[Foto’s] Maroela Motors-padtoets: BMW i3 REX – Die toekoms is hier

Die BMW i3 REX (Foto: BMW)

Die BMW i3 REX (Foto: BMW)

Ek moet sê ek is regtig bevoorreg om die geleentheid te hê om met ʼn BMW i3 te ry. Dit gaan nie oor die feit dat dit ʼn BMW is nie, maar meer oor die feit dat die elektriese motor ʼn reuse rol in ons toekoms gaan speel. Die hede is wel vol doemprofete wat vir ons probeer vertel hoekom dit nie gaan werk nie. Gelukkig is pioniers redelik doof en luister hulle nie altyd vir almal nie.

Dink hoe het die spoorwegwerkers gevoel in die vroeë 1900’s, toe mnr Ford sy karretjies teen ʼn stink spoed begin bou het. Hier is ons, 109 jaar later en nie die spoorweg of die motorkar lyk meer dieselfde nie. Dankie tog. Die Model T was glo amper onmoontlik om te bestuur. Dit is wel jammer dat ons nie meer deftige toere aanpak met een of ander luukse stoomlokomotief nie.

Wat ek probeer sê is die toekoms is gewaarborg. Nes daai toekoms is elektriese voertuie ʼn sekerheid. En glo my, jy hoef regtig nie bang te wees nie. Dit is regtig lekker.

Al lyk die BMW i3 bietjie vreemd as jy hom eers bekyk, raak mens hom vinnig gewoond. Hy is vir my regtig oulik gesien uit ʼn hoek van so 45 grade van voor. Ek worstel nog bietjie met die agterkant. Die wiele is ook iets om aan gewoond te raak. Reuse 19” deursnee, maar net 155 mm breed voor en 175 mm breed agter. Baie voertuie kom deesdae met sulke Marie-beskuitjiespaarwiele en die i3 het sommer vier op om rolweerstand te voorkom en beter reikafstand te bied.

Die BMW i3 REX (Foto: BMW)

Die BMW i3 REX (Foto: BMW)

As mens die kajuit betree, is dit ʼn totale gevoel van ruimte. Die kajuit is groot voor, skoon en oop, alhoewel futuristies, maar opwindend. Ek het kinders, dus sal die ligte grys bekleedsel in die toetsmotor nie deug nie, maar sou ek my eie i3 bestel, sou ek net verseker dat die binneruim donker is.

Gelukkig het ek jare gelede my naam met ʼn plank geslaan met ʼn hibridiese motor. Ek het vir die man, wat die voertuig vir my gebring het, gesê natuurlik sal regkom. Ek ken mos karre. Wel, na ʼn verstommende 15 minute, het ek steeds die man daar sien staan en staar na my met ʼn glimlag. Met vreeslike rooi wange maak ek die deur weer oop en vra vir hulp. Te danke daaraan het ek nou meer van ʼn idee wat om te verwag, dus is ek en die i3 sommer dadelik maats.

Een ding wat ek vir jou wil vertel van elektriese motors is hoe stil hulle is. Mens verwag daar moet ʼn geluid wees. 109 jaar sê vir ons jy moet ʼn sleutel of ʼn slinger draai en daar moet geluide wees. In die i3 druk mens net ʼn knoppie, sit die ratwisselaar in R of D en siedaar: jy’s aan die beweeg in doodse stilte. Nog ʼn ding is om te vergeet wat jy dink indrukwekkende versnellerreaksie is totdat jy ʼn elektriese kar bestuur het. As jy die pedaal wegtrap, kry jy so ʼn futuristiese whiiirrrrr van die elektrisiteit wat vloei en jy word met asemrowende krag na die horison geslinger. Dit is oombliklike kraglewering en met 250Nm wringkrag van 0 r/min is 125kW, oorgenoeg.

Die BMW i3 REX (Foto: BMW)

Die BMW i3 REX (Foto: BMW)

0 – 100km/h gebeur in slegs 7.3 sekondes en die i3 sal aanhou draf na 150km/h. Dit is regtig lekker om vir die meeste voertuie weg te jaag van verkeerslig na verkeerslig, in doodse stilte. Soos mens verwag van ʼn BMW, is die gehalte van die binneruim baie goed. Die i3 is oombliklik lekker gemaklik en na ʼn paar minute weet mens presies waar lê al die belangrike kontroles.

Nou kom ons by die kern van my padtoets. Diegene wat sê ʼn elektriese kar kan nie in Suid-Afrika werk nie, lieg. BMW het laaiprobleme opgelos met die Range Extender. Dit is ʼn klein petrolenjin wat dien as ʼn kragopwekker. Jy kan 9 liter petrol in die i3 gooi en dit verleng jou reikafstand met ongeveer 150km, afhangend van hoe jy ry. So ʼn volgelaaide battery saam met ʼn vol tenk petrol bied jou in die omgewing van 350km, afhangend van watter rymodus jy gebruik en hoe vinnig jy ry. Ek het in die week met die i3 drie keer van Pretoria af Johannesburg toe en terug gery. Sodra die battery begin pap raak, skop die petrolenjin in en jy hou net aan met ry. Dit verg geen verstelling van die bestuurder nie.

Die i3 hou jou heel tyd op hoogte van die battery of petrolreikafstand. Hoewel reikafstand-angs ʼn waarheid is in ander elektriese motors, kom mens vinnig daaroor in die i3, sodra jy gewoond raak dat dit binne die voertuig se vermoë is om gemaklik in Gauteng van hoek tot kant rond te beweeg.

