[Foto’s] Die klein swart nommertjie

Yamaha MT-07 (Foto: Brian Cheyne)

Die meeste vroue het daai een klein swart nommertjie in die kas – daai rok, wat as sy by die vertrek instap, die mans in die middel van ʼn sin laat ophou praat. So ʼn nommertjie is nie soseer oor hoe dit haar laat lyk nie, maar oor hoe dit haar laat voel. Hierdie week het ek so ʼn klein swart nommertjie gery. Die Yamaha MT-07.

Kaalfietse en bromponies is nou baie gewild in Europa, en die Japannese vervaardigers bring die een kaalfiets ná die ander uit. Yamaha het net laas maand ʼn groot bekendstelling in Kaapstad gehad van ʼn bromponie wat dalk nooit Suid-Afrika toe sal kom nie. Ons Suid-Afrikaners soek groot avontuurfietse wat ons kan behang met versierings, dat hy kan lyk soos ʼn Kersboom en so nou en dan ʼn stofpaadjie aandurf. Maar êrens in jou motorhuis moet jy dalk plek maak vir jou klein swart nommertjie.

Yamaha MT-07 (Foto: Brian Cheyne)

Die Yamaha MT-07 is ʼn klein fietsie. Hy weeg in teen ʼn anoreksiese 179  kg met ʼn vol tenk petrol. Die enjin is ʼn 689cc-, tweesilinder-eenheid. Hy lewer 55 kW en 68 Nm wringkrag. Die syfers vertel egter nie die hele storie nie. Daar is drie modelle in die MT-reeks: die MT-07, MT-09, en die MT-10, wat basies ʼn R1 is sonder die bakpanele. Die baba in die reeks is nie ontwerp om die vinnigste of kragtigste te wees nie, maar om opwinding na die tafel te bring. En hier borrel die MT oor van entoesiasme.

Die fiets is bekostigbaar en sal nuwe ryers kan trek na hierdie leefwyse. Die saal lyk of dit gelig is van ʼn superfiets, maar die handvatsels is gemaklik hoog en na die ryer gekantel. Voor jou is ʼn baie klein vloeikristal-instrumentepaneel wat net die basiese dinge bevat: spoed, toere, brandstof en ratposisie. Daar is ander waarskuliggies, maar links bo sit die horlosie. Hou hom maar fyn dop, want jy gaan so lekker ry, jy gaan skoon vergeet van aandete. Windbeskerming is daar glad nie. Die skermpie wat wel daar is, is bloot kosmeties. Die wind raak lastig teen hoë spoed, maar dit is nie eintlik waar die Yamaha uitblink nie.

Yamaha MT-07 (Foto: Brian Cheyne)

Hoewel die MT baie eenvoudig is, het die manne by Yamaha baie aandag gegee aan hoe die enjin reageer en hoe die wringkrag gevoer word na die breë agterwiel. Jy moet maar konserwatief wees met die versneller, want die voorwiel hou skynbaar nie baie van die teerpad nie. Die MT beskik oor dubbele skywe voor en ʼn enkelskyf agter. Hierdie model het ook sluitwering. In die verkeer is die Yamaha ʼn fees. Die kompakte ontwerp maak rigtingverandering onmiddellik en presies. Die 14L-brandstoftenkie gaan jou dalk nie so ver bring nie, maar glo my, jy gaan elke kilometer geniet.

Ek begin deesdae al meer wonder: wat het jy meer nodig? ʼn Kersboom of ʼn klein swart nommertjie? Miskien moet jy maar jou kas gaan herrangskik, dat jy al twee kan hang.

Vir meer inligting, besoek die produkblad.

In ’n neutedop:

Enjingrootte689cc
Aantal silinders2
Maksimum kraglewering55 kw/75 pk
Saalhoogte805 mm
Tenkkapasiteit14L
PrysR114 950

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Basson ·

Stem saam oor die behangsels, vandag is daar twee BMW’s verby my wat mens totaal verblind in helder daglig. Besef die ryers nie dis n groter gevaar om aankomende verkeer SO te verblind dat mens vir ‘n paar oomblikke nie eens die wit lyn kan sien tussen al die kolle? (In woonbuurtes)

Dis soos fietsryers ook, vreeslike ligte van voor maar die gevaar kom moontlik meeste van agter af?

Maar wag, en die dubbelkajuiters met hulle LED ligstawe?

Bling bling bling sonder om verder te dink…

Riaan Burger ·

Hy lyk maar pap in die broek as jy hom vergelyk met Triump se street triple

Brian Cheyne ·

Verseker Riaan, maar glo my, syfers op papier vertel net ‘n klein deel van die verhaal. Die nuwe Triumph Street Triple behoor Mei hier te wees, dan sal ek hom onder hande kry. So hou maar hierdie blad fyn dop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.