[Foto’s] ʼn Fiets vir baie paaie

Die Ducati Multistrada S (Foto: Brian Cheyne)

Die Ducati Multistrada S (Foto: Brian Cheyne)

In my jong dae, net ná die Steentydperk, het seuns die middelblad van ʼn stoute tydskrif teen hulle kamermure gehad. Daar was sterretjies oor die strategiese dele van die dame, en die geskeurde gaatjies waar die krammetjies was. Ek, daarenteen, het prente van motorfietse gehad. Dit was die dae toe die tydskrifte nog sigarette kon adverteer, en die Camel-man met sy krulhare die toonbeeld van avontuur was.

Vandag, op my werksrekenaar, is daar ʼn prentjie van die Ducati Multistrada. Dit is ʼn begeerte van my om so ʼn fiets te kan besit. En hier staan hy nou voor my in al sy glorie. “Jy mag nou nie teleurstel nie, hoor!” prewel ek vir die wit kunswerk. Ek wil hê hy moet goed wees. Sommer baie goed, sodat ek kan aanhou glo dat die perfekte fiets vir my tog bestaan. Of hierdie Multistrada my ooit gehoor óf verstaan het, sal ek nie weet nie.

Die lyne van hierdie fiets is ʼn stukkie kuns, en die rooi raam kontrasteer mooi teen die wit. Ek persoonlik dink die fiets lyk mooier in wit as in Ducati se rooi. Ek wil nog nie opklim nie. Ek staar nog. Ewald by Ducati gaan deur die elektronika en kieslyste beskikbaar. Hierdie fiets kan jy verstel na hartelus, maar een ding is seker: jy tem nie die 1200 Testastretta-enjin sonder elektroniese bystand nie.

Die Ducati Multistrada S (Foto: Brian Cheyne)

Die Ducati Multistrada S (Foto: Brian Cheyne)

Ducati se bloedlyn is sportfietse en jy ontwerp nie daardie bloedlyn uit ʼn fiets uit nie. Die Multistrada is eerstens ʼn sportfiets, en van daar af kry jy verskillende verstellings om hom te omvorm vir ander aanwendings.

Die aansitprosedure was een van daardie sleutel-oomblikke in my lewe. Of eerder sonder sleutel. Die sleutel was in my sak, en die Ducati begin lewe met die druk van ʼn knoppie. Die instrumentepaneel is ʼn volkleur, elektroniese eenheid, en het selfs Bluetooth. Jy koppel jou foon met die fiets en dan versamel hy al die inligting van jou rit en sit dit mooi uiteen op jou foon. Alles van topspoed tot hoeveel grade jy in ʼn draai in kon leun.

Die eerste ding wat my tref, is dat die fiets meer kompak is as wat hy vertoon. Hoewel jy steeds regop sit, is die handvatsels naby aan jou. Die flikkerligte is in die handbeskermers geïntegreer wat die hele pakket sommer net mooi afrond. Daar is verhitte handvatsels en selfs spoedbeheer. Vier ryprogramme is beskikbaar: Sport, Touring, Urban en Enduro. Die eerste twee los die krag op maksimum, terwyl die ander twee die krag sny na 100 perdekrag.

Die Ducati Multistrada S (Foto: Brian Cheyne)

Die Ducati Multistrada S (Foto: Brian Cheyne)

Die Ducati Multistrada S het die hantering van ʼn sportfiets en die vermoë van ʼn langafstand-toerfiets. Alles is toegedraai in styl soos net die Italianers kan. Hantering is vlymskerp, en die versnelling is brutaal. Dit bly my net verstom dat Ducati soveel krag seepglad op die pad kan kry. Jy draai net die krane oop en die fiets versnel genadeloos. Met die krane oop, raak die Multistrada amper asmaties. Dit klink kompleet of hy ʼn gat in die osoonlaag wil suig.

Op pad terug huis toe is ek onverwags oorval deur ʼn stortreëntjie, en ek het skuiling gesoek onder ʼn boom. Terwyl die Ducati sopnat reën, kon ek verder staar. Punt bly staan: as jy nie net kan sit en staar vir jou fiets nie, moet jy jouself afvra of jy die regte fiets gekoop het. Hierdie ervaring gaan lank by my bly, en later vanjaar stel Ducati ook die kleiner 950 Multistrada bekend. Ek kan nie wag nie!

Vir meer inligting, besoek die produkblad.

Enjingrootte1198cc
Aantal silinders2
Maksimum kraglewering117kw / 160pk
Saalhoogte: Verstelbaar82.5-84.5cm
Tenk kapasiteit20L
Prys: 
Multistrada 1200
Multistrada 1200 S

Multistrada Enduro

R199 999
R243 000

R252 000

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

dirk ·

beslis mooi en beslis ‘n klomp geld. Geniet die voorreg en ry versigtig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.