[Foto’s] Ducati stel nuwe fietse bekend

MultiStrada 1200 Enduro (Foto: Ducati)

As jou uitnodiging sê jy moet deftig aantrek na ʼn bekendstelling van motorfietse, dan moet jy weet hier kom ʼn ding. Ducati se bekendstelling het Maandagaand by Kyalami plaasgevind op dieselfde plek waar hulle komende naweek gedurende die Bike Festival gaan uitstal.

Johnny Araujo, algemene bestuurder van Ducati, moet seker ʼn baie gelukkige man wees. Nie net het Ducati agt nuwe modelle bekend gestel nie, die goed lyk nog so goed ook! Verskeie joernaliste het deur die loop van die jaar die onderskeie wêreldbekendstellings bygewoon en op die aand vir ons meer vertel van hul ervarings.

Ducati Multistrada 1200 Enduro – R244 000
Duidelik bedoel vir avontuur, kom die Enduro met speekwiele en ʼn 19 duim-voorwiel, reg vir enige terrein.

Ducati Supersport – R191 000
Ek is baie opgewonde oor hierdie fiets. Ek wou nog altyd ʼn Panigale ry, maar ek en superfietse het maar ’n geskiedenis. Die Supersport is egter anders. Dit lyk soos ʼn Panigale, maar die enjin het gekrimp tot 937cc, en die ryposisie is meer regop. Dit maak die fiets baie meer gebruikersvriendelik. Daar is ook verskillende toerustingsvlakke sodat jy die fiets na jou behoeftes kan skoei.

Ducati Multistrada 950 – R180 000

Nog een waaroor ek baie opgewonde is, is die nuwe 950 Multistrada. Ongetwyfeld Multistrada, net kleiner. Met dieselfde enjin as die Supersport is hierdie fiets baie meer vrotpadgerig. Dit is duidelik vanweë sy 19 duim-voorwiel. Ek sal hierdie fiets verkies bo die groter dubbeldoelfietse, bloot omdat hy kleiner en dus ligter is.

Ducati Monster 1200 S – R218 000
Die evolusie duur voort en die Monster lyk reg vir enige kronkelpad. Die Monster is ontwerp om ‘n alledaagse gebruiksfiets te kan wees, maar staan nie ‘n aks terug wat verrigting betref nie.

Ducati Monster 767 – R131 000
Weereens die kleiner weergawe van ’n bestaande fiets. Hierdie Monster neem die 803cc-enjin wat in die Scrambler diens doen en draai hom toe in die ikoniese Monster-drag. Teen dié prys vereis hy ‘n tweede kykie.

Ducati Scrambler Desert Sled en Ducati Café Racer – Vanaf R164 000
Beide hierdie fietse is variasies op die gewilde Scrambler-tema. Klein rondritsbuksies om die glimlag groot te hou en die pretfaktor nog hoër!

Ducati Diavel DIESEL
Ja toemaar, ek het ook gefrons toe ek hoor Ducati bring ʼn dieselmodel uit, maar dis die modehuis, DIESEL, en nie Sasol 50ppm nie. ʼn Baie beperkte voorraad van hierdie fietse sal beskikbaar wees, so as uniek genommerde versamelstukke jou ding is, dan is die DIESEL net vir jou.

Ducati is slaggereed vir die jaar en daar behoort ʼn fiets vir enige smaak te wees. Boonop is die Ducati 1299 Superleggera op pad na Suid-Afrika toe. Hierdie fiets is volop koolvesel-onderdele, so as jy so R1.25 miljoen het wat jou pla, is daar een beskikbaar. Ewald Botha, verkoopsbestuurder by Ducati, wag vir jou oproep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Brian Cheyne ·

Andre, hierdie fiets bestaan feitlik heeltemal uit ‘carbon fibre’. Daar is net 500 gemaak. 6 van hulle is bestel vir SA. Daar was een kansellasie, maar die ander 5 het reeds base. BMW het ‘n soortgelyke oefening gedoen met die HP4 Race. Ek het nie eers ‘n prys op daai een nie.

Paul ·

Dit is inderdaad “effens belaglik”, maar jy hoef dit nie te koop nie.

Hulle sal ongetwyfeld huise kry.

Voorlaaier ·

Jy koop die fiets uit en uit as i belegging.. Bere hom in jou sitkamer..gooi hom toe met i doek en los hom vir i klompie jare…Dan adverteer jy hom in Europa en siedaar!!…Al jou geld plus i paar honderd duisend extra terug!!

Paul ·

Hoe gaan jy ‘n regerhandstuurmodel motorfiets in Europa se linkerhandstuurmark verkoop kry?

Marcel ·

Daai 950 Multistrada dink ek gaan 1 van die beste fietse op die pad wees. Perfekte grootte volgens my, die 800 GS BMW is net te klein en die 1200 is vir my weer net te groot. Bietjie duur teen R180000 maar as jy na die kompetisie kyk is hy maar in daardie prysklas. Wag ‘n jaar of 2 en tel ‘n mooi gebruikte een op vir R100000

Hendrik van George ·

BMW bring een van die dae die 850 of dalk 900 GS uit. Wag ook vir daai een….

Zuquina ·

Ek gaan nou ‘n tipiese vroue-aanmerking maak: “Ek like die kleure” :-)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.