[Foto’s] Padtoets: Die beste een is die goedkoopste een…

Die Kia Sorento 2.2CRDi (Foto: Kia)

Kia het met die nuwe Sorento 2.2CRDi LS ’n wonderwerk verrig. Dt is ’n groot sportnutsvoertuig wat ’n mens vir minder geld kan koop as van die kompakte sportnutse. Hoe op dees aarde? Eintlik is dit eenvoudig. Hulle het al die onnodige fieterjasies uitgehaal. ’n Magdom goedjies van die vierwielaandrywingstelsel is uit, so ook die leerbekleedsel, van die lugsakke, die misligte en die klimaatbeheer… Nie een van dié dinge maak die Sorento ’n ander voertuig nie, maar die feit dat dit nie daar is nie, doen dit wel… Kom ek verduidelik.

Die 2.2CRDi LS is R200 000 goedkoper as die goedkoopste allewielaangedrewe model. Sjoe. Die LS is ook 149 kg ligter as die ander model. Dit is twee passasiers wat ’n mens uitlaai. Op die pad bied die gewigsbesparing ’n lieflike rit en beter brandstofverbruik – so eenvoudig soos dit.

Jy kry dieselfde bakwerk as die ander modelle, en die Sorento is baie mooi. Die binneruim is grootliks dieselfde as in die duurder modelle – net sonder van die tierlantyntjies. Die enjin en ratkas is presies dieselfde, en ’n lieflike kombinasie wat verskriklik lig is op brandstof. Die onderstel en vering is dieselfde. Die wiele is effe kleiner, 17” in plaas van 19”.

Die Kia Sorento 2.2CRDi (Foto: Kia)

Op die pad ry die Sorento LS heerlik op die kleiner wiele met groter profiel bande. Die enjin voel elke kW van sy 147 kW sterk. Die 440 Nm tussen 1 750 en 2 750 r/min sal die voorste bande vermoor indien jy laf raak met die versneller.

Die kajuit is regtig gemaklik en baie ruim. Die Sorento LS is stil op die oop pad en die kajuituitleg en bestuurposisie perfek vir my. Die instrumentasie is maklik leesbaar en al die kontroles eenvoudig om te ontsyfer.

Dit gebeur nie baie nie – maar ek dink in dié geval is die baba-diesel van die reeks die beste waarde aanbieding wat ek in ’n lang tyd gesien het.

Die reeks lyk só:

Sorento 2.4 LS127 kW/ 225 Nm9.2 ℓ/100 kmR457 995
Sorento 2.2CRDi LS147 kW/ 440 Nm6.7 ℓ/100 kmR489 995
Sorento 2.2CRDi LX147 kW/ 440 Nm6.7 ℓ/100 kmR582 995
Sorento 2.2CRDi AWD EX147 kW/ 440 Nm6.7 ℓ/100 kmR686 995
Sorento 2.2CRDi AWD SX147 kW/ 440 Nm6.7 ℓ/100 kmR713 995
Sorento 2.2CRDi AWD SXL147 kW/ 440 Nm6.8 ℓ/100 kmR733 995

Die reeks word gedek deur ’n 5 jaar/onbeperkte km-waarborg en 5 jaar/100 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só, al het die Sorento 2.2CRDi LS nie ’n direkte mededinger nie:

Toyota Fortuner 2.4GD-6 outo110 kW/ 400 Nm7.9 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km diensplan

R474 200
Ford Everest 2.2 XLS outo118 kW/ 385 Nm7.3 ℓ/100 km4 jaar/120 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R477 900
Volvo XC90 D4 Momentum140 kW/400 Nm5.2 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km-waarborg

5 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R932 124
Mercedes-Benz GLE 250d150 kW/500 Nm5.9 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

6 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R973 704
BMW X5 xDrive25d170 kW/ 500 Nm5.6 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R991 664

Die mededingers is moeilik om te kies. Die Fortuner en Everest loop op leerraamonderstelle en is agterwielaangedryf, so hulle is nie direkte mededingers nie. Die Volvo is voorwielaangedryf soos die Kia, en met amper dieselfde kragsyfers seker sy naaste mededinger. Die BMW en Mercedes-Benz is allewielaangedryf, so nie eintlik mededingers nie, maar ek het hulle hier ingesluit oor hul viersilinder-dieselenjins. Die mededingers val almal in dieselfde grootte-klas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Boela ·

Die probleem met die Sorento is sy gebrekkige grondvry-hoogte. Parkeer hom langs ‘n Fortuner of Everest en jy sal sien: hy sal nie hond haar af maak in die veld of selfs op ‘n slegte grondpad nie. Eintlik is hy maar net ‘n (bietjie) hoër stasiewa.

Waghond ·

Die Sorento is nie veronderstel om ‘n veldryer te wees nie. Jy kry egter baie kar vir jou geld en is ‘n beter voertuig as die Fortuner en Everest.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.