Goedkoop koop gewoonlik vir ’n mens ‘n gat in die sak. Gelukkig is dit nie altyd die geval nie. Dié Suzuki Celerio is een van daai rare ontdekkings… ‘n goedkoop karretjie wat regtig beïndruk.
In die jare toet was dit maklik vir ʼn motorvervaardiger om vir ons goedkoop rygoed aan te bied. Die onderstelle was nie uitermate sterk of goed ontwerp nie, het geen speelgoed in gehad nie en die enjins het nie nodig gehad om aan allerhande uitlaatgasregulasies te voldoen nie. Deesdae is die prentjie heeltemal anders.
Ons vereis kragstuur, elektriese vensters en spieëls, lugreëling, lugsakke, ABS en Bluetooth, maar dan verwag ons terselfdertyd dat die voertuig amper gratis moet wees. Mmm. Ek haal my hoed af vir Suzuki. Hulle steur hulle nie aan almal wat tans turbo-mal is nie. Hulle bly getrou aan wat vir hulle werk. Goedkoop, eenvoudige voertuie wat goed gebou is teen ‘n billike prys…
Die Celerio is regtig oulik van buite. Glad nie ‘n lelike eendjie nie. Hy probeer ook nie sy “klein” wegsteek nie. Hy ís klein, en trots daarop – maar bied steeds sitplek vir vyf, of kom ons sê eerder sitplek vir twee groot en drie klein – en die kattebak is indrukwekkend aanvaarbaar vir so ’n klein tjor.
Die binneruim was vir my ‘n lekker verrassing. Eenvoudig uitgelê en alles is waar dit hoort. Alles is maklik om te ontsyfer en in ‘n raps is jou foon aan die Bluetooth gekoppel, reg vir die stadsverkeer – of die langpad. Die sitplekke bied goeie steun en sit lekker gemaklik. Alhoewel die bestuursposisie hoog is, sit dit tog lekker.
Die Celerio geniet ʼn piepklein 998cc-driesilinder-enjin. Hy bied 50 kW teen 6 000 r/min en 90 Nm teen 3 500 r/min. Dit mag dalk min klink – maar die veergewig Celerio tiep die skaal net so by 835 kg as hy leeg is. Ek hou baie van ʼn driesilinder. Hulle klink vir my soos kleiner Porsche-enjintjies en hou gewoonlik daarvan om hard gery te word. So – indien jy haastig is, trap hom en sodra die toere lekker hoog is, hol hy vir ‘n vale.
Op die pad voel die Celerio baie stewig in sy skoene. Klein karretjies word gewoonlik maklik gesteur deur ‘n sterk bries, maar nie die Celerio nie. Die Celerio is heeltemal tevrede om stadig in die verkeer te ploeter, óf om 120km/h op die snelweg te toer. Die rathefboom het ‘n positiewe gevoel en die verhouding tussen die ratte, rathefboom, koppelaar en enjin is goed gekalibreer sodat die Suzuki’tjie regtig maklik is om te bestuur.
Die ritgehalte voel ook beter as die meeste klein karre. Gewoonlik kan klein karretjies redelik rondhop as die pad lelik raak, maar tog word die Celerio nie maklik onkant gevang nie. Die vering is net reg vir die Celerio se grootte. Hy stamp nie op ondeunde oppervlaktes nie, maar hy loop ook nie en skud soos jellie nie – net reg.
Ek kan die Celerio maklik opsom. Dit is die regte opsie indien jy volgens ‘n begroting moet werk. Ja – daar is goedkoper karretjies beskikbaar, maar wees asseblief versigtig. Die Celerio is aangewys as die wenner in Car-tydskrif se Budget Car-kategorie. Suzuki maak al dekades lank klein karretjies, vertrou hulle – dis wat ék doen.
Die reeks lyk so:
Celerio 1.0 GA | 50 kW/ 90 Nm | 4.7 ℓ/100 km | R132 900 |
Celerio 1.0 GL | 50 kW/ 90 Nm | 4.7 ℓ/100 km | R149 900 |
Celerio 1.0 GL outo | 50 kW/ 90 Nm | 4.6 ℓ/100 km | R163 900 |
Die reeks word gedek deur ‘n 3 jaar/100 000 km-waarborg en ‘n 2 jaar/30 000 km-diensplan.
Die kompetisie lyk so:
Renault Kwid 1.0 Dynamique | 50 kW/ 91 Nm | 4.7 ℓ/100 km | 5 jaar/150 000 km-waarborg | R134 900 |
Mitsubishi Mirage 1.2 GL | 57 kW/ 100 Nm | 4.9 ℓ/100 km | 3 jaar/100 000km-waarborg 2 jaar/30 000 km-diensplan | R149 900 |
Nissan Micra 1.2 Visia+ audio | 56 kW/ 104 Nm | 5.2ℓ/100km | 6 jaar/150 000 km-waarborg | R159 900 |
Toyota Aygo 1.0 X-play | 51 kW/ 95 Nm | 4.4 ℓ/100 km | 3 jaar/100 000 km-waarborg | R160 000 |
Honda Brio 1.2 Comfort | 65 kW/ 109 Nm | 5.6 ℓ/100 km | 5 jaar/200 000 km-waarborg 2 jaar/30 000 km-diensplan | R166 300 |
Volkswagen take Up! 1.0 5 door | 55kW/ 95Nm | 4.6 ℓ/100 km | 3 jaar/120 000 km-waarborg | R166 800 |
Chevrolet Spark 1.2 LS | 60kW/ 108Nm | 5.4 ℓ/100 km | 5 jaar/120 000 km-waarborg | R168 200 |
Let op dat nie alle mededingers diensplanne as standaard byvoeg nie.
Regte stadsmotor, klein, parkeer maklik, ekonomies met heelwat gerief.
Drie ster NCAP gradering is gemiddeld met baie min ingeboude veligheids toestelle.
Naverkope diens is volgens my opinie nie in plek want Suzuki SA keer eienaars die rug toe.
Die gehalte van die naverkoopdiens wissel seker van plek tot plek. Ek ry nou met my derde Suzuki en kan nie kla oor die spul hier in PMB nie. Die dienste is wel ‘n bietjie duur indien jou diensplan verval het.