[Foto’s] Ducati se modelle vir 2018

Die Ducati Panigale V4 S (Foto: Ducati)

As jy ʼn motorfietsgeesdriftige is, word jou Kerskatalogus saamgestel in die eerste week van November. Dit is wanneer motorfietsvervaardigers, ná maande se geheimhouding, hulle nuwe modelle aan die wêreld bekendstel by EICMA* in Milan. BMW het ons al geterg met iets wat lyk soos ʼn nuwe 850GS. Hierdie fiets gaan meeding met Honda se Africa Twin, en die Multistrada 950 van Ducati.

Gepraat van Ducati. Ducati was eerste met ʼngroot aankondiging: Die lankverwagte Ducati Panigale V4 het die lig gesien. Hierdie is die eerste produksie Ducati met ʼn 4-silinder enjin. Ducati en die V2 was nog altyd sinoniem, maar nou begin ʼn nuwe hoofstuk in die Ducati-storie. Die enjin ontwikkel 214 pk en die krag-tot-gewig-verhouding is presies 1:1, wat seker die naaste is wat die man op straat aan MotoGP-verrigting gaan kom. As jou Kerskous dit toelaat is daar nog ʼn S-weergawe ook met  Öhlins-vering en ʼn paar ander spesiale ekstras.  Met die gewig van die nuwe V4-enjin moes die raam noodgedwonge verander word, maar kon hulle die gewig steeds laag hou. Drink maar jou bloeddrukpilletjie voor jy na die prentjies kyk. Dit is ʼn bitterlike mooi skepping.

Die 959 Panigale is opgekikker en is beskikbaar in ʼn spesiale kleurskema wat bekend staan as Ducati Corse. Dit gaan seker nie lank duur voor die V4-enjin in ʼn kleiner kapasiteit beskikbaar gaan wees nie, so die 959 se dae is dalk ook getel.

Die Ducati Panigale V4 S (Foto: Ducati)

Om een of ander rede het Ducati gedink dat die 1200 Multistrada nog krag kort. Sy enjin het gegroei tot 1260 cc, en as die huidige Multistrada my al so beïndruk het, wil ek nie weet wat gaan hierdie monster doen nie. Hy beskik ook oor ʼn nuwe raam en klein kosmetiese veranderinge. Die elektronika moes ook bygewerk word om die kraglewering te beheer.

Ek het al die klein Ducati Scrambler ook gery, en hierdie fietsie is beskikbaar met ʼn 400 cc of 800 cc-enjin. Nou het Ducati ʼn 1100 cc-enjin in daai raam ingedruk. ʼn Koevoet was seker ingespan, want ek weet wraggies nie hoe anders nie. Ek kan nie wag om te voel hoe Ducati al daardie krag in toom gaan hou in so ʼn klein raampie nie. Dit behoort ʼn Kerskous vol pret te wees.

Ek sien uit baie na 2018. Ek het nog nie eers al 2017 se nuwe fietse kon ry nie, en 2018 is om die draai. Daar is ʼn paar belangrike aankondigings wat nog kom. Ek gaan solank kyk hoeveel Kerskouse ek kan ophang.

*Esposizione Internazionale Ciclo e Motociclo e Accessori

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.