[Foto’s] Die Taiwanese pendeltuig

Die Taiwanese SYM MAXSYM 600i ABS (Foto: Brian Cheyne)

Dit is eintlik ’n jammerte dat die Afrikaanse vertaling vir die woord “scooter” “bromponie” is. Die bromponie begin sommer al op die agtervoet met so ’n benaming. En tog, in die Taiwanese stad Kaohsiung ry amper 70% van die inwoners bromponies.

Suid-Afrika het die Gautrein tussen Pretoria en Johannesburg ingestel om te kyk of hulle die las op die N1 kan verlig, maar nie rekening gehou met ons land se mense nie. Ons bly maar geheg aan ons motors. Baie van hierdie pendelaars werk binne ’n paar kilometer van ’n Gautrein-stasie, maar weier volstrek om trein te ry omdat hulle nie onafhanklikheid wil inboet nie.

Ek pendel nou al vir amper drie jaar tussen die Marlboro-stasie en my kantoor. ’n Afstand van 6 km. Daarvoor het ek ’n goedkoop bromponie aangeskaf en binne 18 maande al die koste wat ek aan ’n bussie moes bestee, verhaal. Ja, party dae reën dit, en vir so twee maande van die jaar is dit bitter koud, maar dit alles kan nie afbreuk doen aan die vryheid van beweging wat die bromponie bring nie. Ek kan ry as ek klaar gewerk het; nie as die bussie vertrek nie. En die beste van alles: Ek sit nie op die N1 nie. Bromponies is net so moeitevry! Bromponies hoef ook nie pap in die broek te wees nie. Neem nou maar die Taiwanese SYM MAXSYM 600i ABS.

Die Taiwanese SYM MAXSYM 600i ABS (Foto: Brian Cheyne)

In hierdie prysklas het kopers die keuse van ’n verskeidenheid van baie goeie motorfietse, so die MAXSYM moet regtig iets besonders na die tafel bring om dit ’n aantreklike opsie te maak. As jy opklim, voel jy of jy in jou gunstelingleunstoel gaan sit. Die sitplek is breed met ’n verstelbare rugstut. Die handvatsels voel bietjie na aan my, maar dit is eers as jy beweeg en jou voete voor teen die fiets vasskop dat die posisie sinmaak. Voorlangs is twee klein paneelkissies vir los goedjies en onder is daar ’n sluitbare paneelkissie wat toegerus is met ’n 12v-prop en selfs ’n USB-poort, sodat jy jou foon sommer so in die ry kan laai.

Onder die sitplek is ’n yslike stoorplek – groot genoeg vir twee volgrote pletterpette. En hier is dit waar bromponies veral skitter: Dit is ’n praktiese vervoermiddel, met waterdigte pakplek vir jou kosblik en werktassie. As jy êrens stop, kan jy alles veilig wegsluit en hoef jy nie met jou bonkige motorfietsbaadjie die winkels in te gaan nie.

Die instrumentpaneel is baie elegant en lyk of dit uit ’n luukse motor kom. Remme is ABS-eenhede met dubbelskywe voor en ’n enkelskyfrem agter. Met sy groot kapasiteit enjin trek die SYM maklik onder die verkeer uit en behoort hy jou daaglikse pendelrit baie maklik te maak.

Die Taiwanese SYM MAXSYM 600i ABS (Foto: Brian Cheyne)

Die SYM is in my opinie ’n baie praktiese opsie waarmee ek elke dag sal kan saamleef. Dis kragtig genoeg vir ’n passasier, en het genoeg pakplek vir ’n vinnige naweek weg. My passasier het ook met lof gepraat van die agterste gestoelte(s). Ek kan met redelike sekerheid sê dat ek maklik ’n langer rit ook sal aanpak met die SYM.

Dit is regtig jammer dat daar so ’n stigma kleef aan bromponies, so asof dit net gemaak word vir vroulike studente. Die MAXSYM maak soveel ekonomiese sin. Gaan loer dus maar in by ’n SYM-handelaar en kyk watter een vir jou sal werk.

Vir meer inligting, besoek die produkblad.

In ’n neutedop:

Enjingrootte565 cc
Aantal silinders1
Maksimumkraglewering30 kw / 40 pk
Saalhoogte755 mm
Tenkkapasiteit14.2 L
PrysR89 995

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Marcel ·

Nee wat, vir R90000 koop ek vir my ‘n ordentlike fiets. Jy kan ‘n baie nuwe Honda nc750 koop selfs die DST weergawe wat ook “outomaties” is.

Brian Cheyne ·

Marcel, ek stem. Soos ek genoem het, in daardie prysklas is daar baie goeie motorfietse. Maar sommige mense soek die gemak en die gerief van ‘n bromponie. Honda SA het die die Integra gestaak hier, want die mark vir hierdie Maxi-bromponies is baie klein. Yamaha het selfs so ver gegaan om na hulle “scooters” te verwys as “step-trough motorcycles”. Ek moet erken, daai SYM ry baie lekker.

Fritz mulder ·

Ongelukkig klim ek nie weer vinnig op enige motorfiets na my laaste ongeluk nie. Dit gebeur so vinnig

Brian Cheyne ·

Fritz, jammer om te hoor van jou ongeluk. Gee dit kans. As die petrol in jou are loop, sal jy eendag weer die begeerte kry.

Stan ·

Brian baie dankie vir hierdie inligting! Ek het ‘n SYM vir drie jaar gery toe ek en familie in Taiwan gebly het. Ek en my vrou het die eiland vol gery. Partykeer vir dae op die fietse sonder enige ‘issues’ , (berg op en berg af) en my SYM kon die ergste weer omstandighede weerstaan. Gaan weer vir my ‘n SYM koop, die keer dalk ‘n MaxSYM600i.

Brian Cheyne ·

Dankie Stan. Ja, die kwaliteit van die SYM is ver verwyder van die Chinese pogings.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.