[Foto’s] Padtoets: Celerio ʼn ware winskoop

Die Suzuki Celerio (Foto: Suzuki)

Goedkoop koop gewoonlik vir ’n mens ‘n gat in die sak. Gelukkig is dit nie altyd die geval nie. Dié Suzuki Celerio is een van daai rare ontdekkings… ‘n goedkoop karretjie wat regtig beïndruk.

In die jare toet was dit maklik vir ʼn motorvervaardiger om vir ons goedkoop rygoed aan te bied. Die onderstelle was nie uitermate sterk of goed ontwerp nie, het geen speelgoed in gehad nie en die enjins het nie nodig gehad om aan allerhande uitlaatgasregulasies te voldoen nie. Deesdae is die prentjie heeltemal anders.

Ons vereis kragstuur, elektriese vensters en spieëls, lugreëling, lugsakke, ABS en Bluetooth, maar dan verwag ons terselfdertyd dat die voertuig amper gratis moet wees. Mmm. Ek haal my hoed af vir Suzuki. Hulle steur hulle nie aan almal wat tans turbo-mal is nie. Hulle bly getrou aan wat vir hulle werk. Goedkoop, eenvoudige voertuie wat goed gebou is teen ‘n billike prys…

Die Suzuki Celerio (Foto: Suzuki)

Die Celerio is regtig oulik van buite. Glad nie ‘n lelike eendjie nie. Hy probeer ook nie sy “klein” wegsteek nie. Hy ís klein, en trots daarop – maar bied steeds sitplek vir vyf, of kom ons sê eerder sitplek vir twee groot en drie klein – en die kattebak is indrukwekkend aanvaarbaar vir so ’n klein tjor.

Die binneruim was vir my ‘n lekker verrassing. Eenvoudig uitgelê en alles is waar dit hoort. Alles is maklik om te ontsyfer en in ‘n raps is jou foon aan die Bluetooth gekoppel, reg vir die stadsverkeer – of die langpad. Die sitplekke bied goeie steun en sit lekker gemaklik. Alhoewel die bestuursposisie hoog is, sit dit tog lekker.

Die Suzuki Celerio (Foto: Suzuki)

Die Celerio geniet ʼn piepklein 998cc-driesilinder-enjin. Hy bied 50 kW teen 6 000 r/min en 90 Nm teen 3 500 r/min. Dit mag dalk min klink – maar die veergewig Celerio tiep die skaal net so by 835 kg as hy leeg is. Ek hou baie van ʼn driesilinder. Hulle klink vir my soos kleiner Porsche-enjintjies en hou gewoonlik daarvan om hard gery te word. So – indien jy haastig is, trap hom en sodra die toere lekker hoog is, hol hy vir ‘n vale.

Op die pad voel die Celerio baie stewig in sy skoene. Klein karretjies word gewoonlik maklik gesteur deur ‘n sterk bries, maar nie die Celerio nie. Die Celerio is heeltemal tevrede om stadig in die verkeer te ploeter, óf om 120km/h op die snelweg te toer. Die rathefboom het ‘n positiewe gevoel en die verhouding tussen die ratte, rathefboom, koppelaar en enjin is goed gekalibreer sodat die Suzuki’tjie regtig maklik is om te bestuur.

Die ritgehalte voel ook beter as die meeste klein karre. Gewoonlik kan klein karretjies redelik rondhop as die pad lelik raak, maar tog word die Celerio nie maklik onkant gevang nie. Die vering is net reg vir die Celerio se grootte. Hy stamp nie op ondeunde oppervlaktes nie, maar hy loop ook nie en skud soos jellie nie – net reg.

Ek kan die Celerio maklik opsom. Dit is die regte opsie indien jy volgens ‘n begroting moet werk. Ja – daar is goedkoper karretjies beskikbaar, maar wees asseblief versigtig. Die Celerio is aangewys as die wenner in Car-tydskrif se Budget Car-kategorie. Suzuki maak al dekades lank klein karretjies, vertrou hulle – dis wat ék doen.

Die reeks lyk so:

Celerio 1.0 GA50 kW/ 90 Nm4.7 ℓ/100 kmR132 900
Celerio 1.0 GL50 kW/ 90 Nm4.7 ℓ/100 kmR149 900
Celerio 1.0 GL outo50 kW/ 90 Nm4.6 ℓ/100 kmR163 900

Die reeks word gedek deur ‘n 3 jaar/100 000 km-waarborg en ‘n 2 jaar/30 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk so:

Renault Kwid 1.0 Dynamique50 kW/ 91 Nm4.7 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km-waarborgR134 900
Mitsubishi Mirage 1.2 GL57 kW/ 100 Nm4.9 ℓ/100 km3 jaar/100 000km-waarborg

2 jaar/30 000 km-diensplan

R149 900
Nissan Micra 1.2 Visia+ audio56 kW/ 104 Nm5.2ℓ/100km6 jaar/150 000 km-waarborgR159 900
Toyota Aygo 1.0 X-play51 kW/ 95 Nm4.4 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborgR160 000
Honda Brio 1.2 Comfort65 kW/ 109 Nm5.6 ℓ/100 km5 jaar/200 000 km-waarborg

2 jaar/30 000 km-diensplan

R166 300
Volkswagen take Up! 1.0 5 door55kW/ 95Nm4.6 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km-waarborgR166 800
Chevrolet Spark 1.2 LS60kW/ 108Nm5.4 ℓ/100 km5 jaar/120 000 km-waarborgR168 200

Let op dat nie alle mededingers diensplanne as standaard byvoeg nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Piet Pompies ·

Regte stadsmotor, klein, parkeer maklik, ekonomies met heelwat gerief.
Drie ster NCAP gradering is gemiddeld met baie min ingeboude veligheids toestelle.
Naverkope diens is volgens my opinie nie in plek want Suzuki SA keer eienaars die rug toe.

Klaas ·

Die gehalte van die naverkoopdiens wissel seker van plek tot plek. Ek ry nou met my derde Suzuki en kan nie kla oor die spul hier in PMB nie. Die dienste is wel ‘n bietjie duur indien jou diensplan verval het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.