Foto’s: Die Motorfiets van die Jaar is…

Die Ducati Panigale V4

As die rakke vol Kersversierings raak, en die uitnodigings vir die jaareindfunksies begin, dan is dit ook tyd vir die aankondiging van Pirelli se Motorfiets van die Jaar.

Hierdie jaar se wenner is Donderdagaand tydens ʼn funksie in Johannesburg aangewys. Die 2018 Pirelli Motorfiets van die Jaar is die Ducati Panigale V4.

Hierdie jaar se finaliste het ʼn breë spektrum van fietse verteenwoordig – van die klein BMW G 310 GS tot die yslike Honda Goldwing.

Die 12 finaliste, in alfabetiese volgorde, was:

  • BMW G 310 GS – Hierdie model is vroeër vanjaar aan die pers bekend gestel en het baie beïndruk.
  • BMW K 1600 B – BMW se ‘Bagger’ met ʼn yslike skop.
  • Ducati Multistrada 1260 – ʼn Persoonlike gunsteling van my, nou met ʼn ekstra 60cc se woema.
  • Ducati Panigale V4 – Fantastiese fiets as jy naby ʼn resiesbaan bly.
  • Honda Goldwing – Luukse toerfiets wat vroeër vanjaar by die Bike Festival bekend gestel is.
  • Husqvarna Vitpilen 701 – Groter boetie van die 401 wat ek vroeër dié jaar gery het. Unieke pret.
  • Kawasaki Ninja 400 – Die Ninja 300 het nou gegroei tot 400cc.
  • Kawasaki H2 SX – ʼn Toerweergawe van Kawasaki se monsteragtige H2.
  • Kawasaki Z900RS – Kawasaki se bydrae tot die retro tema.
  • KTM 790 Duke – Dit was my persoonlike keuse.  ʼn Uiters bekwame fiets vir alle toestande.
  • Triumph 765 Street Triple – Miskien ʼn meer sinvolle koop as die Duke, maar glad nie minder bevoeg nie.
  • Triumph Tiger 1200 – Nuut vir 2018 en selfs beter as vantevore.

Johnny Araujo, hoofbestuurder van Ducati Suid Afrika, by die Ducati Panigale V4.

Dit het die taak van die beoordelaars nie makliker gemaak nie. Net soos verlede jaar is die beoordeling gedoen by Gerotek se uitstekende fasiliteite. Dit het die joernaliste kans gegee om net op die fiets te fokus en nie nog te moet uitkyk vir taxi’s en slaggate nie.

Die beoordelaars het nie die fietse direk teen mekaar opgeweeg nie. Elke fiets is afsonderlik beoordeel in die marksegment waar dit meeding. Elke beoordelaar moes toe hulle keuse verfyn na ses fietse, en hulle moes motiveer hoekom hulle die betrokke keuse gemaak het.

Lachlan Harris, hoof van AMID (Association of Motorcycle Importers and Distributors), het voor die aankondiging ook gesê dat of jy nou saamstem met die uitslag of nie, geleenthede soos dié kry mense aan die praat oor motorfietse.

Aan die einde van die dag kon daar egter net een algehele wenner wees. Volgens een van die organiseerders, Mat Durans, is hierdie jaar se wenner met ʼn groot meerderheid aangewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

TRACY ·

ek weet n mens mag nie wens nie. Maar ai Kersvader, ek was baie soet die jaar, mag ekke asb n Honda Goldwing kry , sal ook tevrede wees met n tweede handse een ook. Ek belowe ek sal soeter wees die volgende jaar, en jy hoef ook nie te veel te worry oor volgende jaar se geskenk nie …… Groete Tracy……en as jy vergeet waar ek bly … dit is Meyerton ….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.