Foto’s en video: 4×4 ATV Klub Rust de Winter-jamboree

Foto: Verskaf

Ek is onlangs deur Toyota Suid-Afrika genooi om aan die 4×4-jamboree deel te neem. Ek het al gehoor van dié storie by Rust de Winter, maar niks kon my voorberei op dít wat vir my en my gesin voorgelê het nie.

Die formaat is eenvoudig. Vrydag daag almal op en skryf in. Elkeen se voertuig moet ʼn voorwedren-voertuigondersoek voltooi. Saterdag oggend skop die gimkana-gedeelte van die naweek af, met tien hindernisse gebou deur die manne van die 4×4 ATV-klub. As ek moet skat, sal ek al die hindernisse hoër as 4 gradeer.

Foto: Verskaf

Ek en die mense wat Toyota verteenwoordig het sommer vinnig besluit om nie die eerste hindernis aan te durf nie. ʼn Modderbad so 150 m lank, om ʼn draai. Kyk – vroegoggend is ʼn Jeep met 50”-wiele skaars 10 m in die plas toe sak hy weg tot teen sy asse. Die trekker het behoorlik gebrul om hom daar uit te sleep.

Die res van die hindernisse het my heeltemal standaard Toyota Prado met trots aangedurf. Ek was skepties, maar sjoe – die Prado het homself regtig puik gedra.

Foto: Verskaf

As ek sê die Prado is standaard, bedoel ek soos die dag toe hy die fabriek verlaat het. Bridgestone Dueler-bande – 1,7 bar gepomp en daar was net een hindernis wat my baasgeraak het, seker omdat ek te jammer was vir die voertuig en nie uit die rivier uit my voet in die mat wou begrawe om die modderwal uit te klim nie. Ons was twee Prado’s, twee Fortuner 2.4 4×4 outo’s en twee 2.8 Hilux 4×4 handratte. Die twee Fortuners het die modderwal baasgeraak – maar die manne was redelik aggressief om daar op te kom.

Sondag was dit die bergroete se beurt. ʼn Hele paar kilometer, oor berge en deur dale, bosse en kliprante. Ek het iewers op dié roete die vergaarbakplaat beskadig – maar dis seker waarvoor hy daar is. Ons het by ʼn spesifieke hindernis gekom waar ʼn mens sulke vreeslike klip trappe moes afklim. Ek het gekyk en vir my vrou gesê – nee wat Bokkie, hier gaan ons dit nie maak nie. Vyf minute later het die Prado my wraggies verkeerd bewys.

Foto: Verskaf

Wat ek hier probeer sê is, as mens regtig wil 4×4 kan jy dit doen, met ʼn standaard Toyota van die rak af. As jy dan soos ʼn mal ding ry sal jy seker jou voertuig beskadig, maar dis jou skuld, nie die voertuig sʼn nie. Vreeslike ombouings en goed wat aangebring word, is na my mening omdat mense dit wil doen, nie omdat dit regtig nodig is nie. Selfs die bande … die Bridgestone Duelers waarmee die Prado uitkom het nêrens vasgesit nie. Tussen die agt voertuie wat oor die naweek betrokke was, het ons slegs een pap wiel gekry … ek dink dis knap gedaan.

Of jy nou ʼn 4×4-leek of ʼn -foendi is – kom gerus volgende jaar na die Rust de Winter 4×4-jamboree, die byeenkoms is puik georganiseer, die reëls is streng en almal is veilig. Ek sien julle beslis volgende jaar daar!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.