[Foto’s] Mercedes-Benz se eerste bakkie maak sy buiging

Die Mercedes-Benz X-klas (Foto: Mercedes-Benz)

Die motorvervaardiger Mercedes-Benz het Dinsdagaand sy eerste bakkie – die X-klas – in Kaapstad bekend gestel, en dié voertuig is onmiskenbaar getrou aan sy handelsmerk.

Dié bakkie sal in 2018 in die kopersmark beskikbaar gestel word.

Mercedes het tydens die bekendstelling gesê die X-klas is gemik op die “individu wat bewus is van modegiere” en dit wil kombineer met die luukse en betroubare handelsmerk van die vervaardiger.

Die gewilde motorreus het gesê die X-klas sal die eerste bakkie van ʼn premierhandelsmerk wees om te voldoen aan behoeftes en persepsies wat wêreldwyd besig is om te verander rondom bakkies. ʼn Bakkie is deesdae ʼn leefstylvoertuig en nie meer net ʼn werkperd nie.

Dié reeksleier sal toegerus wees met Mercedes-Benz se beproefde V6-dieselenjin gepaard met 4MATIC-vierwielaandrywing. Laestrek en twee ewenaarslotte sal ook standaardtoerusting wees.

Die Mercedes-Benz X-klas (Foto: Mercedes-Benz)

Drie verskillende modelle, die X-Klas Pure, X-Klas Progressive en X-Klas Power, gaan bekend gestel word.

Dié drie verskillende modelle wat beskikbaar gestel gaan word, kom onder meer met ’n vier- of ses-silinder-enjin, vier- of tweewielaandrywing en ʼn ses-spoed-handratkas of sewe-spoed- outomatiese ratkas. Sowat ses verskillende soorte binneruim-afwerkings is beskikbaar.

Die 1,1 ton-loonvrag en 3,5 ton-sleepkapasiteit gaan van die X-klas ʼn gedugte teenstander maak.

Die X-klas word vervaardig in ʼn produksiesamewerkingsooreenkoms tussen die Renault-Nissan-alliansie en Daimler AG.

Sleutelmarkte vir die X-klas is Europa, Latyns-Amerika, Suid-Afrika en Australië.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Chris ·

Wonder net wat die lorrietjie gaan kos. (Net ‘n hond drink uit ‘n bakkie) Seker ‘n Mercedes se prys.

Marcel ·

Ek het gehoor hulle gaan op so R555000 begin vir die kleintjie.

Paul ·

Die prys van die mees basiese dubbelkajuit Nissan Navara in Duitsland is 31160 Euro. Die prys vir die mees basiese X-Klasse (dis die een sonder leerbekleedsel, met 2×4 en sonder enige deftige fieterjasies) in Duitsland is aangekondig as 37294 Euro. Dis 20% meer as vir die Nissan.

Die mees basiese Nissan Navara dubbelkajuit in Suid-Afrika se prys is R518900. As mens dit met 20% verhoog, kry jy R622680.
Ek sou dus verbaas wees as die Mercedes bakkie vir so min as R555000 verkoop word.

Die twee bakkies is dieselfde onder die plaatmetaal. Die Mercedes gaan dieselfde 2.3-liter dieselenjin kry as die Navara. Die Mercedes bakkie gaan gebou word in Nissan fabriek in Barcelona en in die Renault fabriek in Cordoba (in Argentinië).

Ronel ·

Ai Chris, hoe lekker lag ek nou! Ek sal tóg in die vervolg onthou om ook maar van ‘n lorrietjie te praat. Paul, ek het al jou kommentare baie interessant gevind – baie dankie. Vir my so op die oog af ‘n mooi voertuig, maar nou baie teleurgesteld toe ek al die vergelykings met die Nissan sien – nie my gunsteling nie.

Hannah ·

Ek vra myself net af…(met jare se ondervinding van plaaslewe…) hoe gaan jy dit regkry om met die pronkstuk op plaaspaaie rond te ry? Kan julle die groen skynsel op my gesig sien? Was ek welaf het ek vir my liewe man een gekoop! Die rooi ene…

Eish ·

Dubbelkajuit met 1.1t vragkapasiteit, is n eerste. Laai area lyk lekker lank.
Vir die inividu wat modegiere kombineer met luuksheid en betroubaarheid van die vervaardiger?
Klink nie na n boer se bakkie of n besigheidsbakkie nie. Dalk stedelinge wat gaan deel neem aan die Cape Epic of vinnig plaas toe gaan vir die naweek. Dink hier kom n rekordprys vir n dubbelkajuit bakkie!

Paul ·

Dis ‘n Nissan Navara met ‘n deftige baadjie aan. Die Navara dubbelkajuit kan ook 1.1 ton dra. Wel, eintlik 1070 kilogram, maar hulle rond af na bo.
Deel van die rede hoekom dit “werk” vir Mercedes, is omdat die Navara nie bladvere agter het soos ander bakkies nie, maar kronkelvere en ‘n “multi-link” stelsel, soos moderne karre.
Die Navara kom ook reeds met ‘n ses-spoed handrat of sewe-spoed outomatiese ratkas uit, so ek sou verbaas wees indien dit nie presies dieselfde komponente in die Merc is nie.

Dis eintlik grappig, want ek is seker hierdie Merc bakkie gaan beter verkoop in Suid-Afrika as die Nissan Navara, selfs al gaan dit duurder wees en selfs al is dit eintlik maar dieselfde bakkie. Mense in Suid-Afrika vrek mos oor ‘n Mercedes kenteken. Plak een op ‘n Chevy Spark en ryk mense sal dit ook skielik koop.