Die BMW i3 REX (Foto: BMW)

Die BMW i3 REX (Foto: BMW)

Jy kan die i3 laai by sekere laaiers tot 80%, binne 30 minute en op ʼn gewone kragprop by jou huis neem dit ongeveer 8 ure om vol te laai met die trickle charger. Daar is ook verskeie BMW i Wallbox-toestelle wat in jou motorhuis geïnstalleer kan word om jou BMW binne 3 ure tot op 80% te laai.

In die kort tydjie wat elektriese motors al in Suid-Afrika beskikbaar is het die infrastruktuur dus indrukwekkend uitgebrei. Daar is maatskappye wat laaistasies installeer op verskeie plekke. Menlyn Park-winkelsentrum is besig om laaistasies in hul parkering te installeer en die infrastruktuur verbeter dus daagliks.

Christo, Maroela Media se digitale-besigheidsbestuurder voel so:

Ek het nog nooit in ʼn battery-aangedrewe voertuig gery nie en wat ʼn lekker ondervinding was dit nie. Om spoed te vermeerder is onbeskryflik en dit voel asof die BMW net nooit terug hoef te staan vir enige voertuig nie. Ek hou daarvan dat die motor ʼn petroltenk ook het, want om elke nou en dan te herlaai, het my nogal bekommerd gemaak. Die heel lekkerste van die BMW is sy uitleg binne. Ek kan sien ʼn kunstenaar of ontwerper het hiermee gehelp. Ek sien gereeld foto’s van konsepmotors op die Paryse of London motorskoue en verstom my aan die binnekant. Skielik het ek die geleentheid gehad om dit van naderby te ervaar. Wat ʼn lekker ondervinding! Alles lyk so volksvreemd – maar ai, dit werk vir my en is lekker om met al die katoeters te speel.

Kobus, Maroela Media se tegniese bestuurder voel so:

Die BMW i3 REX (Foto: BMW)

Die BMW i3 REX (Foto: BMW)

Afgesien van sy ingewikkelde aandrywingstelsel, is BMW se i3 baie modern, omdat sy onderstel van koolstofvesel gemaak word. Hierdie futuristiese benadering word binne en buite die motor herhaal. Dit het amper gevoel asof ek ʼn motor uit die fliek Tron bestuur. Baie mense bewonder ʼn mooi BMW wanneer dit in die pad wegry en wens dat hulle eendag een kan besit. Dié wat nog nooit in een gery het nie, kan egter sukkel met die iDrive-stelsel. Die radio, navigasie en ander funksies word beheer deur ʼn knop in verskillende rigtings te manipuleer. Die knop kan nie net na die kant geskuif word nie, maar ook gedruk en gedraai word. Ek dink nie dit is intuïtief nie, maar die meeste motorkenners sal jou paai dat ʼn mens gewoond raak daaraan. Dit voel egter vir my primitief en baie meer ingewikkeld as wat nodig is. Hopelik raak elektriese motors met verloop van tyd ʼn toeganklike alternatief vir Jan Alleman.

Ek sal die i3 so opsom: dit is ʼn stukkie van die toekoms, wat vandag beskikbaar is. As jy elke dag baie ver ry, is die i3 nie vir jou nie, maar as jou daaglikse roete minder as 300km is, sien ek geen rede hoekom dit nie vir jou kan werk nie. Dit ry verskriklik lekker en is indrukwekkend rats. Die range extender-model skakel reikafstand-angs uit deur middel van die kragopwekkertjie. Ek is gek oor die tegnologie en sou baie maklik vir my ʼn i3 aanskaf.

Die reeks lyk so:

ModelReikafstandKragverbruikKragPrys
BMW i3 eDrive 94Ah200km13kWh/ 100km125kW/ 250Nm597 800
BMW i3 eDrive Rex 94Ah300km13kWh/ 100km125kW/ 250Nm673 500

Die reeks word gedek deur BMW se omvattende 5 jaar/100 000km omvattende instandhoudingsplan. Daar is ʼn 2 jaar onbeperkte km waarborg op die voertuig en 8 jaar/100 000km op die battery.

Die mededingers lyk so:

ModelReikafstandKragverbruikKragWaarborgPrys
Nissan Leaf+ 180km15kWh/100km80kW/ 254Nm3 jaar/ 90 000km diensplan

3 jaar/ 100 000km waarborg

R474 900

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Grens ·

Die 8 jaar is nogal ‘n lang leeftyd vir daai battery, wonder wat kos ‘n nuwe een. Ek dink ook na 8 jaar sal die nuwe battery dalk dubbel die hoeveelheid amps bied, sodat mens dan nog verder kan ry!!

Hendrik ·

Hier is meer inligting oor die battery. Gewoonlik bestaan ‘n battery oor verskillende selle. ‘n Normale kar battery bestaan ook uit ses 2V selle wat aan mekaar verbind is. Dit word net verpak in een houer.
Google BMW i3 battery pack

Grens ·

Hierdie tipe batterye is totaal verskillend van ‘n normale motor batterye. Lithium Ion battery met 94Ah per cell. Ek het ook altyd gewonder wat maak hierdie motors veilig in ‘n botsing met daai batterye? Lithium Ion baterye is soos ‘n bom as hulle kortsluit, en jy kan dit nie met water blus in ‘n brand nie(Onthou Boeing se Dreamliner)!! Ek sien ook die batterye skuif reg onder die passasiers in!!

Piet van Niekerk ·

Ek dink nog steeds dat die matige hibriede elektriese voertuig ‘n beter oplossing bied as die herlaaibare opsie vir die lang pad. Die batterye sal ook langer hou. Beide opsies maak nog steeds van ‘n binnebrandmotor gebruik. Dis die diep ontlading van ‘n battery wat sy lewe verkort.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.