[Foto’s] Harley-Davidson se Big Twin Revolution op pad

Harley-Davidson se Big Twin Revolution op pad (Foto: Harley-Davidson)

As James Dean vandag nog geleef het, sou hy vandag 86 jaar oud gewees het. In sy jeug het Dean ’n Harley-Davidson gery. Dit was wat die jongmense van daardie tyd gery het. Vandag sukkel Harley egter om die jonger geslag oor te bring na hul handelsmerk.

Dis ’n moeilike stryd. Die hart van Harley se klantebasis is die James Deans – mense wat nou meestal te oud is om motorfiets te ry. Harley se grootste probleem is egter juis hul identiteit. Enige iets anders as die V2-enjin sal eenvoudig net nie as ʼn Harley-Davidson gesien word nie. Harley het nog altyd geglo dat die sleutel tot sukses hul ikoniese enjin en ontwerp is, en dat jy nie daaraan karring nie. Is dit nie juis dít wat Harley nou in die hakskeen byt nie?

Harley-Davidson se Big Twin Revolution op pad (Foto: Harley-Davidson)

Radikale ingryping was nodig om Harley-Davidson weer op die regte spoor te bring, en hulle vier hul 115de bestaansjaar met agt splinternuwe Softail-modelle. Die hart van die Harley, naamlik daardie yslike 45 grade V2-enjin, het laasjaar vier kleppe per silinder bygekry, en loop heelwat gladder as sy voorganger. Die enjin staan bekend as die Milwaukee-Eight. Die grootste projekspan in die maatskappy se geskiedenis was getaak om hierdie nuwe enjins in die ikoniese Harley-Davidson-ontwerp in te bou. Paul James, Harley-Davidson se portefeuljebestuurder, som dit so op: “Nuwe raam, nuwe vering, nuwe metaal. Nuwe alles, regtig.”

Ná amper 25 jaar se diens val die Harley-Davidson Dyna-reeks nou weg, en die uitgebreide Softail-reeks sal nou daardie rol vervul. Ek het al die ou Dyna gery, en daarna die Street Glide met die nuwe Milwaukee-Eight-enjin, en die verskil in verrigting was soos dag en nag.

Harley-Davidson se Big Twin Revolution op pad (Foto: Harley-Davidson)

Nou het Harley-Davidson nog ’n trappie verder gegaan met ’n nuwe raam en nuwe vering. Die raam het nou ’n enkel-skokbreker agter, en is ligter en fermer as die vorige raam, maar behou die Harley-Davidson-lyne. Die voordele van die nuwe raam sluit in: groter leunhoeke, vinniger reaksie en beter versnelling. Die hele reeks het groot gewigbesparings danksy die nuwe ontwerp, en dit is goeie nuus vir enige motorfiets.

Die nuwe modelle is: Fat Boy, Heritage Classic, Low Rider, Softail Slim, Deluxe, Breakout, Fat Bob en Street Bob. Elke model is ’n egte Harley wat stilering betref, maar elkeen uniek herkenbaar. Nie net is daar ’n Milwaukee-Eight 107-enjin nie, maar ook ’n 114. Hierdie syfers verwys na die verplasing in kubieke duim. 114 kubieke duim skakel om na 1868 cc!

Ek gaan later in September vier van hierdie modelle by die internasionale bekendstelling ry en sal dan meer volledig kan verslag doen oor hoe hulle ry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Willem vd Merwe ·

Daar is geen twyfel oor nie, ‘n Harley bly uniek en besonders. Wat my betref is die produk se enigste probleem sy bekostigbaarheid. Die pryse is oorboord.

anton ·

Ek glo natuurlik jy hou van n Harley of jy hou nie daarvan!
Ek persoonlik kon nog nooit n vat in die fietse gekry het nie.
En kan hulle nie die fietse bietjie stiller maak nie? Daai lawaai is genoeg om die dooies wakkker te maak.
Ja en die prys is belaglik veral vir wat jy kry.
Gee my maar n Duitse fiets en ek’s so happy soos n vark in Palistina. :-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.