[Foto’s] Padtoets: Alfa 4C die mooiste ‘rok’ in Milaan?

Die Alfa Romeo 4C (Foto: Alfa Romeo)

Indien daar brandstof in jou are vloei, het jy moontlik iewers in jou verlede ʼn kys met ʼn Alfa gehad, of gewens jy het. ʼn Pel van my is só Alfabehep – as jy sy gewrig afsny, loop daar klein Alfa-embleempies uit, nie bloed nie. Ek het ʼn baie sagte plekkie vir die ou Alfas … dink GTV6 en Guilia GTA … daai was Alfas.

My ma het ʼn Alfa Romeo Export GTA gehad. Dit was ʼn Alfasud wat hier in Suid-Afrika in die Brits-fabriek gebou is. Dit is egter ʼn besluit wat my pa geneem het om ʼn Alfa te koop. Suid-Afrika was in die jare 70 en 80 resies-mal. Die bloedbad tussen Alfa, BMW en Ford op Suid-Afrikaanse renbane was witwarm. Ai, hoekom is ek nie 20 jaar vroeër gebore nie!

Om te verseker dat Alfa Romeo boaan die tydkaart uitkom, het Alfa Romeo Suid-Afrika die GTV 3.0 ontwikkel … sjoe. Ons hier in Suid-Afrika is die pa van die 3.0 GTV. Die voertuig is eers later oorsee bekendgestel, toe jaag hulle al op ons renbane. Dit is deur dié passievolle ontwikkeling dat almal gek was na Alfas.

Die Alfa Romeo 4C (Foto: Alfa Romeo)

Toe kom die Fiat-era. Dit is hier waar dinge vir my bietjie skeefgeloop het. Sug. In my testosteroon-aangedrewe brein word Alfas deur die agterwiele met ʼn V6-petrolenjin aangedryf, nie ʼn viersilinder deur die voorwiele nie. Dit het ook nie gehelp dat Alfas skrikwekkend onbetroubaar was nie. Van die negentigerjare deur die tweeduisende tot vroeg in die tienerjare van die nuwe eeu is ek maar teen die Fialfas soos ek hulle noem.

Toe sien ek een aand foto’s van die 4C op TopGear. Wow. Dit is mos hoe ʼn Italiaanse supermodel moet lyk. Die 4C word wel deur ‘n viersilinder-turbopetrol aangedryf, ten minste deur die agterwiele. Die 4C is vir my bietjie van ʼn penarie. Ek wil bitter graag lief wees vir hom, maar hy tokkel ongelukkig nie my hartsnare nie.

Kom ek verduidelik hoekom. Ek is 34 en effe oorgewig. Die Alfa 4C is bitter laag, en sy kajuit nogal spartaans. Die 4C ry verskriklik hard – meer soos ʼn renmotor en daar is nie kragstuur nie. Hoewel die gewig van die stuur nie ʼn probleem is nie, is die sensitiwiteit daarvan ʼn groot probleem. Die 4C kom nooit tot ruste nie, hy spring heeltyd links en regs oor die pad. Daar is darem lugreëling en ʼn draadloos wat met jou foon kan koppel, maar omdat die 4C redelik raas, al ry jy stadig, kan mens nie baie hoor in die 4C nie. Ek dink as die 4C baie vinniger was, sou dit dalk my broek aan die brand gesteek het.

Dit bring my by my volgende gevolgtrekking. Ek het die 4C heeltemal verkeerd benader. Dit is nie ʼn sportmotor wat elke dag gebruik moet word nie. As jy dit soek – gaan koop ʼn Porsche 718 Boxster. Die Alfa 4C is ʼn speelding vir Alfisti’s wat dit kan bekostig. Dan, as hulle daarvan hou, en die geld het – wie is ek om te stry?

Die Alfa Romeo 4C (Foto: Alfa Romeo)

Ek dink ek en die 4C het ʼn reusemisverstand – soos ʼn tienerseun en sy pa, maar dit is nie ʼn probleem nie … Het jy die nuwe Guilia gesien? Dit het reeds my hart gesteel. Die 4C was die moeilike eerste liedjie in Alfa se nuwe album. Die tweede, die Guilia, is asemrowend mooi. Die derde gaan die Alfa Stelvio wees – ʼn mediumgroot sportnuts, en hy is mooi, en hy gaan die QV se V6-monster hê … Welkom terug, Alfa, ons het na jou verlang.

