[Foto’s] Harley se veelsydige Milwaukee-yster

Die Sport Glide. Foto: Harley-Davidson

Harley-Davidson laat beslis nie gras onder hulle voete groei nie. Dié tyd van die jaar wanneer almal afskeidsgesellighede beplan en Nuwejaarsvoornemens begin oorweeg, het Harley-Davidson nog ʼn nuwe model bekendgestel: die Sport Glide.

Harley-Davidson het onlangs agt Softail-modelle bekendgestel en die Sport Glide is nou nommer nege. Dié nuwe fiets deel die raam van die nuwe Softail-reeks, maar sy voorkoms is soos dié van hul toerfietse.

Die uitgangspunt van die Sport Glide is om vele rolle ewe maklik te kan vervul. Kompak genoeg om as daaglikse pendelfiets te gebruik, dog veelsydig genoeg sodat jy jou naweektassie kan pak en daarmee kan verdwyn.

Die Sport Glide. Foto: Harley-Davidson

As jy oplet na die allooi vellings se speke gee dit die indruk dat die fiets beweeg net daar waar hy staan. Dit word verder beklemtoon deur die vorm van die windskerm en kantsakke. Selfs die skuins afwerking van die uitlaatpyp dra by tot die effek.

Die Sport Glide beskik oor kantsakke en ʼn windskerm. Die windskerm is gestileer soos dié van die Street Glide. Die kantsakke is sluitbaar en kan met een hand oopgemaak word deur die ryer terwyl hy nog op die fiets sit. Die tasse kan ook maklik verwyder word en die hegpunte is feitlik onsigbaar op die raam. Saam bied die sakke pakplek van sowat 25 ℓ. Die windskerm verwyder net so maklik en sou jy effe langer wees as die gewone mens, is daar ʼn hoër skerm ook beskikbaar. As jy dus die lang pad vat, het jy bagasie én windbeskerming. Jy kan ook alles afhaal en met ʼn skoon Sport Glide êrens ʼn koffietjie gaan geniet. Harley Davidson het ʼn groot katalogus beskikbaar waaruit jy jou Sport Glide kan pasmaak om by jou behoeftes te pas.

Die Sport Glide. Foto: Harley-Davidson

Die saal is laag en breed en is ʼn skamele 65 cm van die grond af. Die voetruste is vorentoe gemonteer om jou ʼn gemaklike ryposisie te waarborg. Spoedbeheer en sluitwering is standaard en die hele Softail-reeks het ook ʼn USB-sok in die nek van die raam.

Die Softail-modelle ry nou op ʼn enkele verstelbare skokbreker agter. Die voorvurke is onderstebo monteer wat help met die fermheid van die vering.

Die enjin is onmiskenbaar ʼn Harley-Davidson. Die Milwaukee Eight 107 bring ʼn emmer vol wringkrag na die Sport Glide. Hoewel Harley-Davidson nie bekend is daarvoor dat hulle kragleweringsyfer hulle enjins bekend gemaak het nie, is die wringkrag genoeg om ʼn ryer en sy passasier met gemak rond te dra. Toegerus met twee teenwigte, is die enjin glad as hy luier, maar op hoër spoed kom daar tog nog ʼn stukkie Harley-karakter by die ryer uit.

Die Sport Glide is dus meer as een fiets, stylvol verpak in meer as 100 jaar se erfenis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.