[Foto’s] Dié Porsche is hemel op aarde

Die Porsche 911 Carrera (Foto: Porsche)

Diegene wat brandstof in hul are het, hetsy dit wiele of propellers het – of met petrol, diesel of elektrisiteit werk – het ’n voorkeur… ’n Droommotor. Daai handelsmerk wat die hare in hul nek laat regop staan. Ek praat hier van fabrikate soos Ferrari, Lamborghini, Pagani, Koenigsegg, Bugatti, Maserati en dan natuurlik – Porsche.

Die Italianers is uiters goed met dié droomvoertuie. Ek dink daar is nie ’n mooier motorboot as ’n Riva nie. Dit is ook Italiaans, nes Ferrari, Lamborghini, Pagani en Maserati. Ek let op dat hier ’n patroon is. Die duurste, mees modieuse dinge kan gewoonlik hul wortels iewers in Italië vind. Ek is nie ’n aansiterige mens nie. ’n Graaf is ’n graaf… of hoe?

Dus sukkel ek om met ’n skoon gewete lief te wees vir van die Italiaanse handelsmerke, net omdat dit Italiaans is. Ek hou van ’n meer eerlike benadering. Dit Duitsers is baie ernstige, eerlike mense. Dit is ook amper onmoontlik vir hulle om ’n ding half te doen. Dit is of reg, of verkeerd. Ek hou daarvan. Veral as ek teen 310 km/h in ’n 911 GTS gaan ry. Ek wil weet daar was geen flambojante Italianer naby nie.

Die Porsche 911 Carrera (Foto: Porsche)

Porsche is daai handelsmerk vir my. Hul produkte is ontwerp om elke sent uit die enjin en onderstel te kry. Daar is nie ’n V12 in hul aanbieding nie… maar dit is onnodig. Die 911 is al vir meer as 54 jaar ’n sessilinder-bokserenjin. Hy het wel al gegroei oor die jare, tot 4.0 liter wat nou in die GT3 is, maar net 3.0 in die tweeling-turboaangejaagde 911 GTS.

Ek hoor nou al die mense kerm, 54 jaar en hy is nog dieselfde… Dalk, maar kom ek verduidelik só: Ek het al bitter baie motors bestuur. Daar is geen motor wat ek al bestuur het wat so volmaak voel nie. Daar is meer as 50 jaar se DNS en ontwikkeling in daai onderstel. Ja, die enjins is nou met water verkoel, en die stuurkolom nou elektries, nie hidroulies nie. Daar is agterwiel-stuur. In teorie klink die konsep slim. Teen lae spoed draai die agterwiele in die teenoorgestelde rigting as die voorstes. Dit laat die asafstand nog kleiner voel en die 911 op ’n tiekie parkeer. Teen hoëspoed draai die wiele in dieselfde rigting as die voorstes. Hoe nou? Daar verloor die ingenieurs my heeltemal. Ek verstaan dit nie – maar wat dit op die pad doen, verstaan ek heeltemal. Die standvastigheid wat die 911 om draaie teen hoëspoed bied, is ongelooflik. Mens kan dit nie verduidelik tot iemand dit deur hul sitvlak voel nie.

Die Porsche 911 Carrera (Foto: Porsche)

Die ontwerp van die 911 is vir my baie spesiaal. Ek hou daarvan dat hy oor die dekades stadig verander het tot hoe hy nou lyk. Klein veranderings aan ’n resep wat die perfekte dis bied. In teorie moet die 911 nie werk nie. Wetenskap sê die gewig moet in die middel wees, nie dáár agter waar sy enjin nou wegkruip nie, maar die ingenieurs het dit verfyn tot dit perfek is. Met so ’n kompakte enjin is daar nóg ’n voordeel. Dit neem amper geen spasie nie, en dus is daar plek vir twee klein sitplekkies agter. Hier is dan ’n supermotor waarin my kinders saam met my mag ry. Ek het die kinders skool toe geneem in die 911.

