[Foto’s] Die Ninja en die kaalnaeler

Die Kawasaki Z650 (Foto: Brian Cheyne)

Die Kawasaki Z650 (Foto: Brian Cheyne)

Elke jaar probeer motorfietsvervaardigers ʼn tikkie nuwigheid bring na hulle modelle. ʼn Vars nuwe strepie, of ʼn stel nuwe plakkers. Kawasaki het egter vir 2017 ʼn string nuwe modelle bekendgestel wat nie net die stileerders besig gehou het nie, maar ook die ingenieurs. Daar is ʼn nuwe 300cc-Versys op pad en ook ʼn nuwe Z900, maar vandag is dit die middelslag-650 wat ons beloer.

Die ER-6-reeks van Kawasaki was vir amper 10 jaar hulle mededinger in die pendelkategorie. Daar was twee variasies. Hulle kaalfiets was die ER-6n, en die ER-6f het vol bakpanele gehad. Vir 2017 is die ER-6n vervang met die Z650 en die ER-6f heet nou Z650 Ninja. Die tweesilinder- enjin is net so oorgedra, maar voldoen nou aan EU4-standaarde. Dit beteken dat ʼn paar minder  perdjies nou diens doen, maar die wringkrag is meer.

Die Ninja-naam is so eie aan Kawasaki soos die lemmetjiegroen verfwerk. Elke stukkie van die nuwe Ninja is verfyn, verbeter of vervang. Daar is ʼn splinternuwe raam en agterste swaaiarm. Selfs die enjin se kantpanele is herontwerp om ʼn kolossale 18 kg-gewigbesparing teweeg te bring. Die agterste skokbreker is nou sentraal gemonteer en dit het die ingenieurs vryheid en ruimte gegee om die uitlaatpyp te herontwerp. Die einddoel was gewigsbesparing en om die swaartepunt van die fiets so laag moontlik te kry.

Die Kawasaki Z650 (Foto: Brian Cheyne)

Die Kawasaki Z650 (Foto: Brian Cheyne)

Stilering trek baie op sy groot boetie, die ZX-10, en die Z650 hoef nie ʼn aks terug te staan in ʼn skoonheidskompetisie nie. Die Ninja is ʼn baie aantreklike fiets, maar die kaalfiets Z650 is na my mening ʼn mooier fiets. Die groen raam laat die fiets sommer meer aggresief lyk. Die verrigting van die twee fietse is identies, so jou keuse gaan maar persoonlike voorkeur wees.

Ongelukkig is hierdie middelklas-sportfiets reeds belas met etikette soos “beginnerfiets” en “pendelfiets”, en hoewel dit seker is wat hy veronderstel is om te wees, lyk hy darem al te atleties vir ʼn pendelfiets.

Die Ninja is klein. Ek is 6 voet 1 duim in die ou taal, en die fiets vou my behoorlik op soos ʼn knipmes, en dit maak die ryposisie regop, dog sportief. Die handvatsels is nie soos op ʼn superfiets laag gemonteer nie en dit maak die ryposisie verbasend gemaklik. Die tenk is gevorm vir jou bene om mooi in te pas. Die windskermpie is klein en in drie posisies verstelbaar. Vir my was die keuse maar op watter deel van my bors ek die wind wou voel. Die instrumentasie is volledig en beskik selfs oor ʼn aanduiding vir ratposisie.

Die enjin bied lekker wringkrag maar die klank wat by die uitlaatpyp uitkom, was amper apologeties. Dit is nie ʼn klank wat jou probeer oortuig dat hy wel ʼn sportfiets is nie. Twee groot skywe voor en een agter sorg vir die stilhouslag; die Nissin-knypers is ook opgegradeer vir hierdie model en beskik oor sluitwering.

In sy pendelrol blink die Ninja ook uit. Die wringkrag maak dit ʼn baie gemaklike fiets om deur die verkeer te vleg. So, as jy op soek is na ʼn pendelfiets wat nie lyk of hy naweke diens doen om pizzas af te lewer nie, maar eerder lyk of hy op ʼn baan hoort, dan kan jy gerus gaan kyk na die Z650-reeks. Of jy die Ninja of die kaelnaler wil besit, sal maar afhang hoe jy van die stilering hou. Een ding is seker: hierdie 650 sal beslis nie teleurstel nie.

Vir meer inligting, besoek die produkblad.

In ’n neutedop

Enjingrootte649cc
Aantal silinders2
Maksimum kraglewering50 kw/68 pk
Saalhoogte79 cm
Tenkkapasiteit15 L
Pryse:

Z650

Z650 Ninja

Z650 Ninja SE

 

R115 995

R125 995

R130 995

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Barnie van Heerden ·

Wel gedaan Brian. Nie net kan ek volg wat jy vertel van die fiets nie (ek weet nie min van motorfietse nie – ek weet minder as NIKS).

Jou foto’s brei uit op jou tekls en jy beeld harde staal uit as ‘n emosie uit en vang die “spirit” van ‘n motorfiets was op so ‘n manier dat jy ‘n lus vir motorfiets in ‘n mens laat kriewel.

Kleinyster ·

Baie goeie motorfietsjoernalistiek.

Dis oor die algemeen jammer dat tweeslagysterperde hul runnik moet inboet agv EU regulasies.

(Hoewel Yamaha met my moedersmelk vermeng is en my verbruikerslojaliteit daar is, het ek groot respek en waardering vir Kawasaki. Uitstekende fietse).

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.