Adri ·

Hierdie is nie Mercedes se eerste bakkie nie. Ek onthou nog die stadige dieselbakkies (180?) van die 50-er jare met die driepuntster op die neus. Toe was daar nog nie eintlik Japanese bakkies nie. Dalk ‘n Peugeot, Opel of ‘n Borgward? Dit is nou behalwe vir Ford, Chev, Dodge, De Soto, GMC ens.

Paul ·

Is daardie bakkies wat soos die W123-modelle gelyk het, so verkoop by Mercedes-handelaars, of was dit nie maar mense wat dit self omgebou het tot bakkies nie? Sover ek weet is dit nooit so verkoop deur Mercedes self nie.
As jy sulke omgeboude voertuie wil insluit, dan was daar minstens van die 1950s af al Mercedes bakkies gewees, want mense het ook die “Ponton” Mercedes karre van die 1950s omgebou tot bakkies.

Die ware begin van “bakkies” by Mercedes is waarskynlik eintlik die oop weergawes van die Geländewagen in die middel-1970s. Dis in “bakkie” vorm aan militêre kliënte verkoop, en gewone mense kon die agtersitplekke uithaal om dit in ‘n bakkie te omskep.
Mercedes verkoop die Geländewagen sedertdien gereeld as ‘n bakkie in verskeie markte regoor die wêreld.

Paul ·

Ag, ek sien ek het jou kommentaar verkeerd gelees, Adri. Jy verwys inderdaad na die “Ponton”-bakkies van die 1950s.
In die 1950erjare is Mercedes-karre deur ses invoerders na Suid-Afrika gebring. Die regering in Suid-Afrika het egter baie swaar belastings en beperkings op ingevoerde karre, maar nie op bakkies of vragmotors nie, geplaas.
Om rondom dit te kom, het die plaaslike invoerders “halwe karre” ingevoer. Dis in Duitsland gebou, met slegs ‘n halwe dak, geen agterdeure of boonste raam of kattebak nie, slegs die onderstel agter. Dit is dan plaaslik deur ‘n maatskappy in Germiston, genaamd “Morewear Industries” “voltooi” deur ‘n laaibak agterop te bou.
Die redelike sukses van hierdie omgeboude 180D is in Duitsland raakgesien, en maatskappye genaamd “Binz” (nie “Benz” nie) en Haegele het ook die 180D karre begin ombou tot bakkies om in Europa te verkoop. Haegele het in der waarheid reeds die 170V in die 1930s omgebou tot bakkies.

Sover ek weet het Mercedes egter nog nooit amptelik self enige bakkies gebou voor die bakkie-weergawes van die Geländewagen nie.

Ook gesien ·

Ek is self bekend met ‘n baie ou Mercedes bakkie by ‘n versamelaar in Swellendam. Driepunt-ster en al.

Jacqurs ·

Daar is 4 enjins. Oral beskikbaar. Wheels.com 3 x 4 en 1x 6 silinder gebaseer op jare lange betroubare Mercedes Masjien. X350 d met 190kw en 550nm wringkrag.

TM ·

Hy is eintlik mooi van lelikheid. Alles lyk pragtig totdat jy agter kom. Selfs ‘n 1980 Nissan 1400 is ronder en mooier van agter. Maar nou ja dit gaan nie oor voorkoms nie maar wat hy kan doen en soos hulle sê dit is nie die uiterlike wat tel nie maar die innerlike.

Nico ·

M-benz kon n bietjie beter gedoen het met die afwerking buite agterkant gooi dit heeltemal weg die nuwe fiat bakkie is beter buite afgewerk

Lizan Burger ·

Nou ja, as iemand wat “lankal ryk” is. (Ek ry ‘n ou Mercedes) wil ek baie graag ‘n Merc bakkie hê. Hoekom? Want in 20 jaar wat my kar nog net op tyd gediens is, moes ek nog nooit langer as ‘n dag sonder haar klaar kom vir meganiese foute nie. Mmmm wonder of Navara eienaars dieselfde kan sê…….. so laat hy maar lyk soos hy wil, sal dit graag koop. En nee, ek sal nie ‘n Spark met ‘n Merc ster op koop nie, want ek kyk na betroubaarheid, na verkoop diens en verskeie ander faktore voor ek koop

pieta ·

Ek lees in n engelse artikel wat motorjoernalis Alexander Parker skryf is om die Mercedes x klas met Nissan te vergelyk is om te se ek het n skelet en daarom is ek net so goed /vining soos Wayde van Niekerk!briljant gestel
slegs die onderstel en die 2.3l motors is van Nissan .
hoogte breete ens -alles nuut en vanaf Mercedes.benz

Ai! ·

Kan dink wat dit sal kos. Dis soos vir die wat bv 4×4’s kan koop en dan NET in stede daarmee ry. Dan ry hul ook weer NET in die stede daarmee hahaha!

Marius ·

Dit is wel so dat hy die leerraam onderstel met die Nissan Navara deel. Daar is ook een enjin wat ‘n Nissan enjin is, maar dis waar die ooreenkoms eindig. Die hele bakkie is verder in Duitsland ontwerp. Daar is nie een verdere gedeelde komponent nie. Ek was ook ietwat skepties, maar soos ek verstaan is daar geen ander voertuig in sy klas met die gehalte afwerking binne nie. Ek glo Mercedes sal sy naam gestand doen deur iets besonders vry te stel, maar duur gaan hy beslis wees. Ek is ‘n onderwyser en ‘n Merc val nou nie in ons almal se vermoë nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.