Ek is ’n groot liefhebber van atmosferiese enjins. Die vlymskerp versnellerreaksie wat atmosferiese enjins bied is briljant. Veral as ’n mens om ’n baan ry bied dit ’n bietjie meer beheer as die gewone mik en druk reaksies van die meeste turboaangejaagde enjins. Ek weet nie hoe Porsche dit gedoen het nie… maar die nuwe 3.0 bokserenjin voel atmosferies in sy reaksies, en dan kom die golf wringkrag wat ’n mens net in ’n turboenjin vind. Dit is verslawend. Turboenjins hou gewoonlik nie van baie toere nie. Dis egter nie die geval met die 911 GTS nie. Die sessilinder hol om die toeremeter tot net verby 7 000 r/min. Die simfonie van daai laaste 1 000 omwentelinge laat die hare in my nek regop staan en gee my hele lyf hoendervleis. Dié 3.0 enjin bied 331 kW en 550 Nm. Die wringkrag is beskikbaar tussen 2 150 en 5 000 r/min. 0 – 100 km/h is kinderspeletjies vir dié 911 in 3.7 sekondes. Hy sal sy bene rek tot 310 km/h.

Die Porsche 911 Carrera (Foto: Porsche)

Ek en ’n kollega is vanaf Pretoria Bela-Bela toe met die 911. Die verantwoordelikheid wat met so ’n supermotor kom om nie die 100 km in 20 minute af te lê en dan 10 jaar in die tronk te sit nie, is reusagtig. Ek het maar die spoedbeheer gestel, ander het die polisie my beslis toegesluit. ’n Ander verrassing met die 911 is hoe lig hy is op brandstof as ’n mens net rustig toer. 7 ℓ/100 km is maklik vir dié Porsche teen 130 km/h.

Porsche is die meesters van die dubbel-koppelaar-ratkas. PDK soos hulle dit noem. Die sisteem werk perfek. Ratwisseling is blitsvinnig. In Sport Plus ry-modus is die ratwisseling aggressief. Jy voel hoe skop die 450 perde jou in die rug. Dit is fantasties. Die ritgehalte in die 911 is beslis harder as in die Panamera wat ons reeds getoets het, maar steeds billik. Veral as ’n mens onthou hy ry op 20”-wiele.

In die verkeer kon die Porsche net’n sowel ’n Volla gewees het. Hy is ’n bietjie breër as ’n kewer, maar so mak soos ’n lammetjie indien jy dit nodig het. Dit bring my tot my opsomming. Die Porsche 911 is die mees bruikbare, veelsydige supermotor wat mens vandag kan koop. Ek klassifiseer dit spesifiek as ’n supermotor en nie ’n sportmotor nie. As iemand stry dat hy nie as supermotor geag kan word omdat hy prakties is nie, dan moet hulle maar een van die aansitterige Italianers gaan koop, en ek sal vir minder as die helfte van die geld en twee keer die sitplekke vir hulle wegry.

Die 911 GTS lyk só:

911 GTS PDK331 kW/550 Nm8.3 ℓ/100 km2 jaar onbeperkte km-waarborg

3 jaar/90 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 768 000

Die kompetisie lyk só:

BMW M6 Coupe412 kW/ 680 Nm9.9 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar 100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 902 468
Mercedes-AMG GT Coupe340 kW/ 600 Nm9.3 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

6 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 961 844
Jaguar F-Type R Coupe AWD405 kW/ 680 Nm11.3 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

5 jaar/100 000 km-omvattende instandhoudingsplan

R1 979 186

Ek wil nog die Mercedes-AMG GT ry, maar in hierdie stadium het die 911 my hele hart gesteel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Paul ·

Daar is talle “aansitterige” Italianers naby gewees toe die jongste 911 ontwikkel is. Die motor se ontwikkeling word verfyn by die Nardo-baan in Italië.
Die motor gebruik aansitterige Italiaanse Pirelli bande.
Aansitterige Italiaanse Brembo-remme.

So kan mens aangaan.

Uiters goeie kar, hierdie Porsche, ja. Maar om sommer enigiets wat Italiaans is as “aansitterig” af te maak, is ‘n ou, moeë grappie.

Ek kry ook so bietjie lag vir die “eerlike” Duitsers. Watter motorgroep het onlangs so probleempie gehad met leuens oor dieselenjins? Kriek… kriek… kriek…

Mornay ·

Ai dit bly mooi
Ek wonder of die Zuma seun vir hom een gaan aan skaf

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.