[Foto’s] Die Ducati Monster 821 word opgekikker

Die Ducati Monster 821 (Foto: Ducati)

Elke era het maar ʼn kenmerkende snaaksigheid. In 1992 was die mullet aan die uitsterf toe Ducati die eerste, ikoniese Monster aan die wêreld bekendgestel het by die Cologne-motorskou. Vandag, 25 jaar later, is ons genadiglik verlos van die mullet, maar nou is dit baardolie en tatoeëermerke. Een ding het egter tydloos gebly. Die Ducati Monster. Ducati het onlangs die Monster-reeks aangepas, en nou het hy ook die 821 onder hande geneem.

In 2014 is die Ducati 796 vervang met die 821. Vroeër vanjaar is daar ʼn nuwe 797 bekendgestel wat beteken die Monster-reeks bestaan nou uit die 797, 821 en die 1200. Die middelgewig-821 se oorsprong is steeds gewortel in die 900 van 25 jaar terug, en spog met uitstaande standaardtoerusting, lae onderhoudskoste en ʼn uitgebreide katalogus bybehore. Die Monster is ʼn gebruikersvriendelike fiets met genoeg woema om jou jare lange pret te verskaf.

Die lyne van die 821 is nou gladder en meer vaartbelyn. Die 1200 is deur dieselfde oefening, met ʼn herontwerpte tenk en agterkant. Die nuwe uitlaatpyp en hooflig gee die Monster ʼn klassieke, dog moderne aansig. ʼn Kleur-TFT-skerm vervang die tradisionele instrumentasie en beskik oor ʼn brandstofvlak, iets wat ontbreek het in ʼn hele paar fietse wat ek vanjaar getoets het.

Die Ducati Monster 821 (Foto: Ducati)

Die Testastretta-enjin lewer 109 perdekrag teen 9 250 rpm, en met 86 Nm wringkrag bied die Monster opwindende verrigting. Snelskakeling is ʼn opsie op die Monster. Hopelik het Ducati hierdie stelsel nou onder die knie, want op die Supersport was dit maar temperamenteel.

Ducati se veiligheidspakket bevat sluitwering en tolbeheer, en die ryer kan die vlakke van inmenging stel. Brembo-remme help met die stopslag en die agterste skokbreker is verstelbaar. Die krag- en versneller-respons kan ook verstel word na gelang van padoppervlak en weerstoestand.

Kleurkeuses is beperk tot Ducati rooi, swart en Ducati geel.

Hierdie fiets word binnekort in SA bekendgestel. Ek baie uit daarna om met hierdie fiets te gaan ry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.