[Foto’s] Kawasaki Ninja H2 – Kunswerk met ʼn byt

Kawasaki H2 Foto: Brian Cheyne

Kawasaki H2 Foto: Brian Cheyne

Ek het nog nooit van superfietse gehou nie. Dit is doelgemaakte resiesfietse, en ek is een van daardie ouens wat die lewe rustig wil vat. Ek wil sien wat om my aangaan, en kan stilhou as ’n skilpad oor die pad stap.

So toe Kawasaki hulle H2 vir my aanbied om te toets, moet ek sê, was ek nie so opgewonde soos meeste van my vriende was nie. My ou lyf sit nie lekker op die goed nie. Lees jy deur die spesifikasies, dan besef jy, hier is nou ’n fiets met net een doel voor oë: skok jou in ʼn ander bloedgroep in.

Die H2-naam is laas in die 70’s op ’n drie-silinder twee-slag 750cc monster gebruik. Dit was op sy dag die produksiefiets wat jy kon koop wat die vinnigste versnel het. Wel, die nuwe H2 is net so ’n blits, en dan nog so bietjie. Die eerste ding wat jou opval, is die verf. In die skadu lyk hy soos iets wat Batman sou ry, maar in die son glimmer dit soos chroom sodat jy jou eie vreesbevange gesig kan sien.

Kawasaki H2 Foto: Brian Cheyne

Kawasaki H2 Foto: Brian Cheyne

Ek vra die Kawasaki-manne om asseblief al wat ’n elektroniese hulpmiddel is aan te skakel. Ek kan die bekommernis op hul gesigte lees. Jy sien, hierdie fiets sal ʼn gat van R400 000 in jou sak los, sou jy so een wil aanskaf. Ek weet dit klink na baie, maar as jy die tipe geldjies het wat rondlê, sal die H2 jou nie teleurstel nie.

Ek trek weg, en die toere klim geleidelik. Nie veel anders as ʼn gewone superfiets nie, dink ek, maar dan begin die super-aanjaer sulke tjirpgeluide maak en dan moet jy vashou. Baie styf. Die H2 se versnelling is skrikwekkend, en ver bo die spoedgrens hou dit nie op nie. Ek dink ek het tussen vierde en vyfde ratte gegil soos ʼn skoolmeisie, en dalk ’n reuk afgegee. Solank as wat jy kan vashou, sal hy net aanhou versnel.

Sou jy, soos ek, uit bravado loop en die krane toedraai, is daar yslike Brembo-remme om hierdie gevaarte tot stilstand te bring.

Kawasaki H2 Foto: Brian Cheyne

Kawasaki H2 Foto: Brian Cheyne

Maar van waar al hierdie angs? Wel, soos ek reeds genoem het, die fiets beskik oor ’n superaanjaer. Nou met 998cc om mee te begin, blaas die aanjaer nog honderde liters lug deur ʼn pasgemaakte aanjaer binne die ontvanklike silinders in. Een derde van die H2 se neus is ʼn inlaat wat lug direk in die aanjaer inlei. As die fiets stilstaan, lewer hy 200pk, maar as hy beweeg, kry hy meer lug en gaan daardie syfer op tot so 210pk.

Met sulke verrigting moet jy êrens inboet. En inboet is by die pompe. Die fiets is baie dors.

Die monumentale kragbron word vasgebout aan ’n traliewerk raam, en krag word per ketting, langs ʼn enkelsydige swaaiarm, na die vet agterband gelei. Daar is ook net ’n enkelsitplek, so die H2 kan darem net een mens op ’n keer ’n hartstilstand gee.

As jy die versneller aggressief draai, skop die traksiebeheer in en hou die H2 mooi in toom. Ek kon voel die voorwiel wil-wil lig, maar alles was onder beheer soos die H2 jou na die horison toe slinger.

Die ryposisie is maar soos ’n superfiets met die handvatsels ver voor jou en baie laag, maar alles is vergete soos jou brein alles probeer inneem.

Ek hou steeds nie van superfietse nie, maar as jy my vandag sê ek kan enige fiets weer toets, sal my antwoord dadelik die H2 wees. Ek verstaan waaroor dit gaan. Ek het die krag gevoel, en ek wil nog daarvan proe. Maar ek is ʼn stadige outjie wat die detail wil inneem. So, as hierdie nou my fiets was, sou ek die TV uitstoot en die H2 in sy plek parkeer, en net vir hom sit en kyk. Hy is so goed!

Lees meer: Kawasaki Ninja H2

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Niel ·

Nou vir die H2R… Gaan voel hoe voel dit as 310 (nie net 200 nie) perdjies onder jou hardloop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.