Foto’s: Enkele hoogtepunte uit die Frankfurt-motorskou

Porsche Spyder 918 Foto: Bernard K Hellberg

Porsche Spyder 918 Foto: Bernard K Hellberg

Daar is geen twyfel nie dat vanjaar se 65e IAA (Internationale Automobilausstellung) motorskou in Frankfurt veral onthou sal word vir die bekendstelling van die sensasionele Porsche 918 Spyder.

Hierdie tegnologies gevorderde meesterstuk is slegs die superrykes beskore teen ‘n aangeduide €866 000 oftewel R11,69 milj in Boere-monopoly.

Die 918 Spyder met sy meerdere kragbronne wat onder meer insluit ‘n 4.6-liter V8 met direkte inspuiting – en wat die agterwiele aandryf – word goed gesteun deur twee elektriese motors wat die voorwiele aandryf. Saam ontwikkel hierdie eenhede 652 kW en word die 0-100 km/h versneltoets in 2.8 sekondes afgeblits. Die vervaardigers maak ook daarop aanspraak dat brandstofverbruik – wanneer daar nie teen 300 km/h voortgesnel word nie – ‘n ewe verstommende 3.4 liter/100 km is.

Moeilik om te glo, maar nouja, wie’s ons om met die witjasse van Stuttgart/Weissach te stry.

Van hierdie gespierde wonderwiele na iets heel rustigers.

Hyundai het die aand voor die skou die Suid-Afrikaanse mediagroep by sy Europese hoofkantoor in Offenbach getrakteer met die bekendstelling van die volgende geslag i10. Daar is egter sprake dat hierdie oulike nuweling in ons land as die ‘Grand” i10 bemark gaan word en dat die bestaande i10 die Hyundai-groep se intreevlak waarde-vir-geld-model gaan word. (Ek hoop om binnekort vir ons lesers meer breedvoerig hieroor te berig).

Intussen het Lexus, Toyota se luukse afdeling, ook vir opspraak gesorg met die LF-NX-konsep sportnutsvoertuig. Stileringsoordadigheid was nog altyd deel van die konsep-wêreld, maar hierdie Lexus se neus kan kinders nagmerries gee. Lyne is vlymskerp en hoekig en dit sal interessant wees om te sien hoe die eindproduk gaan lyk.

Nog ‘n Suid-Afrikaanse gunsteling, Kia, het ‘n verskeidenheid modelle aan die wêreldmedia voorgehou. Daar is hard prober om die Kia Soul meer aantreklik te maak en die resultaat is ‘n nuwe model wat òf die modepas in jou voorstad sal aangee – of wat jy liefs in ‘n ander voorstad sal parkeer sodat die mense nie moet sien waarmee jy ry nie. In hierdie opsig is my huis ook verdeel want ek is dol oor die Soul – ‘n mening wat geensins gedeel word nie.

Ander Kia-modelle wat die oog gevang het wat die opgekikkerde Optima en die Niro-konsep met sy gevleuelde oplig-deure. Of hy ooit hier gaan aanland is ‘n geval van sien is glo.

Honda, nog ‘n groot Suid-Afrikaanse gunsteling, het die stasiewa – oftewel Sportswagon – met die grootste bagasieruimte bekend gestel. Met plek vir 624 liters bagasie is daar genoeg plek vir man, vrou, twee kinders, hond, tasse en bergfietse. Die triek gaan egter wees om Suid-Afrikaners te oorreed dat hierdie bakvorm eintlik Die Antwoord is.

Trouens wanneer ‘n mens op Duitse Autobahs bestuur is dit meermale blitsige swart stasiewaens deur Mercedes-Benz, Audi, BMW en selfs Skoda (‘n Volkswagen wat Tsjeggies praat) wat teen minstens 200 km/h verbyflits.

Suid-Afrikaanse liefhebbers van eksklusiewe gehaltemotors kan dalk ook begin lippe aflek vir Honda se NSX tweesitplekker. Daar word gehoop dat hierdie motor – sou dit hierheen kom – beter sal vaar as die briljante S2000 wat net te duur vir die Suid-Afrikaanse mark geword het.

Onder die wakended oog van Associated Motor Holdings vaar Mitsubishi deesdae ook heel goed hier te lande en het die maatskappy by Frankfurt die wenkbroue laar lig met die wêreld se eerste 4×4 inprop hibriede motor.

Hierdie Outlander PHEV (plug-in hybrid electric vehicle) kan op batterykrag alleen 52 kilometers ver ry, maar sover as 800 km wanneer alle stelsels in gebruik is. (Die grootte van die konvensionele enjin is nie aangegee nie, maar dalk kan lesers hier ‘n bietjie uithelp).

Twee Li-Ion-batterye – elk met 80 selle – kan ten volle binne 5 ure op die gewone huishoudelik 230V-stelsel herlaai word. Die batterye word vir 5 jaar of 100 000 kilometers gewaarborg.

Die vervaardigers van die gewildste motor (30 miljoen) in die geskiedenis – die Volkswagen Golf – het die media ook aan die praat gehad met die beskendstelling van sy e-Golf. Hierdie ten volle elektriese voertuig se verbruik word gemeet as 12.7 kWh/100 km wat neerkom (in Duitsland) op R42-64 per 100 km. Daar is egter heelwat motors (diesel) in Suid-Afrika wat gemaklik 6l/100 km verbruik, en selfs teen R13/liter – dus R78 – sal die ontwikkelaars van inprop elektriese motors nog ‘n bietjie meer huiswerk moet doen – veral gedagtig aan die aanvanklike hoë koopprys van hierdie spesialis voertuie.

(Klik hier vir meer inligting oor die Duitse Autobahn-stelsel. Ek vertel binnekort meer oor die verkeer in Duitsland in die algemeen en die gepaste gebruik van snelperke).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.