Foto’s: Dit sou Henry Ford se dag gemaak het

Van die ou motors wat Dinsdag aan die Veteraan- en Noagtoer in George deelneem
Foto: Eugene Gunning

As Henry Ford Dinsdag in George was, sou hy breëbors rondgeloop het, want in ’n parkeerterrein by ʼn winkelsentrum was 38 ou Ford-motors. Een van die oudstes is ʼn model 1908 S Ford en die nuutste ʼn model A Ford wat dateer uit 1930.

Die 38 ou Fords was onder 52 voertuie wat saamgetrek het vir die Veteraan-en Noagtoer in die Suid-Kaap en Klein Karoo wat Vrydag in George tot ʼn einde kom. Dit is die 35ste keer wat dié toer plaasvind.

Kort voor die aanvang van die toer was die parkeerterrein ʼn miernes van bedrywighede. Hier en daar het voertuig-eienaars vir oulaas nog onder hul motors ingekruip en verstellings aangebring. Opgewonde leerlinge van ʼn privaat skool, Glenwood House, het ook die geleentheid gekry om saam met voertuig-eienaars ʼn vinnige draai te ry.

Deelnemers het Dinsdag kort ná 10:00 weggespring en oor die Robinsonpas naby Mosselbaai tot in Oudtshoorn gery. Woensdag en Donderdag is hulle in die omliggende gebiede en Vrydag keer hulle terug na George.

Hulle sal die laaste deel in ʼn konvooi tot by die PW Botha-kollege ry. Die toer val saam met die jaarlikse George Oumotorskou wat Saterdag en Sondag op die terrein van die PW Botha-kollege plaasvind. Dit is die 22ste keer wat die skou gehou word. Honderde spoedvrate van reg oor die land woon gewoonlik die skou by.

Deelnemers aan vanjaar se Veteraan- en Noagtoer kom van oor Suid-Afrika en daar is vanjaar selfs ʼn egpaar van Baxter, Ontario in Kanada – Eric en Linda Edwards. Dit is die eerste keer dat hulle aan die toer deelneem en durf dit aan in ʼn 1916 Ford Model T. Hulle leen die voertuig by ʼn egpaar van Milnerton naby Kaapstad. Die Edwards-egpaar kon nie uitgepraat raak oor die vriendelike en gasvrye mense in Suid-Afrika nie.

Linda het vertel sy sien baie uit na die toer. Volgens Eric het hulle en hul seun self ʼn versameling veteraan-motors in Kanada – waarvan 12 motors dateer uit 1904 tot 1921. Hy het gesê die stokperdjie is wêreldwyd ʼn passie vir mense.

Een van die oudste voertuie wat deelneem, ‘n 1908 S Ford Foto: Eugene Gunning

Phillip Rosser, een van die organiseerders, het gesê Henry Ford glimlag vandag (Dinsdag) breed. Hy neem self deel in sy 1926 model T Ford. Hy het dit in 2006 gekoop en gerestoureer. In 2008 was dit weer padwaardig. Volgens hom sal al die motors die naweek by die motorskou te sien wees. “Ons hoop hulle haal dit almal!”

Die motors is almal in privaat besit en die waarde beloop “miljoene rand”.

Volgens Rosser is dit moeilik om onderdele vir die motors te kry en dit in stand te hou. Vir sommige van die model T Ford-motors word onderdele hervervaardig en dit kan ingevoer word. Die wisselkoers maak dit egter duur.

Een van die motors wat vanjaar deelneem, die 1907 Nordenfeldt, is die enigste een van sy soort wat oor is in die wêreld.

Op die vraag waarom mense aan die toer deelneem, het Rosser gesê: “Dit is ʼn siekte wat in ʼn passie ontaard.” Toe ʼn vriend hom ʼn paar gelede daaraan bekend gestel het, het hy dadelik belang gestel. “Die ratte is alles in die pedale.”

Gewoonlik ry hulle teen ʼn spoed van tussen 50 en 55 km/h. “Jy kan bietjie vinniger ry,” verduidelik hy.

Natuurlik trek die motors aandag en die publiek is gewoonlik baie tegemoetkomend. As hulle teen bergpasse uitry, is dit teen sowat 20 km/h. Dit beteken dat ander voertuie agter hulle ophoop. Wanneer mense hulle verbysteek, beduie hulle dan gewoonlik met die duim op. “Hulle druk jou nie van die pas af nie.”

Rosser sê die meeste van die Fords al meer as 100 jaar oud en hulle loop nog steeds.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wim Kotze ·

Nee, Henry Ford sou heelmoontlik onsteld gewees het met die bontspul. Hy het gesê jy kan sy Fords in enige kleur koop, solank dit swart is.

WIEBO ·

Ongelooflik dat die ou Fords nog ry. My 2006 Ford staan meer as wat hy loop. Probleme orals. As my Ford nie olie lek nie, dan is hy stukkend!

Koos ·

Elke keer as ‘n Ford se enjin vasbrand draai Henry Ford in sy graf om. Op hierdie einste oomblik doen hy so 3000 r.p.m. !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.