[Foto’s] ʼn Dag vir die Triumph

Die Triumph Street Scrambler (Foto: Triumph)

Elke jaar, vir die afgelope ses jaar, reël Triumph ʼn sosiale geleentheid rondom Triumph-motorfietse. Ek het Sondag 7 Mei gaan inloer by die geleentheid en gesels met Arnold Olivier, wat aan die stuur staan van Triumph hier in Suid-Afrika.

Volgens hom is die doel van hierdie dae om die Triumph-ryers bymekaar te kry vir ʼn kuiertjie en om sommer net te sit en gesels oor hulle gedeelde liefde vir die Triumph-naam. Jy is natuurlik welkom om jou vriende saam te bring, om hulle ook te wys op wat Triumph hulle kan bied. Daar is altyd musiek en goeie kos, en die restaurantjie se disse dra almal die naam van ʼn Triumph-model vir die dag.

Die hoogtepunt van die geleentheid was egter die onthulling van nog twee variasies op die 900cc- én 1200cc-Bonnevillereeks: die Street Scrambler en die Bobber.

Street Scrambler

ʼn Dag vir die Triumph (Foto: Brian Cheyne)

Die Street-reeks bestaan uit die Street Twin en Street Cup en het nou ook ʼn Scrambler bygekry. Met sy 19 duim-voorwiel, wyer handvatsels en dubbeldoel Metzler Tourance-bande, dink ek hierdie fiets sal glad nie te sleg vaar as die teerpad ophou nie. Die vlekvrye uitlaatpype is hoog gemonteer en gee die fiets daardie rowwe voorkoms. En om te wys Triumph is ernstig met hierdie weergawe, kan jy die ABS afskakel as jy jou op ʼn vrotpad bevind.

Bobber

Toe Arnold die Bobber onthul het, was die opgewondenheid tasbaar. Dit is nie ʼn fiets vir elke smaak nie, maar is gemik op ʼn baie spesifieke persoon. Iemand wat wil uitstaan en baie beslis alleen rondry. Die Bobber het net een sitplek en is ʼn kunswerk in die kleine. Die premium afwerking op die Bobber is waaroor ʼn mens ure kan gesels.

ʼn Dag vir die Triumph (Foto: Brian Cheyne)

Elke stukkie is keurig uitgedink en voortreflik verweef om ʼn aggresiewe dog treffende fiets te skep. Die agterkant lyk kompleet soos die fietse uit die 40’s, en met die 1200cc-Bonneville-enjin gaan jy beslis aandag trek, ongeag waar jy stop.

Sodra die SABS se homologasie afgehandel is, sal ek hierdie twee modelle graag van nader wil beloer en my indrukke gee.

Olivier wag ook nog vir die splinternuwe Street Triple om Suid Afrika te bereik, so Triumph se modelreeks groei mooi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.