[Foto’s] Nuwe baadjie vir talle BMW-fietse

Die BMW S 1000 R en RR (Foto: BMW)

Die BMW S 1000 R en RR (Foto: BMW)

Dit is geen geheim wie die top-verkoper motorfietshandelsnaam in Suid Afrika is nie. BMW spog met meer as 40% markaandeel. Die grootste deel van dié vervaardiger se sukses rus op die breë skouers van die legendariese R 1200 GS.

Vir 2017 het BMW die opkikker-poeier liberaal en wyd oor die hele reeks gestrooi. Ek is genooi om volgende maand die bekendstelling van die 2017 GS te gaan bywoon en sal weldra my indrukke van hierdie ysterperd gee, maar in die tussentyd het BMW begin om die ander modelle aan die media bekend te stel.

F800 GT en F800 R

Die F800-reeks ly aan middelkindsindroom. Hy sit tussen die 650’s en die 1200’s en is nie so populêr soos wat hy verdien nie. Die F800 GT is glad nie ʼn onaantreklike fiets nie en ek het self een oorweeg nie so lank terug nie. Die veranderinge is minimaal maar die hele BMW-reeks moes aanpas by nuwe EU4-regulasies, wat gefokus is op laer koolstofemissies. Ander veranderinge sluit in:

  • ʼn Herontwerpte uitlaatpyp
  • Elektroniese versneller vir verbeterde respons
  • Herontwerpte instrumentasie wat meer leesbaar is
  • Drie nuwe verfkleure

Die F800 GT maak ʼn baie goeie saak vir ʼn liggewig langafstandfiets, maar hy word maklik misgekyk in BMW se vertoonlokale.

S 1000 RR en S 1000 R

BMW se tradisionele viersilinder 1 000 cc-superfiets het ook ʼn paar veranderinge ondergaan. Dit was seker moeilik om te verbeter op ʼn pakket wat reeds naby aan perfek was. Soos met die F800 was die hoofrede vir die opknapping die EU4-regulasies, maar ʼn paar elektroniese hulpmiddels het nou weggeval van die opsie-lys, en kom nou as standaard.

  • Gevorderde sluitbeheer en tolbeheer is nou standaard
  • Die RR kom nou standaard as ʼn enkelsitplek model. As jy wel ʼn passasier wil dra kan BMW ʼn passasiersitplek monteer teen geen ekstra onkoste
  • Daar is ook nou ʼn paar ekstra kleurskemas om van te kies
  • Die R se krag is op met 3 kw en die gewig af met 2 kg

Dit, in ʼn neutedop is die 2017 BMW 800cc- en 1 000cc-modelle. Hou maar fyn dop, BMW loods later seker een van hulle belangrikste modelle in ʼn lang tyd –  ʼn 310 cc-GS. Die mark druk nou weer in ʼn rigting van klein avontuurfietsies en wie beter om hierdie aanslag te lei as BMW.

Vir meer inligting, besoek die produkblad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Willem Steenkamp ·

“King of the Road” Beter as n BMW kry jy nie!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.