KTM se Super Duke R is in 2014 aan die wêreld bekend gestel as “The Beast”, die sirkus-frats met die groot enjin. Met soveel krag moes KTM iets doen om te verseker dat jy darem uit die vertoonlokaal kon ry sonder om die vloerteëls los te ruk. Die antwoord was elektronika. Baie daarvan.
Wel, net toe die wêreld begin gewoond raak aan die Super Duke, het hulle vir 2017 die tweede weergawe van die Super Duke R bekendgestel. Ek het die bekendstelling op Red Star misgeloop, maar dit het beteken dat ek die R in alledaagse omstandighede kon toetsbestuur.
Met veranderinge aan die enjin kon die slimkoppe ʼn ekstra sewe perdjies uit die enjin kry. Nie dat die 170 wat hy reeds gehad het te min was nie. Hierdie is die kragtigste LC8-enjin wat KTM nog gemaak het, en die 75 grade V-twee-enjin verplaas ʼn allemintige 1301 cc. Die kragbron sit knus in ʼn ontblote tralieraam en afhangende van jou kleurvoorkeur is die raam in swart of KTM-oranje beskikbaar. Die Super Duke was ook van die eerste KTM’s met ʼn enkelsydige swaaiarm.
Die reeds aggressiewe Duke is nog verder opgeskerp en die voorlig het nou LED-dagryliggies en lyk amper soos ʼn groot insek. Die groot instrumentepaneel het plek gemaak vir ʼn klein TFT-skermpie, nie veel groter as my foon nie. Selfs met die klein skermpie was ek verras dat ek uit my sitplek nie die voorlig of die voorwiel kon sien nie. Ek het gou besef, hierdie kortas-afstand beloof groot pret as die pad begin kinkels maak.
Met die sleutel in my sak maak ek my tuis op die Duke. Die handvatsels is breër, vorentoe, en laer as op die vorige weergawe wat jou effe vorentoe plaas. Met die boggel in die tenk sit jy ook laag en binne-in die fiets. Soos die fiets begin lewe, flits KTM se slagspreuk “Ready to Race” op die klein skermpie. Die fiets is reg, maar ek weet nie of ek is nie. Daar is verskeie ryprogramme om van te kies vir enige ryomstandighede. Ek vra maar vir veiligheid vir die KTM om my met die ryery te help.
Ratskakeling is ʼn moeitelose aksie wat nie eens die koppelaarhefboompie inspan nie. Op die regte toere op die regte spoed, gee die enjin so kort blaf en jy is in die volgende rat. Die versnelling is brutaal en soms skeer die elektronika met jou die gek as jy voel hoe die voorwiel lig. Jy huiwer en wonder of jy die krane moet toedraai, maar dan sit die elektronika weer die wiel saggies neer. Dit is nie soos die vroeëre stelsels wat net die krag sny nie. Die KTM moduleer die lewering só dat jy voel jy is in beheer.
Met opgegradeerde skokbrekers hoor ek die baanverrigting is ook beter, maar ek sal hulle maar moet glo. Ek en die Duke sal nog eendag om ʼn baan gaan ry. Die Super Duke hits jou die heeltyd aan om vinniger te wil ry.
As jy iemand is wat nie hou van aandag trek nie moet jy eerder nie na die KTM kyk nie. Dit is ʼn kranksinnige fiets met ʼn lawwe streek. Jy ry met vrees en opgewondenheid tegelyk, maar as jy stop, gaan dit oor in vraatsigheid. Jy wil net nog hê. As jy dalk nie mooi verstaan wat ek probeer sê nie, gaan loer in by KTM en vra vir ʼn toetsrit op die Super Duke. Sit hom in Sport-modus en gooi kole. Dan sal jy ook verstaan.
Vir meer inligting, besoek die produkblad.
In ’n neutedop:
Enjin | 1301cc 75° V-Twee |
Gewig (droog) | 195kg |
Maksimum kraglewering | 130kw / 177pk |
Saalhoogte | 83.5cm |
Tenk kapasiteit | 18L |
Prys | R214 999 |
Pragtige fiets. Laat my verlang na my KTM990SM.
Darm vrek baie geld vir bietjie fiets.!
En het mens regtig al daai krag nodig? Dink nie so nie.
Die jammerte is dat dit steeds ketting aangedrewe is. ”Shaft” is bobaas.