Jeremy Clarkson sê mens is eers ʼn ware petrolkop indien jy ʼn Alfa besit het, dalk sal ek eendag ʼn Guilia besit …

Die Alfa 4C Spider lyk só:

Krag177 kW teen 6 000 r/min

350 Nm tussen 2 200 – 4 250 r/min

0 – 100 km/h4.5 sekondes
Topspoed257 km/h
Enjin1 750cc-viersilinder-turbopetrol
Ratkas6-spoed outomaties
Gewig999 kg
Waarborg3 jaar/100 000 km-waarborg

3 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

Diensintervalle elke 35 000 km

PrysR1 340 900

Die kompetisie lyk so:

Mazda MX-5 2.0 Roadster-Coupé118 kW/ 200 Nm6.7ℓ/100 km0 – 100 km/h 7.3 sek

 

Topspoed

214 km/h

3 jaar/onbeperkte km-waarborg

3 jaar/onbeperkte km-diensplan

R441 700
Porsche 718 Boxster S PDK257 kW

420 Nm

7.3ℓ/100 km0 – 100 km/h 4.4 sek

 

Topspoed

285 km/h

2 jaar/onbeperkte km-waarborg

3 jaar/90 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R965 000
Mercedes-AMG SLC43270 kW

520 Nm

7.8ℓ/100 km0 – 100 km/h 4.7 sek

 

Topspoed

250 km/h

2 jaar/onbeperkte km-waarborg

6 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 044 012
Jaguar F-Type S Convertible280 kW

460 Nm

8.6ℓ/100 km0 – 100 km/h 4.9 sek

 

Topspoed

275 km/h

3 jaar/100 000 km- waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 262 262

Ek is jammer, 4C, in dié geval koop ek ʼn Porsche Boxster S PDK …

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Koos1 ·

Teen daai prys moet jy heeltemal Alfa oor die kop geslaan gewees het om die kar te koop. Ja Ja ek stem saam met die skrywer, dit is ‘n speel ding, maar hier in SA koop ons V8 speelgoed (soos die Ford Mustang) teen R900 000.00. Dan het jy nog klein geld vir die Mazda ook.
Skuus maar Alfa se pryse bied nie vir jou wat die Duitsers en Japanese bied nie, en slaan my dronk, dis hoekom hulle die gaan verkoop! Ek glo net sterk daaraan as jy vir lank nie ‘n mark aandeel gehad het nie, gooi jy nie jou beste in die mark teen duurder as die bestes se pryse nie!

Chris ·

Almal wat ek al teegekom het en my gevra het wat sê motor ek ry, het snaaks na my gekyk en gefrons toe ek antwoord, ‘n Alfa. Vra ek dan het jy al een gery/besit is die antwoord gewoonlik nee. Die verskoning kom, ja maar my oom se vrou se kleinnefie het een gehad, en het hom groot moeilikheid gegee. Ek het ook in my lewe “grênderige” karre gehad, maar nie een het die Alfa “voel” nie. Jy bestuur, ry, “dryf” nie ‘n Alfa nie, jy ervaar ‘n Alfa. Dit klink asof hulle nou die meeste “probleme” uitgestryk het. Ek het al met die Mito en Gulietta gaan ry. My Italiaans is beperk tot, magnifico, eccenzionale en perfetto.

Ronnie Robbertze ·

Ek is die Pel met die Alfa bloed. Ek was mal oor die 4C. Dis presies wat n ALFA moet wees. Net die alfisti’s sal verstaan.

Wiehan ·

Stem saam Chris, 99% weet nie wat dit is om rygenot te ervaar nie. Lank lewes my 156 Auto Delta en 159.

Kayalami ·

Brendon, ja dit was ‘n wonderlikke gevoel om (in die vroeë 80’s ) aan die buitekant van Crowthorn saam met ‘n horde mede Alfisti te sien hoe die Alfas die BMWs, Fords, Nissans ens klop!

Chris Noordkus ·

Ek besit ‘n 2007 Alfa Brera 3.2 V6, na 10 jaar en 74 000 kilometers trek hierdie voertuig nog steeds oral aandag en kan mense nie glo die kar is 10 jaar oud nie. Ek het net een probleem met die Alfas en dis die prys , hierdie voertuie het geweldig duur geword vir enige ” alfaholic” sal maar aanhou ”powerball” speel

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.