Foto’s: Klassieke motors haal groot pryse op veiling

Foto: Verskaf

Liefhebbers en versamelaars van antieke en klassieke motors en automobilia het die naweek op ʼn landgoed buite Stellenbosch toegesak waar duisende van dié items onder die hamer gekom het.

Die veiling het op die Nassau-plaas plaasgevind en meer as 30 buitelandse aanlynbieërs van ses lande, insluitend die Verenigde Koninkryk, Duitsland en Switserland, het saam met aanlynbieërs van Suid-Afrika en minstens 450 plaaslike motorliefhebbers wat teenwoordig was, op meer as 70 antieke en klassieke motors en derduisende automobilia gebie.

Die 1928 Buick-afslaankapmotor is vir R370 000 verkoop. Foto: Verskaf

Joff van Reenen, hoofafslaer en direkteur van High Street Auctions, sê van die noemenswaardige verkope was R370 000 vir ʼn 1928 Buick-afslaankapmotor, R335 000 vir ʼn 1964 Chevrolet Impala-afslaankapmotor, R330 000 vir ʼn 1971 Ford Mustang, R320 000 vir ʼn 1936 Ford Roadster, R320 000 vir ʼn 1948 Chevrolet Fleetmaster-afslaankapmotor, R157 500 vir ʼn 1934 Ford V8 wat in die rolprent  Long Walk to Freedom verskyn het, R90 000 vir ʼn 1957 Austin Metropolitan en R105 000 vir ʼn 1954 Mercedes Benz Ponton 180.

Volgens Van Reenen was die reuseveiling die resultaat van duisende werksure oor ses maande waartydens meer as 100 000 individuele motoronderdele gesorteer en gekatalogiseer is.

Foto: Verskaf

“Ons het die naweek ʼn aansienlike opkoms verwag, maar die getal bieërs wat vir die veiling geregistreer het, die bywoning van die veiling en die 1 000 plus mense wat die veiling aanlyn besigtig het, was baie beter as wat ons kon verwag.”

Die veiling het langer as ses uur geduur en volgens Stef Olivier, besturende direkteur van Bidway Auction House, is die meeste van die motors uiteindelik aan Suid-Afrikaners verkoop.

Die bestorwe-boedel-veiling was glo die land se grootste veilinguitstalling van motors, onderdele en automobilia wat nog plaasgevind het. Die private versameling is nog nie voorheen in geheel in die openbaar vertoon voor die naweek se veiling nie.

Die items wat verkoop is, word dié week reg oor die land afgelewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Bess ·

Nee wat hierdie is n swak belgging.oor n paar jaar is daai karre al minder werd..

chrisjan ·

Bess u is ver verkeerd.Hou ouer die veteraan motor hoe meer werd is hy mits hy reg gerestoureer is natuurlik.

Gys ·

Bess, nie alle uitgawes hoef altyd n belegging te wees nie. Wat daarvan as jy n speelding koop, hom jare lank geniet en later is hy amper niks werd nie? Daai mense het waarskynlik hope geld wat op ander plekke belê is.

SNEL ·

Pragtige karre en kyk ek is nou nie n man nie, maar stap ook al n pad met karre. Jy koop n kar nuut vandag, dan verloor hy geld in sy kanon in, en dan draai dit weer (oor n hele paar jare) en kry jy omtrent wat hy nuut gelos het en van daar af tel dit net weer op. So nee, hoe mooier daar nou na die karre gekyk word, hoe meer gaan hulle werd wees vorentoe. Hul dae van geld verloor op is verby, tensy mens hom vir meer aankoop as wat hy in enige ander land ook werd sou wees, maar vir die karre is dit goeie pryse en vergelyk goed met waarvoor jy hom in dollars in ander lande sou aankoop. Ding met sulke duur goed is net jou kopers is bitter minder en weinig gesaai wat verkope nie te maklik maak nie, want nie elke 2de ou het daai geld en beweeg in daai kringe om so baie uit te haal vir n kar, eksklusiewe motorfiets of bv bote wat miljoene kos nie, jou koopmark krimp met sulke eksklusiewe goedjies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.