Foto’s: ʼn Radikale driewiel wat koppe laat draai

Die Yamaha Niken. Foto: Brian Cheyne

Ek het al met verskeie fietse gery wat aandag getrek en hier en daar ’n vraag ontlok het. Niks kon my egter voorberei vir die reaksie op die Yamaha Niken nie. Oral waar ek gaan het koppe gedraai en is selfone op my gerig. Die vrae was meestal oor die dubbele voorwiel op hierdie Japanse skepping.

Vandat ek die Niken die eerste keer gesien het, het die ontwerp my gefassineer. Om hom in lewende lywe te sien en ervaar sal my baie lank bybly. Die Niken is geskoei op die Yamaha MT-09 en beskik oor dieselfde 847 cc driesilinderenjin. Dit is egter nie die enjin en agterkant wat die tonge los het nie. Nee, dit is die komplekse voorwiel konfigurasie wat almal laat nader staan in verwondering.

Die Yamaha Niken. Foto: Brian Cheyne

Daar is vier vurke voor, twee aan elke kant. Die voorstes het geen vering nie en hul werk is net om stabiliteit te verleen aan die fiets. Die agterstes sorg vir die vering. Verder is daar ’n parallelogram en baie slim meetkunde wat sorg dat dié twee wiele in harmonie met mekaar beweeg. Die hele opset laat die Niken breed en aggressief lyk van voor, en tog is die handvatsels nie veel breër as op die MT-09 nie. Anders as wat ʼn mens sou dink, kan die Niken nie op sy eie regop bly staan nie. Jy moet nog steeds die systaander uitskop.

Die voorwiele is kleiner 15”-eenhede wat wel beteken dat die fiets kleiner remskywe het as die MT-09. Hy maak egter weer op daarvoor met ’n vetter agterwiel en groter skyf agter. Die remme werk baie effektief.

Die Yamaha Niken. Foto: Brian Cheyne

As jy op die Niken klim, is dit onmiddellik duidelik dat hierdie fiets gemik is om ’n sport-toer-fiets te wees. Die saal is ruim en die handvatsels is hoog. Die uitsig na voor word meestal opgeneem deur bakpanele wat die twee wiele voor jou goed wegsteek. As jy die fiets regop tel, voel hy net soos enige ander motorfiets. Die klein LCD-instrumentpaneel bevat ook net die basiese inligting en het ’n onooglike 12 volt sok wat aangeplak lyk. Ek is oortuig daarvan dat Yamaha ’n meer estetiese posisie vir hierdie sok kon kry. Die spieëls sit laag en die windskerm lyk ook nie baie effektief nie.

Die brein is ’n snaakse ding. Toe ek vir die eerste keer wegtrek, wou ek hê die fiets moet anders voel. Ek weet nie wat ek gedink het anders sou voel nie, maar ek was nie eers 100 meter ver nie, toe het ek klaar vergeet daar is twee wiele voor. Die Niken hanteer en ry net soos enige ander fiets. Op baie lae spoed het die voorkant ’n ander sensasie, maar jy raak dit baie gou gewoond.

Die Yamaha Niken. Foto: Brian Cheyne

Die ligte koppelaar was ook ’n openbaring. Sodra jy die koppelaar begin los, klim die toere vanself sodat die Niken nie stol nie. Jy hoef nie eens jou hand op die versneller te hê om die fiets glad te laat wegtrek nie. Die 6-spoed ratkas het snelskakeling en om dit regtig te waardeer, moet jy die Niken met entoesiasme beproef.

Die Niken beskik oor spoedbeheer, maar nie verhitte grepe nie. Vir ’n toer-fiets is die skerm heeltemal te laag. Hierdie skerm maak goggas bymekaar in ’n 20 meter radius en vuur hulle almal direk op jou valhelm. Ek het wraggies nog nooit soveel goggas moes afwas na ’n relatiewe kort rit nie.

Die Yamaha Niken. Foto: Willem Ebersohn

Een ding wat die Niken egter in oorvloed het, is stabiliteit. Op die snelweg, op pad huis toe, het die wind geweldig gewaai. Op enige ander fiets sou jy deeglik bewus gewees het daarvan. Die wind het my lyf geteister maar die Niken het sy lyn gehou. Gepraat van lyne, met die dubbele voorwiel is die Niken ongelooflik stabiel om draaie, en die ekstra kontakvlak help ook vir stabiliteit in reën. Ek gee my nie self uit as ’n vinnige ryer nie, maar ek was aangenaam verras oor hoeveel vertroue ek in skerp draaie gehad het.

Of die Niken in Suid-Afrika gaan aanklank vind is ’n ope vraag. Een ding is seker: Die Niken is ’n baie unieke fiets. Wat Yamaha se toekomsvisie is met hierdie fiets sal net hulle weet, maar ek het my naweek baie geniet!

Produkblad : http://www.yamaha.co.za/category/motorcycles/road/niken

Die feite :

Enjin847 cc drie-silinder
Gewig ( Nat )263 kg
Kraglewering84.6 kW @ 10 000 rpm
Wringkrag87.5 Nm @ 8 500 rpm
Tenkkapasiteit18 l
Saalhoogte820 mm
PrysR 275 000

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Swannie ·

Dit is die simpelste fiets wat ek nog ooit gesien het.

Dit verhoog slegs die uitgawes om fiets in stand te hou en glo my om deesdae buitebande vir `n motorfiets te koop is nie `n grap nie.

As jy nie `n gewone motorfiets kan bestuur nie, sal hierdie een jou ook nie help nie.

Dewald ·

Dit laat my dink aan daai CBMW 1 (dink ek) wat daai dakkie gehad het, met n sitplekgordel by. Ook nie lank gehou nie.

Ek sal hierdie fiets vir n spin vat as ek kan, maar beslis nie koop nie.

Lee ·

Nee dankie. Mors van tyd om so fiets uit te bring. Wie wil nou met hom ry?

Dr Phil ·

Ja-nee, vir daai prys kan jy ‘n nuwe (… regte…) bike koop…

HP ·

Dalk sal die “tank slapper” fenoneem beter beheer kan word?

Gemaskerde Sopbeen ·

Daar is ‘n baie beter manier om die “tank slapper” fenomeen te elimineer….Gaan koop vir jou ‘n BMW!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.