[Foto’s] Kawasaki Z1000 SX: Die ideale kombinasie van krag en gemak

Die Kawasaki Z1000 SX (Foto: Willem Ebershon)

My vrou was destyds in die koshuis saam met Dorrie. Dorrie het enige vreemde gedrag by mense altyd toegeskryf aan “’n fase”. Nou ek is weer in ʼn fase.

My huidige fiets is ʼn dubbeldoel Suzuki en ons twee was al op baie avonture. Talle grondpaaie later is my grondpadfase besig om einde se kant toe te staan. Ek is op soek na ʼn kragtige toerfiets waarmee ek gemaklik kan ry en lang afstande aflê in ons mooi land.

Onlangs het Kawasaki hulle Z1000 SX opgeknap vir 2017 en ek het gaan ondersoek instel of dit nie dalk my volgende fase kan inlyf nie.

Kawasaki se literfietse is volop. Daar is die waansinnige H2, die baan georiënteerde ZX-10, die Versys 1000, die kaalfiets Z1000 en laastens die sport-toerfiets, die Z1000 SX. Hoewel hulle almal 1000’s heet, is daar geringe verskille:  die ZX-10 is 998 cc, terwyl die Z-fietse 1043 cc is. Die ZX-10 lewer by die 200 perdekrag, terwyl die Z’s rondom die 140 perdekrag lewer. Boonop is die SX amper die helfte goedkoper as die ZX-10.

Die Kawasaki Z1000 SX (Foto: Brian Cheyne)

Vir 2017 het Kawasaki ʼn hele klomp veranderinge aangebring. Die ontwerp van die fiets is op gemak gerig. Die voorkant is herstileer en lyk meer aggressief. Die spieëls is 20 mm wyer en die windskermpie is 15 mm hoër en het drie hoogteverstellings. Die hele fiets is 28 mm breër gemaak om die wind beter óm die ryer te laat vloei. Die saal is laer, en jou agteroppie het nou ʼn dikker saal en metaal handvatsels om aan vas te hou. Die handvatsels het alreeds hegpunte vir die opsionele kantsakke.

Onder die bakpanele is daar ook gewerskaf. Sluitwering en tolbeheer is standaard, maar die blikbrein wat alles beheer het nou meer sensors bygekry, en sluitwering meng nou ook in al is die fiets oorgekantel in ʼn draai. Tolbeheer en kraglewering kan onafhanklik verstel word afhangend van pad toestande. Sou dit reën, kan jy die krag sny na om en by 100 perdekrag.

Die instrumentepaneel het een groot analoogtoereteller, en die res van die inligting is digitaal. Die paneel het ek al gesien op die 650 en die X-300, so dit was ʼn bekende gesig.

Die Kawasaki Z1000 SX (Foto: Brian Cheyne)

Die 19 liter tenk het ʼn groot boggel wat die indruk skep dat jy binne die fiets sit. Die saal is ook gemaklik breed en bied genoeg ondersteuning. Daar is twee uitlaatpype, en die klank van ʼn 1000 is darem maar mooi. Twee items wat ek mis op die fiets is handvatselverwarmers en spoedbeheer. Kawasaki bemark die fiets as ʼn sport-toerfiets, maar ek voel hy ry meer soos ʼn sportfiets as ʼn toerfiets, so dit is seker waarom Kawasaki hierdie items weggelaat het.

Op die pad is die SX seepglad, en die enjin het genoeg krag om jou in sesde rat, van enige spoed, te laat versnel. In die stad stotter die enjin maar soos ʼn steeks hond aan ʼn halsband. Sodra die verkeer ophou en jy die SX vrye teuels kan gee, besef jy waar die toer deel inkom .

Het ek my ideale toerfiets gekry? Amper. Alles is reg op die SX. Die vurke is onderstebo, en die radiaal monteerde remme werk goed, maar die ryposisie is vir my steeds te sportief. As jy egter na die prys kyk, kan ek dalk hierdie Kawa sy tekortkomings vergewe.

Vir meer inligting, besoek die produkblad.

In ’n neutedop:

Enjin1 043cc Vier silinder
Gewig (Nat)235 kg
Maksimum kraglewering104 kw
Saalhoogte805mm
Tenk kapasiteit19 L
PrysR155 995

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Mike Kaapstad ·

whoa ek moet gaan kyk,die R 1 yammie en RR Honda se prys hierby die R300 k , nogal groot verskil…….

MV ·

Mike, ek dink jy verwar hierdie fiets met die ZX10-RR, wat R290-000 kos.

Brian Cheyne ·

Dankie MV. Ja, Mike, die ZX-10 is Kawasaki se superfiets, en hy vergelyk in prys met die Yamaha R1, Honda Fireblade, Suzuki GSX-R en die BMW RR.

Hierdie SX is die gemakliker weergawe met baie minder krag, maar steeds ‘n lekker fiets.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.