Foto’s: Deftige ryers daag met klassieke fietse op vir belangrike saak

Marnitz Venter (Johannesburg-organiseerder) en Mecia Jansen van Motul. Foto: Daniel Coetzee vir www.zcmc.co.za

“Een miljoen mans sterf jaarliks aan kanker en selfdood. Trouens, drie uit elke vier selfdoodgevalle is mans.” Dit is die woorde van Marnitz Venter, die organiseerder van die Johannesburgse Distinguished Gentleman’s Ride.

Die 2018-geleentheid was ʼn groot sukses met sowat 120 000 ryers in 650 stede wêreldwyd wat 30 September bymekaargekom en saamgery het vir ʼn goeie doel. Die Johannesburgse rit is besonder goed bygewoon, met ʼn geskatte 1 200 tot 1 500 mans en vroue.

Vanjaar se roete het begin by die Vintage and Veteran Club in Johannesburg. Die konvooi is toe deur die boomryke strate na Constitution Hill vir ʼn groepfoto. Van daar af is hulle via die historiese Munro Drive na die Victoria Yards-vernuwingsprojek. Daar kon almal ontspan met ʼn biertjie, heerlike kos en interessante winkels terwyl vermaak aangebied is deur plaaslike musikante.

Die meeste deelnemers het baie moeite gedoen om getrou te bly aan die visie van die stigter van DGR, Mark Hawwa. Nie net was daar klassieke fietse nie, maar almal het probeer om so deftig moontlik te lyk. Selfs die skoner geslag het nie teruggestaan nie. Al die deelnemers het geld ingesamel vir hierdie belangrike mansgesondheidskwessies.

Garron Gsell (Movember), Bruce Allen (Triumph SA) en Marnitz Venter (Johannesburg-organiseerder). Foto: Daniel Coetzee vir www.zcmc.co.za

Mercia Jansen, Motul-gebiedsbestuurder vir Suider- en Oos-Afrika, het gesê: “Ons voel geëerd om as borg op te tree vir hierdie geleentheid. Nie net was die dag ʼn opwindende ervaring vir die ryers en toeskouers nie, maar dit help om bewustheid te skep vir belangrike gesondheidskwessies. Ons is trots daarop om deel te wees van ʼn uiters genotvolle gebeurtenis wat ook ʼn ernstige boodskap oordra.”

Die Distinguished Gentleman’s Ride se doel is om geld in te samel vir mans wat met prostaatkanker en geestesgesondheidskwessies gekonfronteer word. Hierdie geld word beheer deur die Movember Foundation. Die Johannesburg-byeenkoms het meer as $37 000 opgelewer. Dit plaas Jozi 15de wêreldwyd. Die wêreldtotaal staan al op $5,7 miljoen. Die mikpunt vir die jaar is $6 miljoen.

Skenkings kan nog gemaak word op die webwerf van die Distinguished Gentleman’s Ride tot die middel van Oktober.

Bruce Allen, die hoof van Triumph Suid-Afrika, het die ryers bedank wat in groot getalle opgeruk het na die Goudstad. Triumph is ʼn wêreldvennoot van hierdie belangrike inisiatief en Allen hoop om volgende jaar nog meer deelnemers te sien. Hy moedig egter ryers aan om volgende jaar vroeër te registreer sodat die organiseerders selfs nog beter kan voorberei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Netta Scheepers ·

Dit is vir my byna onmoontlik om te glo dat daar ouers is soos die ouers van die Springs geval. Ouers is veronderstel om hul kinders te beskerm en te bewaak teen alle gevare en euwels. Ek besef elke dag hoe geseend ek was met die wonderlike ouers wat ek gehad het. My Mammie met die mooiste edelste hart wat jy kon kry. My Pappie betroubaar en die beste wat op die aarde was.
Ek kan nie genoeg dankie se vir die kinderjare wat ek gehad het nie en is ook skaam dat ek dit nie altyd waardeer het nie, maar tog weet ek hulle het altyd verstaan en geweet dat ek baie, baie lief was vir hul.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.