfietse.

Plaaslike musiek is verskaf deur onder andere  DJ Fresh, Matthew Mole en The Rocketeers. Die aand het egter sy hoogtepunt bereik met die internasionale kunstenaars, Lost Frequencies en Nora and Pure. Selfs nie eens ʼn kortstondige reënbuitjie kon die atmosfeer demp nie.

Vir die motorfietsgeesdriftiges was daar 30 van die mooiste antieke BMW-motorfietse uitgestal, en die nuwe BMW 310 was beskikbaar vir toetsritte. Mattie Griffin, ʼn professionele toertjieryer, het die skare kom vermaak op sy doelgemaakte motorfiets.

Vanjaar was daar baie meer stalletjies waar jy kon koop na hartelus, en selfs ʼn tatoeëermerk of twee kon laat aanbring. Die stalletjies het modes en bybehore verkoop. In die een hoek was vakmanne besig om ʼn motorfiets te omskep met handgemaakte bakpanele. Altesaam 4 300 mense het deur die hekke gekom, vergeleke met die sowat 2 500 van 2016.

Hou maar dop wanneer die volgende een aangebied gaan word! Dar heers werklik ʼn ontspanne feesatmosfeer, en daar is genoeg om te sien, te hoor en te proe. Volgende jaar beloof om nog groter te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.