[Foto’s] Dié Indian rook die pyp

Die Indian Scout 60. Foto: Brian Cheyne

Wat is die oudste motorfiets vervaardiger in Amerika? Harley-Davidson dalk? Nee, daardie titel behoort aan Indian. Al is dit net met ’n paar maande. Indian se geskiedenis is egter nie so ’n suksesverhaal soos dié van Harley-Davidson nie.

Ná die oorlog in die laat 40’s, het Indian ’n paar blapse gemaak, en deur die jare het baie beleggers probeer om lewe in die Indian-handelsnaam te blaas. In die laat 50’s was daar verskeie Indian-inkarnasies, maar dit was eintlik net ’n Indian in naam. Dit was ander vervaardigers se fietse met ’n Indian-plakker op die brandstoftenk. Net toe Indian mooi aan die gang kom in 2006, toe val die bodem uit die motorfietsmark, en vir die soveelste keer maak Indian hul deure toe.

Die erfenis en geskiedenis van Indian was egter net te kosbaar om te laat gaan, en in 2011 koop die Amerikaanse firma Polaris die naam oor. Met hulle kennis van sneeuvoertuie en vierwielmotorfietse, en omdat dat hulle Amerikaans is, is die Indian-naam in ere herstel. Met sulke groot maatskappy agter hulle, is hulle hier om te bly. Hulle huidige fietse bevat die nuutste en betroubare enjins, en die lyne is klassiek. Ek moet erken, die Indian Scout 60 wat ek hierdie week onder hande gehad het, is ’n baie aanskoulike fiets.

Die Indian Scout 60. Foto: Brian Cheyne

Die Scout 60 is ontwikkel as ’n meer bekostigbare weergawe van die populêre Scout. Die benaming kom van die 61 kubieke duim-enjin. Die groter Scout het ’n 69 kubieke duim-enjin. Met so 78 Indiaanse perdjies wat galop, is die Scout 60 heel wakker, maar dit is die toeganklikheid en gemak van die fiets wat my dadelik opgeval het. Met sy uitgestrekte, vloeiende lyne lyk die Indian baie laag. En hy is. Die saal is skaars 65 cm van die grond af, wat hom ideaal maak vir korter ryers. My vrou het baie van die sitposisie gehou. Die koppelaar verg nogal ’n stewige trek, en dit sal egter vir haar ’n probleem raak in stadsverkeer. Hy lig maklik van die systaander af, en ek dink nuwe ryers sal ook aanklank vind by die Scout 60.

Die enjin is glad en die ratkas voel modern en verg die geringste insette om ratte te verwissel. Die aandrywing is deur middel van ’n band, wat verder help om meganiese geraas minder te maak. Om nuwe ryers verder te help, is daar ’n rataanduiding op die instrumentpaneel, die flikkers kanselleer self en die remme is toegerus met sluitwering as standaard.

Die Indian Scout 60. Foto: Brian Cheyne

Die instrumentpaneel self is ’n klein, ronde eenheid met klassieke skrif. Op die klein vloeikristal-eenheid kan jy kies tussen totale afstand, ritmeter, enjintemperatuur of enjintoere. Die brandstofvlak is afwesig, en jy moet maar staatmaak op jou eie berekenings en die brandstofliggie.

Op die pad was die Scout 60 ’n fees. Omdat alles so laag sit, hanteer hy met gemak, en ek moes myself kort-kort inhou om nie die fiets soos ’n sportfiets te ry nie. Jy voel heeltyd jy wil vinniger, want die fiets boesem soveel vertroue in. Ek verstaan nou hoekom hierdie fiets ’n sesde plek losgeslaan het by die Pirelli Motorfiets van die jaar-kompetisie. Dit is ’n gemaklike, toeganklike en onintimiderende fiets wat aandag trek. Daar is ook ’n katalogus vol bybehore waarmee jy jou Indian kan opsmuk.

Dit is die tipe fiets waarmee ek wil tyd deurbring, maak nie saak wat my bestemming en rigting is nie. Die enkelsaal sê ek wil alleen wees. Net ek, die pad en my Indian Scout 60.

Produkblad : http://www.indianmotorcycle.co.za/indian-scout-sixty-specs/

In ’n neutedop:

Die Indian Scout 60. Foto: Brian Cheyne

Die Indian Scout 60. Foto: Brian Cheyne

Die Indian Scout 60. Foto: Brian Cheyne

Die Indian Scout 60. Foto: Brian Cheyne

Die Indian Scout 60. Foto: Brian Cheyne

Die Indian Scout 60. Foto: Brian Cheyne

Die Indian Scout 60. Foto: Brian Cheyne

Die Indian Scout 60. Foto: Brian Cheyne

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Aai ·

Eendag waneer ek groot is gaan ek ook so fiets koop ! Mooi bly maar mooi

Pietsepan ·

‘n 12,5 liter tenk sonder aanduiding! Nie geskik vir die langpad nie.

anton ·

Wel nie een Amerikaanse fiets oor die algemeen is eintelik geskik vir die lang pad nie. Hulle het darm gedink aan die ryers se niere en tande stopsels wat gaan uitval. :-)
Met die uitsondering van n paar natuurlik.
Jy moet ook net seker maak dat jy die beste oorpluisies gebruik, anders mag jy na n tydperk stok doof raak van die lawaai. :-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.