Ná weke se stilte lyk dit ewe skielik of nuwe motorfietsmodelle nou begin ontwaak en die volgende paar weke kan besig raak. BMW het pas ook twee variasies in ʼn bestaande modelreeks bekend gemaak.
Die R nineT is in 2013 bekendgestel en was skielik baie populêr. Dit blyk dat daar tog ʼn behoefte was aan ʼn basiese fiets, sonder die tierlantyntjies. Die R nineT het verlede jaar ʼn rowwe boetie bygekry toe BMW die Scrambler aan die pers gewys het en ek hom op die Rooiels-pad kon gaan rondgooi. Nou het daar nog twee boeties bygekom.
Een daarvan het egter ʼn bietjie in sy pa se ou kas gaan rondkrap en êrens in die 70’s verlore geraak en daar vasgehaak. Ontmoet die R nineT Pure en R nineT Racer. Nog twee fietse wat voortborduur op die nineT-tema.
Die Pure is, soos die naam sê, gemaak vir die puris. Besondere aandag is geskenk is aan die detail met aluminiumafwerking. Die Racer is met opset gestileer op die motorfietse van die vroeë 70’s. Die halwe stroomlynkap en bonkige enkelsitplek is afgewerk in die BMW-motorsportkleure, en jou hele ryposisie is meer sportief. Die modulêre raam van die nineT-reeks laat jou toe om jou fiets met min moeite te verpersoonlik. Sluitwering is ook standaard.
As dít jou soort fiets is, bied BMW nou vier variasies om van te kies. My keuse sal die Racer wees.
Hierdie fietse gaan ook te sien wees op die Motorcycle Festival wat in Mei by Kyalami gehou word.
In ’n neutedop:
Enjingrootte | 1170cc |
Aantal silinders | 2 |
Maksimum kraglewering | 91kw / 110pk |
Saalhoogte | 805mm |
Tenkkapasiteit | 17L |
Prys Racer | R166 990 R171 990 |
Ek dink die onderste foto se onderskrif is dalk verkeerd, is daai nie die racer nie? In alle geval is dit darem maar baie geld vir net 2 wiele…
Albei heet R nineT. Die reeks se volle doopname is nou: R nineT, R nineT Scrambler, R nineT Pure en R nineT Racer.
Bly darem maar lekker…maar verkies Yamaha.
JJ, hou maar dop. My skedule sluit die MT-10 in. Kan nie wag nie.