[Foto’s] Die Harley-Davidson-rewolusie

Die Harley-Davidson Breakout (Foto: Harley-Davidson)

Dink jou in: die base by Harley-Davidson verkondig hardop dat hulle oor die volgende 10 jaar 100 nuwe superimpak-modelle gaan vrystel, en jy werk in die ontwerpateljee. Tyd om jou potlood skerp te maak en te begin teken. Om die bal aan die rol te sit het Harley-Davidson agt nuwe Softail-modelle in Spanje bekend gestel en ek is genooi om te kom kyk waarheen hulle op pad is.

Net meer as ʼn jaar gelede het Harley-Davidson begin met die Milwaukee Eight-enjin, sy nuwe juweel. Vier kleppe en twee vonkproppe per silinder en seepglad. Vir hierdie jaar is ʼn splinternuwe raam ontwerp met ʼn enkel-skokbreker agter om te dien as die ideale setstuk vir die nuwe juweel. Senior ontwerpstilis Ben McGinley was verantwoordelik vir die Fat Bob, en die mannetjie is skaars 30. Hy sê as die bene reg is, volg die res maklik.

Al agt modelle deel dieselfde raam, maar elke model is uniek afgewerk. Oor die twee dae het ons vier modelle gery deur ʼn baie mooi deel van Spanje met bergpasse en asemrowende uitsig. In volgorde het ons die Street Bob, Breakout, Heritage Classic en Fat Bob gery.

Die Harley-Davidson Street Bob (Foto: Harley Davidson)

Die Street Bob met sy sagte saal en hoë handvatsels het ʼn tipiese Harley-gevoel. My bene voel egter “beknop” en ek dink as die voetrusse vorentoe geskuif word, sal die rit baie verbeter. Sowel die Street Bob as Breakout het nie die tradisionele wysers nie, maar ʼn klein digitale eenheid wat in die handvatsels ingebou is. Geniale eenvoud en mooi duidelik, selfs in helder sonlig. Die hantering is sommer uit die staanspoor duidelik, en hoewel H-D aandag gegee het aan die leunhoeke kon ek steeds om ʼn paar draaie die voetrusse laat skraap.

Die Breakout kan die prys kry as die produk wat die meeste verbeter het. Die ou Breakout se lang asafstand en groot voorwiel het gemaak dat hy nie bekend was daarvoor om gewillig van rigting te verander nie. Verder hoef jy net die flikker aan te sit, dan skraap iets al op die teer. Die nuwe raam het die Breakout omskep in ʼn fees om te ry. My stewels se hakke het maar swaar geleef.

Op die tweede dag was dit die beurt van die Heritage Classic en Fat Bob. Eersgenoemde is klassiek

Harley, met regop handvatsels, uiters gemaklike saal en ʼn windskerm wat jy kan afhaal sonder gereedskap. Die instrumentasie sit op die tenk soos die Harleys van ouds en hy beskik ook oor spoedbeheer. Met sy harde, leeroorgetrekte kanttasse is sy doel duidelik om te toer. Ek kon nie veel fout vind met die Heritage nie en hy het gevoel soos die volwasse ouboet.

Die Harley-Davidson Heritage Classic (Foto: Harley-Davidson)

Die rebel in die familie is sonder twyfel die Fat Bob. Hierdie ontwerp breek met die Harley-resep. Harley-Davidson wil egter 2 miljoen nuwe ryers na sy handelsmerk trek, so hy moes bietjie afwyk van die norm. Die uitlaatpyp is ʼn 2-in-1-in-2-ontwerp en lyk en klink hoendervleis mooi. Die handvatsel is dik in die middel en loop dunner tot by die kontroles. Amper soos bulhorings. Die dik voorwiel het my so bietjie bekommerd gehad. Ek het gewonder hoe hy gaan vaar in die draaie. Die kronkelpaaie is egter met gemak hanteer, en soos die dag aangegaan het, het my glimlag net groter geword.

Harley-Davidson is beslis op die regte pad met sy nuwe modelle – en die nuwe tegnologie soos LED-ligte en ʼn USB-sok is daar, maar skop hom in rat en hy bly Harley deur en deur. Nou is daar nog 92 nuwe modelle wat wag. Ek pak met afwagting solank my pletterpet.

Volgens Harley-Davidson se bemarkingsbestuurder, Aidan Johnson, kan jy al van 15 Oktober jou bestelling plaas en die fietse behoort van 1 November beskikbaar te wees vir toetsritte. Pryse sal nader aan die tyd gefinaliseer word.

Die Harley-Davidson Heritage Classic (Foto: Harley-Davidson)

Die Harley-Davidson Fat Bob (Foto: Harley-Davidson)

Die Harley-Davidson Fat Bob (Foto: Harley-Davidson)

Die Harley-Davidson Fat Bob (Foto: Harley-Davidson)

Die Harley-Davidson Breakout (Foto: Harley-Davidson)

Die Harley-Davidson Street Bob (Foto: Brian Cheyne)

Die Harley-Davidson Fat Bob (Foto: Brian Cheyne)

Die Harley-Davidson Fat Bob (Foto: Brian Cheyne)

Die Harley-Davidson Fat Bob (Foto: Brian Cheyne)

Die Harley-Davidson Breakout (Foto: Brian Cheyne)

Die Harley-Davidson Breakout (Foto: Brian Cheyne)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ramkat van die Grondpad ·

Different strokes for different ouks.

Harley-aanhangers mag dit maar geniet, maar ek verruil nie my onopgesmukte en karaktervolle Thumper, wat ‘n grondpad voor my gelykmaak, vir niks nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.