Foto’s: Die Harley-Davidson-aanslag duur voort

Die Harley-Davidson FXDR 114. Foto: Verskaf

In Harley-Davidson se voortdurende strewe om die jonger geslag na sy handelsmerk te trek, is hy ook druk besig om die bestaande Harley-Davidson-kliënte tevrede te hou. Harley-Davidson het pas sy opgraderings vir 2019 bekend gemaak en ook die nuwe FXDR 114 bekend gestel.

Nog meer van Harley se toermodelle kry nou die Milwaukee-Eight-enjins. Sy driewielfietse het ook nou die nuwe enjin en verbeterde hantering. Al die toermodelle het ʼn verbeterde raakskermstelsel. Verskeie nuwe verfafwerkings is beskikbaar vir die groter fietse.

Die Harley-Davidson FXDR 114. Foto: Verskaf

Die nuwe Harley-Davidson FXDR 114 gaan die pas aangee vir die 2019-modelle en toe ek die eerste foto’s van hierdie fiets gesien het, kon ek nie glo hy staan op ʼn baan nie. Die FXDR is gebaseer op die Softail-onderstel, maar met nuwe verrigtingsvlakke as doel, beskik hierdie fiets oor verskeie aluminium-onderdele om die fiets ligter te maak. Dit behoort ʼn Harley te skep wat nie sal skrik as die pad skielik draaie het nie. Ek het verlede jaar die Softail-reeks in Spanje gery en die nuwe onderstel het gesorg vir ʼn merkbare verbetering in die hantering van Harley-Davidsons. Die FXDR voer dit nou net nog ʼn trappie verder.

Harley se nuwe Boom! Box GTS-klankstelsel is aangepas om vinniger te reageer en beskik nou ook oor Apple Carplay en ʼn verbeterde banddruk-monitorstelsel.

Die Harley-Davidson Road Glide. Foto: Verskaf

Die afdeling Harley-Davidson Custom Vehicle Operations (CVO) het ook verbeteringe vir 2019 aangekondig. Daar is drie modelle in die CVO-reeks, naamlik die Road Glide, Street Glide en Limited. Elke model kry die nuwe Milwaukee-Eight-enjin (117 kubieke duim) en die nuwe klankstelsel.

Die Harley-leefstylafdeling is aangevul met verskeie items soos valhelms en beskermende klere wat by jou fiets sal pas. Vir diegene wat nog meer krag soek, bied Harley sy Screamin’ Eagle-enjinopgraderings.

Hierdie modelle behoort al teen einde September hier in Suid-Afrika te wees.

Die Harley-Davidson Road Glide. Foto: Verskaf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.