[Foto’s] Die Ducati Supersport praat met die hart

Die Ducati Supersport (Foto: Brian Cheyne)

Ducati word besit deur Lamborghini, wat op hulle beurt weer besit word deur Audi. Êrens in hierdie korporatiewe oerwoud loop daar Ducati-mense rond met visie, en ’n effense mal streek. Ducati se bloedlyn het sy oorsprong op die baan, en die fokus was nooit juis op gemak en praktiese fietse nie. Die eerste teken dat Ducati begin dink het dat fietse op die pad ook moet ry, was toe hulle die Multistrada aan die wêreld gewys het. Maar tussen die kaalfiets, die Monster, en die ballistiese Panigale, was daar nie net ’n gewone, gemaklike fiets nie. Tot nou.

Aan die einde van laasjaar het Ducati my geterg met die Supersport. Uiteindelik ’n praktiese fiets wat as sport-toerfiets gebruik kan word. Die skerm is verstelbaar en jy kan ’n opsionele bagasiestelsel ook bestel, en dit het vir my gelyk of Ducati dalk net daardie balans tussen gemak en sportiwiteit reggekry het.

Kyk, hierdie fiets is bitterlik mooi. Toe ek hom by Ducati gaan optel, was ek oorweldig deur die lyne en die ongelooflike aandag aan die kleinste detail.  Dit het my so ’n rukkie gevat om te besef die kantpanele is vas aan die fiets, sonder ’n enkele sigbare skroef. Ek wil eerder nie by wees as jy ’n vonkprop moet vervang nie.

Daar is twee modelle, naamlik die Supersport en Supersport S. Meganies is hulle identies. Hulle het dieselfde L-twee, 937 cc-enjin. Voor het albei ook dubbele 320 mm-skywe met Brembo-knypers. Al wat die S anders maak, is Öhlins-suspensie, ’n doppie oor die passasier se saal, en snelskakeling vir die ratte. Op en af. Ek wou elke verkeerslig rooi kry dat ek net kon afrat, en weer begin. Alhoewel die stelsel nie baie goed gewerk het in stadsverkeer nie, het dit my soveel genot gegee dat ek al die tekortkominge miskyk. Die enigste ander kladmerk of die Supersport se rapport is die spieëls. Die lewe agter jou is ’n dowwe raaisel op enige spoed bo 50 km/h.

Die Ducati Supersport (Foto: Brian Cheyne)

Die toetseenheid het ook die opsionele Akrapovič-uitlaatpype opgehad. Dié stelsel is saam met Ducati ontwikkel en bied ’n rapsie meer krag en baie meer volume.

Die ryposisie is steeds sportief, en nie heeltemal so regop soos wat die bemarkingsmateriaal jou wil laat glo nie. Die saal is breed en bied genoeg ondersteuning, en die klein windskermpie het twee posisies. Laag en te laag. Jy sal moet belê in iets langer as jy en hierdie Ducati die lang pad wil aandurf.

Daar is genoeg elektroniese verstellings om jou lank besig te hou en daar is selfs ’n opsie waar jy die tipe bande wat jy op het, kan spesifiseer. Sluitwering en tolbeheer is standaard en die voorste Brembo-knypers werk so goed, dat ek onder harde remming kon voel hoe die agterwiel op die pad dans. Daar was egter nie baie wat ek met my beperkte vermoëns kon doen om die Ducati te ontsenu nie.

Die Ducati Supersport (Foto: Brian Cheyne)

Dit is ’n fiets wat jy koop omdat hy met jou hart praat. Hier laat jy logika en die spesifikasie-lys uit die sommetjie. Jy dink nie aan versekering of brandstofverbruik nie. Met hierdie fiets kan jy elke dag werk toe ry, naweke om die baan gaan jaag en op ’n Vrydag ná werk die tassies pak en wegglip na ’n plekkie met ’n kaggel en lekker koffie. Verkieslik aan die einde van ’n kronkelpaadjie. En oral waar jy gaan, sal koppe draai. Al daardie korporatiewe insette begin nou vrugte afwerp, en ek sal baie graag so ’n fiets in mý motorhuis wil parkeer.

Vir meer inligting, besoek die produkblad.

In ’n neutedop:

Enjin937 cc 90° L-Twee
Gewig (Nat)210k g
Maksimum kraglewering81 kw/110 pk
Saalhoogte81 cm
Tenk kapasiteit16 L
PrysR169 000 / R188 000 vir die S

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dankie ·

Dankie Maroela vir al die artikels oor nuwe motorfietse. Dit is altyd n plesier om te lees

anton ·

Het seker baie krag en n mooi ”Beat” soos Ducati’s gewoontelik maar het.
Maar ek hou van my gemak op n fiets en ek dink nie daar is baie daarvan op dié fiets nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.