[Foto’s] Gemakstoel met ʼn skop

Die Harley Davidson Street Glide (Foto: Brian Cheyne)

Harley Davidson. Hoef ek verder te praat? Sulke ikoniese name en gevestigde handelsmerke is maar dun gesaai. En tog, ʼn fiets wat my nog nooit getrek het nie. Die Harley Davidson Street Glide het egter ʼn hele ent gegaan om my misvatting oor Harleys te weerlê.

Ek kry so ’n week of wat gelede ʼn e-pos wat my na Africa Bike Week in Oos-Londen nooi. Daarmee saam,  ʼn uitnodiging om ʼn Harley terug te ry Pretoria toe. Ek was onder die indruk Harleys is stadig, swaar en jou stopsels skud los na ‘n paar kilometer, maar die blote gedagte aan die oop pad het my dadelik laat ja sê. Saterdag kry ek ‘n boodskap van Aidan Johnson, bemarkingsbestuurder van Harley, dat my Harley daar is waarmee ek die Sondag terugry. ‘n 2017 Street Glide in dof-swart.

Harley Davidson het laasjaar ‘n nuwe enjin bekend gestel, die Milwaukee Eight. Dit was groot nuus in Harley-land en  die manne wat weet praat mooi dinge van die nuwe enjin. Ek het nog net ‘n 883 Sportster en ‘n Lowrider S gery, en ek moet erken, selfs ek kon die verskil dadelik agterkom. Die vibrasie is beslis minder, maar die unieke Harley-klank het nie in die slag gebly nie. Dan is daar die wringkrag. As jou trekker breek, gaan haal maar jou Street Glide, hy sal kan help.

Die Harley Davidson Street Glide (Foto: Brian Cheyne)

Sondagoggend voor sonop het ek die twee kanttasse gepak. Hulle is redelik ruim, en die ontwerp integreer mooi met die lyne van die fiets. ‘n Eenvoudige knipmeganisme maak hulle oop, en die tasse is sluitbaar. Ek kry my sit op die breë saal, en toe ek die Harley regop tel, voel ek die 376kg gewig. En toe druk ek die aansitter. Die 1745cc-enjin draai moeilik, maar as hy lewe kry, luier hy rustig sy Harley-melodie.

Ek trap eerste rat raak, en sit my linkervoet op die voetplaat neer. Die Harley skud ongeduldig sy vere reg en ek neem my eerste tentatiewe tree in ‘n nuwe ervaring in. Oos-Londen se strate is gou agter my en ek en die Glide ry tot die dag breek. Nou weet ek ook waar Harley aan die naam kom, want hierdie fiets gly oor die landskap. Nou verstaan ek die gewig. Die pad ontsenu nie dié fiets nie. En moenie dink dis ‘n slakkepas nie. Hierdie Street Glide kan ver oor die spoedgrens ry sonder om eens te sweet. Dinge begin vir my sin maak.

Die Harley Davidson Street Glide (Foto: Brian Cheyne)

Voor jou is daar ‘n analoogpetrolnaald, -spoedmeter, -toereteller en -voltmeter. Onder dit sit ‘n elektroniese eenheid wat ‘n GPS en radio bevat. Daar is selfs ‘n USB-sok waar jy jou eie musiek kan inprop. Alles speel deur luidsprekers wat in die stroomlynkap ingebou is. Die stelsel het ‘n raakskerm, maar kan ook van die handvatsels af beheer word en was verbasend maklik om baas te raak. Die fiets het spoedbeheer wat ongelooflik goed gewerk het. Met soveel wringkrag kon die fiets maklik die gekose spoed in 6de rat hou.

Een ding wat niemand jou egter in enige brosjure kan verduidelik nie, is die gevoel van “behoort”. Die Harley-gemeenskap is soos ‘n groot familie en oral waar ek stop, kom mense en beloer die fiets. As ek môre na my suster toe moet ry op Swakopmund, sal ek nie omgee as ek dit op ‘n Street Glide kan doen nie. Ek ry dalk net Kaapstad om.

Vir meer inligting, besoek die produkblad.

In ’n neutedop:

Enjingrootte1745 cc
Aantal silinders2
Maksimum kragleweringHarley praat nie hieroor nie.
Saalhoogte65.5 cm
Tenk kapasiteit22.7 L
PrysVanaf R335 800

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.