Foto’s: Bobaas baba-Porsche

Die Porsche Macan Turbo. Foto: Verskaf

Ons het ʼn tydjie terug die bekendstelling van die Porsche Macan in Kaapstad bygewoon.

Dit was die eerste keer wat die Macan in ʼn 2.0-viersilinderturbopetrolenjin beskikbaar was. Die produk was puik gebou en vir die goedkoopste Porsche beskikbaar, goed geprys.

Ek is ʼn Porsche-liefhebber – en vir die afgelope paar jaar het Porsche nie ʼn voet verkeerd gesit nie. Ek het by die bekendstelling van die Macan oor die turbo gewonder. Indien die intree Macan- en middel S-spesifikasie só bekwaam is – hoé gaan die turbo wees!?

Wel, ek hoef nie meer te wonder nie. Porsche is besig met sy internasionale bekendstelling van die Porsche Macan hier in die Wes-Kaap. Die nuutste Macan is die turbo en neem sy plek in as die reeksleier. Dit word aangedryf deur ʼn 2.9 V6-dubbelturbopetrolenjin. Die V6 bied 324 kW en 550 Nm. Die krag word na al vier wiele gestoot deur ʼn blitsige 7-spoed PDK-dubbelkoppelaarratkas. Met die hulp van lanseerbeheer en Sport Plus sal die Macan van 0 tot 100 km/h kan blits in ʼn verstommende 4,3 sekondes en sal hy kan aanhou tot 270 km/h.

Die Porsche Macan Turbo. Foto: Verskaf

Die syfers is wel nie die hele prentjie nie. Ek het dit al voorheen geskryf. Van die eerste Porsche waarmee ek gery het – die Panamera S tot die 911, die 718, die Cayenne en nou die Macan … almal het ʼn eenderse gevoel… ʼn Porsche-gevoel. As ʼn mens geblinddoek word, sal ʼn Porsche-eienaar wéét hy sit in ʼn Porsche.

Die Macan is in werklikheid ʼn kleiner Cayenne. Die kwaliteit is uit die boonste rakke en die binneruim nes ʼn Porsche behoort te wees. Die turbo-weergawe wat ons nou in die Kaap gery het, was linkerhandstuur-modelle gewees, so ek gaan nie kommentaar lewer oor ergonomie nie, want alles was agterstevoor en onderstebo. Die Macan is ʼn lekker grootte – daar is plek vir vyf en ʼn billike kattebak.

Die Porsche Macan Turbo. Foto: Verskaf

Met Porsche se dinamiese vering wat ʼn mens ʼn sagte, middelmatige óf harde vering laat kies, is daar werklik ʼn stelling vir enige padtoestand. Waar die paaie sleg raak, skakel jy eenvoudig die skokbrekers na sag en hou aan ry. Waar die teer mooi is, sit jy die turbo in Sport Plus, skuif die rathefboom na handrat en begrawe jou regtervoet in die mat. Die 550 Nm arriveer vroeg in die toerestrek en hou aan en aan tot ʼn fantastiese 6 800 r/min.

Om die Porsche oor verskeie bergpasse te neem is ʼn belewenis. ʼn Mens moet mooi dink en reg mik van die linkersitplek af – maar die Macan sit steeds nie ʼn voet verkeerd nie. Teen R1,6 miljoen is die Macan Turbo nie vir almal beskore nie, maar vir die wat kan, is dit ʼn asemrowende voertuig. Vir die diegene wat aspirant-Macan Turbo-eienaars is, is daar in die tussentyd altyd die intree Macan vir R850 000 of die S vir R1,1 miljoen.

Die reeks lyk nou só:

Porsche Macan185 kW/370 Nm8,1 ℓ/100 km6,7 sek225 km/hR849 000
Porsche Macan S260 kW/480 Nm8,9 ℓ/100 km5,1 sek254 km/hR1 099 000
Porsche Macan Turbo324 kW/550 Nm9,8 ℓ/100 km4,3 sek270 km/hR1 600 000

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/onbeperkte km-waarborg en 3 jaar/90 000 km omvattende instandhoudingsplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Andre Cornelissen ·

Motors onder R250 000 verdien meer aandag . Ons armes wil graag meer opinies van bekostigbare motors sien

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.