[Foto’s] Kawasaki beïndruk met sy Z900

Kawasaki Z900 (Foto: Brian Cheyne)

Kawasaki het twee kaalfietse in hul 4-silinder-klas: die Z800 en die Z1000. Altwee fietse is baie aggressief gestileer. Die Z800 het gegroei uit die Z750 en was ’n redelike pokkeltjie. Met sy ekstra vetjies het hy selfs swaarder geweeg as die Z1000. Kawasaki het toe die Z800 gimnasium toe gejaag, en die resultaat was ’n gewigsverlies van oor die 20 kg, asook ekstra spiere. Tegnies is die nuwe Z900 nie ’n vergrote Z800 nie, maar eintlik ’n verkleinde Z1000. Met die bekendstelling van die Z900 val die Z800 weg en dit wil voorkom of die Z1000 ook in die slag gaan bly.

Deel van die dieetplan is die nuwe tralieraam wat reeds sy verskyning gemaak het in die Z650-reeks. Daar is ’n nuwe swaaiarm en die stileerders het ook ’n aandeel gehad in die Z900 se voorkoms – dis ’n baie mooi fiets. Sy agterkant is wulps hoog. Die saal is laag en die boggel wat die tenk maak, veroorsaak dat dit voel asof jy binne die fiets eerder as op hom sit. Die ryposisie is regop, maar ek vang myself heeltyd dat ek so ’n effense knak in my elmboë het – reg vir die geveg. So asof hierdie fiets jou wil tart om vinniger te ry.

Kawasaki Z900 (Foto: Willem Ebersohn)

Die instumentasie is maar skraps en klein soos dit ’n kaalfiets betaam. Ek het hierdie ontwerp al in die Versys gesien, maar hierdie keer maak die analoë toerenaald plek vir ’n digitale een. Die naald flikker as hy wil hê jy moet ratte verander of as jou toere te hoog klim. Verder is daar ’n aanduiding van jou spoed, brandstofvlak en ratposisie.

So gepraat van ratte, die Z het ’n koppelaar wat help met die ratskakeling. Die aksie is verbasend lig en die skakeling self gebeur seepglad. Skakel jy die fiets aan, is daar ’n baie sagte brom uit die uitlaatpyp. Die fiets loop besonder stil, maar ek is seker die standaardpyp sal gou plek maak vir ’n ding wat bietjie meer knetter.

Kawasaki Z900 (Foto: Brian Cheyne)

Kyk, hierdie fiets moet jy maar versigtig benader. As jy jou sit gekry het en die versneller aggressief pluk, beweeg jy nogal vinnig oor die landskap, en die sagte uitlaatpyp help nie juis om jou bewus te maak van jou onverantwoordelike optrede nie. Die wind doen dit wel. Bó die spoedgrens is dit jy en die wind. En die wind gaan mettertyd wen. Dan gaan jy weer gimnasium toe, bou aan jou armspiere en probeer weer.

Dat so ’n klein lettertjie soos Z nou soveel gewig in die Kawasaki-stal kan dra! Die Z900 is ’n ontsettende lekker fiets en kan met reg beide die Z800 en Z1000 se skoene vol staan.

Vir meer inligting, besoek die produkblad.

In ’n neutedop:

Enjingrootte948 cc
Aantal silinders4
Maksimum kraglewering92 kw / 125 pk
Saalhoogte795 mm
Tenk kapasiteit17 L
PrysR139 995

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kerneels ·

Hierdie fiets het die mooiste verfwerk – so ‘n gloeiende metallic groen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.