Foto’s: Die Suzuki GSX 250 R ʼn veergewig sportfiets

Die Suzuki GSX 250 R (Foto: Brian Cheyne)

Daar is skielik ʼn oplewing in die mark vir kleinkapasiteit sportfietse. BMW het verlede jaar die G 310 R bekendgestel, en volgende maand kom die G 310 GS. Kawasaki het sy uiters prettige Z300 en die X 300 Versys. Suzuki het sy naam ook in die hoed gegooi by die EICMA-skou verlede jaar met die GSX 250 R. Suzuki het ook ʼn dubbeldoel variant beskikbaargestel, naamlik die DL 250. Hierdie fietsie behoort binnekort op Suid Afrikaanse bodem aan te kom.

Die GSX 250 R is geskoei op Suzuki se vaal GW250, of Inazuma, soos hy bekendgestaan het. Dieselfde 248 cc parallel-twee enjintjie doen diens, so in terme van kraglewering het Suzuki die pot effe mis gesit. Die GSXR lewer so 25 pk. Vergelyk dit met die die BMW 310 se 32 pk en die Kawasaki se 38 pk, dan raak die gebrek aan krag baie duidelik.

Gelukkig het Suzuki die klein 250 geklee in pragtige sportfietslyne. Suzuki het hoeka verlede jaar die 1000 cc GSXR bekendgestel, en hierdie buksie trek baie inspirasie by sy ouboet. Dit is ʼn asemrowende mooi fietsie en het menige toeskouers geflous wat hom groter geskat het as wat op die plakkertjie staan.

Die Suzuki GSX 250 R (Foto: Brian Cheyne)

Die instrumentpaneel is ʼn duidelike swart vloeikristaleenheid met wit letters, en bevat spoed, toere, ratposisie en ʼn horlosie. Suzuki is só trots op hierdie fiets se karige brandstofverbruik dat hy selfs die gemiddelde brandstofverbruik aandui. Daar is ʼn klein windskermpie, maar ek kon nie vinnig genoeg ry om te weet of dit effektief is of nie. Die ratkas kort ʼn bietjie werk, want dit is fisiek nie moontlik om die GSXR oor 140 km/h te kry nie, al weeg jy soveel soos ʼn stokgogga.

Die remme bestaan uit ʼn enkel skyf voor en agter, en ek was aangenaam verras om te sien dat hierdie fiets wel sluitwering het. Dit word deesdae as standaardtoerusting op meeste fietse ingesluit en ek is bly om te sien dit begin in die kleiner fietse ook verskyn. Vir die beginner is dit ʼn groot pluspunt. Jy kan ook die fiets sonder sluitwering bestel, maar die R300 besparing is nie die moeite werd nie.

Die handvatsels is nie so laag soos jy op ʼn sportfiets sal verwag nie, en die sitposisie is nie te onaardig nie.

Die Suzuki GSX 250 R (Foto: Brian Cheyne)

Skakel die GSX aan, en daar is ʼn aangename dreuning so asof die klein fietsie se stem besig is om te breek. Dit is egter as hy beweeg wat die pret begin. Sy 17 duim bande voor en agter en die lang asafstand maak hom effe traag in die draaie. Ek dink egter vir ʼn beginner sal die klein Gixxer baie vertroue inboesem. Daar is genoeg woema om jou weg te kry van die verkeer en jy kan 120 km/h handhaaf sonder moeite.

Suzuki bemark die GSX 250 R as ʼn pendelfietsie, en die kraglewering en wringkrag is die beste so in die middel van die toere. Soveel so dat die fiets maklik versnel, al is jy in sesde rat. Die klein Suzuki se bougehalte en voorkoms is egter wat my die meeste trek. Die GSX 250 R is, in my opinie, die mooiste van die liggewig fietse, en ek sal nie skroom om so fietsie in my garage te los nie.

Vir meer inligting, besoek die produkblad.

In ’n neutedop:

Enjin248 cc parallel twee
Gewig (Nat)181 kg
Maksimum kraglewering25 pk
Saalhoogte79 cm
Tenk kapasiteit15 ℓ
PrysR68 900 (Standaard)

R69 200 (Met ABS)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

anton ·

Met my gewig sal daai fietsie nie vinniger as 90 km/h haal nie. :-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.