Foto’s: Deur Eden tot in Baviaans

Brian Cheyne op toer deur Eden tot in Baviaans (Foto: Brian Cheyne)

Ek is seker met die helm gebore. ʼn Valhelm, om presies te wees. Niks bring vir my berusting, vrede en nadenke soos my uitsig deur die effe stowwerige skerm van ʼn valhelm nie. By die onlangse bekendstelling van die BMW 310 GS in George het ons die eerste deel van die sewepaspad gery. Toe die groep wegdraai, wou ek aanry. Ek wou nóg sien. En sommer gou ook.

My huidige fiets is ʼn padfiets, so om daardie pad te gaan ry met hom was net geen opsie nie. Toe begin ek kyk of ek ʼn fiets kan huur om my nuuskierigheid te bevredig. Hier is waar Bert en Jovanka van African Karoo Adventures in my storie inkom. Hierdie twee avonturiers het hul gemaklike lewe hier in Gauteng prysgegee en sak en pak gaan nes skrop in Mosselbaai. Daar het hulle ʼn paar Honda XR 190 CT-motorfietsies aangeskaf en my toe uitgenooi om saam met hulle te kom ry vir drie dae.

Ek het lank met Bert gesels oor sy keuse van fiets. Vir my maak dit perfek sin. Die paaie waar ons sou ry, is redelik tegnies, en die laaste ding waaroor ek myself wou bekommer, was ʼn gestoei met ʼn groot storiefiets. Dit, en die bybetaling as ek die logge ding êrens saggies neerlê. Die Honda XR 190 is alombekend as plaaswerktuig, en dit is duidelik aan die rak op die agtersitplek en ʼn systaander aan weerskante. Bert het handbeskermers opgesit, ʼn magnetiese sakkie op die tenk vir jou nutsgoedjies, en ʼn gel-sitplek. Met sy oornagtoere is daar altyd ʼn volgvoertuig wat sorg dat jy en jou fiets vry is van swaar bagasie. Dit maak die hele rit net soveel gemakliker. Bert het my en ʼn ander (vroulike) ryer begelei en Jovanka was in die voertuig. Jovanka is self ʼn kranige ryer, so as jy voel daar is ʼn tegniese stukkie wat vir jou dalk moeilik lyk, sal sy maklik met jou plekke ruil.

Die aand voor ons vertrek het Bert vir ons die breë buitelyne van die toer uitgestippel. Dit is net ʼn aanduiding, en geensins vas nie. Hulle kan die hele toer vir jou aanmekaarsit, of jy kan kies om sekere dele self te bespreek. Ons het die agteroorsit-opsie gekies waar ons net saamry, en die sewepaspad was my enigste vereiste.

Oor die volgende drie dae het ons die mooiste paaie gery in uiterste weersomstandighede. Van klipperige passe, tot sopnat teerpaaie. Daar was digte mis en glibberige modderpaaie, maar niks kon die dapper klein Hondatjies stuit nie. Ons het nooit gevoel ons moes jaag nie, wat beteken het dat ons die natuur kon indrink en geniet.

Brian Cheyne op toer deur Eden tot in Baviaans (Foto: Brian Cheyne)

Ons oorslaapplek was in die Karoo in ʼn plaasopstal, en Bert en Jovanka het gesorg vir die kos. Die sterre het ons die eerste aand verstom, en op die tweede aand het reën op ʼn sinkdak my skoon nostalgies gemaak. My avontuur sou geensins beter gewees het op ʼn groot storiefiets as op die klein rooi fietsie nie. Met ons geduldige toerleier se plaaslike kennis het ek ook meer gesien en beleef as wat ek sou as ek op my eie gery het. Met my bagasie in die volgvoertuig het ek nie onnodige gewig moes saamdra nie. Sowel Bert as Jovanka sal boonop kan help met ʼn pleistertjie, sou jy die pad byster raak.

Ek het altyd gewonder of dit ʼn lewensvatbare opsie is om ʼn motorfiets te huur, en nou het ek my antwoord: beslis! Die koste van enige motorfietshuur is merkbaar duurder as motorhuur, maar met AKA se toere sluit die prys jou huur, brandstof, jou toerleier en die volgvoertuig in. Dan raak die dagtarief heel billik. Die toerlengte en bestemming is heeltemal jou eie keuse. So, as jy nog altyd die tuinroete wou gaan verken op ʼn motorfiets, hier is jou kans. Die tegniese stofpaaie was kinderspeletjies op die klein XRs, en selfs ryers met beperkte vermoëns is welkom. Bert sal selfs vir jou ʼn pletterpet en baadjie kan leen. Jy moet net die lisensie hê, dis al. Richard Branson het gesê: “As geluk die doel is – en dit moet wees – dan moet avontuur jou prioriteit wees.”

Vir meer inligting besoek www.akatours.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gys ·

Baie dankie vir die inligting. Alhoewel ek Baviaans en die omliggende area al plat gery het op my 800GS, is dit handig om die webwerf vir vriende te gee wat nie hul eie fietse het nie. Four wheels move the body, two wheels move the soul. :) :)

Brian Cheyne ·

Gys, jou gelukkige mens! Ek onthou ‘n vriendin van my het eenkeer, toe ons oor die Outeniekwa pas gery het, vir my gevra om al die kar se venters oop te maak dat sy kon ruik. Op ‘n motorfiets ruik jy die heeltyd. Dis ‘n ander belewenis!

Lulu Kruger ·

Dit klink amazing. AKA tours klink asof hulle awesome toere aanbied.
Gaan gerus op hul website en lees meer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.