[Foto’s] Die Honda Africa Twin gemaak vir Afrika

Die Honda Africa Twin (Foto; Brian Cheyne)

Die Honda Africa Twin is laasjaar hier in Suid-Afrika aan die wêreldpers bekendgestel. Die aanvraag na hierdie model was egter so groot dat ek nou eers kans gekry het om met hom te ry. Dit het my genoeg tyd gegee om baie oor die fiets te lees, en veral oor die belangrikheid van hierdie model in Honda se arsenaal.

Die oorspronklike XRV 750 Africa Twin van die laat 90’s het ikoniese status bereik, en daar is nou nog van hulle wat stof opskop reg oor die wêreld. Hierdie motorfiets het die konsep van ’n dubbeldoel fiets net mooi onder die knie gekry, toe staak Honda produksie in 2003. Met Honda se ont trekking het die mededingers ’n houvas op die woelige avontuurmark gekry en Honda moes iets baie spesiaals na die mark bring as hulle enigsins ’n indruk wou maak. Die verkoopsyfers alleen behoort te staaf dat Honda ’n wenner hier beet gehad het. In Europa het die Africa Twin die bewese Bavarieër ’n bloedneus gegee.

Die Honda Africa Twin (Foto; Brian Cheyne)

Die hele aanslag van die Africa Twin is gefokus op vrotpaaie. Die fiets is nie gemaak om heeltyd op teerpad te leef nie. Dit het egter genoeg teerpadvaardigheid om jou tot by jou grondpad te kry. Met sy 21”-voorwiel weet jy sommer die stofwolk agter jou gaan ’n grote wees. Ergonomies sit jy soos jy op ’n avontuurfiets moet sit. Regop, met breë handvatsels en ’n gemaklike ryposisie.

Voor jou is ’n kleinerige instrumentepaneel, en ’n windskermpie wat nie kan verstel nie. Die goue voorvurke is onderstebo gemonteer en lyk of dit baie straf kan vat. Die agterste vering is verstelbaar en aandrywing is met ’n ketting. Die enjin is nie meer ’n 750cc-V2 nie, maar eerder ’n 998cc- parallel twee. Kraglewering is ’n beskeie 70 kw. Nogtans is die Africa Twin se hoë sitplek ’n baie lekker plek om te wees.

Honda het twee modelle beskikbaar, naamlik een met die tradisionele ratkas en die ander met die

DCT- outomatiese ratkas. Die model wat ek gery het, het die DCT-ratkas. Moet nou nie dink bromponie nie. Hierdie fiets het ses ratte, en die skakeling gebeur nog steeds deur middel van ’n koppelaar, maar die blikbrein doen die werk. Daar is nie ’n rat- of koppelaar-hefboom te sien nie, en die stelsel werk ongelooflik goed. So goed dat oor die 40% van Hondas wêreldwyd met DCT bestel word.

Die Honda Africa Twin (Foto; Brian Cheyne)

Die voordeel is dat die fiets nie kan stol nie, wat beslis jou bas kan red in tegniese plekke. Jy kan ook self ratte verwissel met ’n – en +-koppie op die handvatsel. Die -knoppie sit egter waar alle fietse se toeter sit, so as iemand voor jou inry, kan jy dalk uit woede ’n laer rat kies.

Die remme het sluitwering en kan afgesit word as jy die vrotpad betree. Dan kan jy ook drie vlakke van tolbeheer kies, of jy kan dit heeltemal afskakel.

Op die oop pad skitter die Africa Twin nie juis nie. Alles gebeur maar soos dit moet, en die versnelling is nie aardskuddend nie. Maar klim van die teerpad af en jy voel sommer dadelik tuis. Ek het vir ’n foto of twee ’n klipperige rantjie opgery en ek het nie vir een oomblik oor die Africa Twin se vermoë getwyfel nie. Die DCT het ongemerk sy ding gedoen terwyl ek op die pad kon konsentreer.

As jy van vrotpad-avonture hou en ’n betroubare fiets soek wat jou dag in en dag uit plesier sal verskaf, sal jy dom wees om nie die Africa Twin te gaan toetsbestuur nie.

Vir meer inligting, besoek die produkblad.

In ’n neutedop:

Enjin998 cc- parallel twee
Gewig (Nat)242 kg ( DCT ) 232 kg ( Standaard )
Maksimum kraglewering70 kw/94 pk
Saalhoogte87/85 ( Hoë/Lae posisie )
Tenkkapasiteit18.8 L
PrysR 208 500 ( DCT )

R 186 500 ( Standaard )

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.