[Foto’s] Dié KTM sorg vir onstuitbare avontuur

Die KTM 1290 Superadventure R (Foto: Brian Cheyne)

Die Duitsers is nie ʼn nasie wat bekend is vir ʼn sin vir humor nie. Gelukkig is daar in hul buurland, Oostenryk, manne in oranje jasse wat my so af en toe laat glimlag. Toe ryers gekla het dat KTM 1190 te veel krag het, was KTM se oplossing ʼn grynslag, ʼn groter enjin en nog meer krag! En dié monster se naam? Die KTM 1290 Superadventure R.

KTM het vroeër vanjaar vier nuwe modelle bekend gestel. Dit was die 1090 Adventure, 1090 Adventure R, 1290 Superadventure S en 1290 Superadventure R, SA se 2017- motorfiets van die jaar.  Die R en die S in die name onderskei hul toepassing. Die R-modelle is gemaak vir die stofpaaie, waar die S-modelle meer geskik is vir die teerpad. Laasgenoemde het allooiwiele en is baie meer ontspanne. Met die R-modelle kan jy nie juis ontspan nie. Jy moet behoorlik by wees voor jy op die 1290 R klim. Dit, en jy moet lank wees. Die 1290 is ʼn baie hoë fiets.

Die Superadventure R is aggressief gestileer, en ry op ʼn 21″-voorwiel en 18″-agterwiel. Dis mos hoe ʼn vrotpadfiets toegerus moet wees! Natuurlik is dit speekwiele, en daai speke is so dik soos ouma se breinaalde as sy daai bonkige Kersfees-trui vir jou gebrei het. Hierdie fiets steek nie sy bedoelinge weg nie. Jy weet jy kan hom maar hard ry.

Die KTM 1290 Superadventure R (Foto: Brian Cheyne)

Gepraat van hard ry. Met 160 beduiwelde perde wat wil uit, moes KTM die fiets toegooi met elektronika om mense wie se naam nie Alfie Cox is nie, ook ʼn kans te gee om vorentoe te kan gaan. Ek is oortuig daarvan as jy alles afsit, gaan jy net ondertoe beweeg. Jy gaan ʼn gat grou en net daar bly staan. Daar is egter vier ryprogramme om van te kies. Van hulle sny die krag na 100 perdekrag. Met die grondpad-program word sluitwering op die agterwiel afgesit, maar dit bly aan op die voorwiel. Dit gee jou die opsie om die agterwiel te laat sleep, maar die voorwiel sal nie sluit nie. Die tol- en sluitbeheer neem ook in ag as die fiets in ʼn draai is.

Die Superadventure is toegerus met instrumentasie wat lyk soos ʼn tablet, en vandaar word die fiets beheer met vier knoppies op die linkerhandvatsel. Die verstellings is eindeloos, en jy kan dit selfs paar met jou foon sodat jy ritinligting kan bymekaarmaak. KTM beoog om teen volgende jaar navigasie deel te maak van die instrumentasie. Die skerm is toegerus met Gorilla-glas wat sal verhoed dat hy krap, sou daar grond op hom land. Ek dink egter met hierdie fiets gaan jý die een wees wat die grond rondgooi. Onder die instrumentepaneel is daar ʼn 12V-sok en langsaan ʼn waterdigte houer met USB-sok vir jou foon. Die windskermpie is ook verstelbaar, hoewel nie baie nie.

Die KTM 1290 Superadventure R (Foto: Brian Cheyne)

Die KTM is ergonomies ʼn lekker plek om te wees. Die handvatsels is gemaklik breed, die saal bied genoeg ondersteuning en die voetrusse en rathefboom is verstelbaar.

Versnelling is verbysterend, en die tolbeheer is uitstekend. Die krag word egalig gevoer na die agterwiel met ʼn ketting, so niks van die krag gaan verlore soos met ʼn as nie. Hierdie betrokke model het nog die opsionele “Travel Pack” op gehad ook, wat snelskakeling insluit. Op en af. Dit is een van die beter stelsels wat ek al getoets het, en ratskakeling is glad en moeiteloos. Hierdie pakket sluit ook kleiner liggies in die hooflig in wat aansit in draaie en die kant van die pad verlig. Spoedbeheer is standaard op die Superadventure, wat hom ʼn ware langafstandfiets ook maak.

Die hitte van die enjin is merkbaar in stadsverkeer en KTM het ʼn hittewerende materiaal aangebring onder die saal wat help. Op die oop pad vaar die fiets egter baie goed om die hitte weg te kry van die ryer af.

Die Superadventure R is ʼn fenomenale fiets. Noudat ek hom self gery het, verstaan ek hoekom hy met die louere weggestap het in hierdie jaar se motorfiets van die jaar-kompetisie. Dit maak nie saak hoe jy avontuur definieer nie, hierdie KTM sal aanpas by enige pad.

Vir meer inligting, besoek die produkblad.

In ’n neutedop:

Enjin1301 cc 75° V-Twee
Gewig (Droog)217 kg
Maksimum kraglewering114 kw/160 pk
Saalhoogte89 cm
Tenkkapasiteit23 L
PrysR214 999

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Koos1 ·

‘n Vriend het eenkeer aan my gesê: “Behind each KTM, there must be an ATM”!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.