[Foto’s] Padtoets: Dié Clio wil aan die kraag gegryp word

Die Renault Clio GT-Line (Foto: Renault)

Die Clio GT-Line het my aanvanklik verwar. Ek besit self ’n Renault. Ek hou van die spesifikasievlak waarmee die motors te koop is. Al wat my teleurgestel het van die oorspronklike Clio 4 was die lig in die broek 900 cc met sy 66 kW.

Kyk, 66 kW is nie pateties nie – maar die Clio se onderstel smeek vir meer. Gelukkig het Renault die GT-Line in Suid-Afrika bekendgestel. Dit bied darem 88 kW en 205 Nm. Dit is darem baie beter as sy kleinboet se 140 Nm. Dit verander dadelik die Clio se karakter. Dít is mos hoe ’n Clio moet ry -– as ’n mens nie die vuurvretende Clio RS kan bekostig nie.

Die eksterieur is tipies Clio met mooier 17”-wiele en ’n paar visuele opkikkerings soos die chroom uitlaatpyp. Die GT-Line het lekker sitplekke wat ’n mens styf om die lyf vashou. Die sitplekke en die aluminium’n rathefboom gee vir mens die eerste indrukke dat dié Clio nie sy stadige kleinsus is nie.

Die klankstelsel bied navigasie en bluetooth met kontroles agter die stuurwiel. Die Clio was aanvanklik vir my ’n bietjie ongemaklik en dit het my ’n paar dae gevat om my stoel net reg te kry. Ek sukkel toe verder om ’n houvas op die Clio te kry. Een middag, laat om my kinders by sportoefening te kry, gryp ek die Clio en ry hom hard. Skielik maak die Clio heeltemal sin.

Die Renault Clio GT-Line (Foto: Renault)

Die GT-Line is meer ’n kleinboet vir die RS. Dit is nie ’n rustige, lig-op-brandstof inkopie-wa nie. Gryp dié Clio aan die kraag, pluk hom bietjie rond en hy raak skielik lewendig in jou hande. Sy ritgehalte is effe hard, maar sodra jy haastig raak en die padhouvermoë ontdek, dan pla die harde vering geensins nie.

Die stuurwiel is lekker akkuraat en die feit dat daar nie 1 miljoen perde onder die kap skuil nie, maak dat jy nooit geïntimideer voel om die Clio te druk en sien wat hy maak nie. Die ander verrassing is die handratkas. Die meeste motors wat deesdae sportiewe intensies het, kom met slim outomatiese ratkaste. Dit is verfrissend om ’n handrat te ry.

Renault het al ’n lang pad gekom in Suid-Afrika. Hulle waarborg is lekker sterk, en daar is ’n diensplan. Daar is ’n paar mededingers in dié klas en almal is fyn geprys. Gaan toetsbestuur hulle almal, jy sal dalk ’n juweeltjie ontdek.

Die reeks lyk só:

Clio turbo Authentique70 kW/ 150 Nm5.5 ℓ/100 kmR206 900
Clio turbo Expression70 kW/ 150 Nm5.5 ℓ/100 kmR226 900
Clio turbo Dynamique70 kW/ 150 Nm5.5 ℓ/100 kmR244 900
Clio 88kW turbo Expression outo88k W/ 150 Nm5.2 ℓ/100 kmR264 900
Clio 88kW turbo GT-Line88 kW/ 205 Nm5.3 ℓ/100 kmR264 900
Clio RS 200 Lux147 kW/ 260 Nm5.9 ℓ/100 kmR379 900
Clio RS 220 Trophy162 kW/ 280 Nm5.9 ℓ/100 kmR419 900

Die reeks word gedek deur ’n 5 jaar/150 000km-waarborg en 3 jaar/45 000km-diensplan. RS-modelle se diensplan is slegs 3 jaar/30 000 km.

Die kompetisie lyk só:

Peugeot 208 1.2T GT-Line81 kW/ 205 Nm4.5 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km waarborg 3 jaar/45 000 km-diensplanR259 900
Ford Fiesta 1.0T Titanium92 kW/ 170 Nm4.3 ℓ/100 km4 jaar/120 000 km-waarborg 4 jaar/60 000 km-diensplanR264 900
Opel Corsa 1.4 Turbo Sport110 kW/ 220 Nm5.8ℓ /100 km5 jaar/120 000 km-waarborg 3 jaar/60 000 km-diensplanR275 600

Daar is nie ’n slegte kar tussen die mededingers nie. Die Corsa se kragsyfers is indrukwekkend en nie baie duurder nie. Een gaan pas soos ’n handskoen – ry hulle almal en kies.

Die Renault Clio GT-Line (Foto: Renault)

Die Renault Clio GT-Line (Foto: Renault)

Die Renault Clio GT-Line (Foto: Renault)

Die Renault Clio GT-Line (Foto: Renault)

Die Renault Clio GT-Line (Foto: Renault)

Die Renault Clio GT-Line (Foto: Renault)

Die Renault Clio GT-Line (Foto: Renault)

Die Renault Clio GT-Line (Foto: Renault)

Die Renault Clio GT-Line (Foto: Renault)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Paul ·

Is selfs die RS regtig so “vuurvretend”? Met ‘n 0-100 tyd van 6.7 sekondes is dit definitief nie sleg nie, maar in vandag se terme is dit nie juis so waffers nie – meer “pret” as “vuurvretend”.

Die GT-Line met die 88kW enjin doen 0-100 in 9.4 sekondes. Dit grens aan pateties vir iets wat veronderstel is om “sportief” te wees in 2017. ‘n Toyota Corolla met ‘n 1.8-liter enjin, nie eers die RXi nie, het in die middel-90s reeds in dieselfde tyd van 0 tot 100 gedraf.

Natuurlik is versnelling nie alles nie – die manier hoe ‘n motor hanteer, is ook belangrik, maar selfs met die beste hantering gaan ‘n motor wat 1.1 ton weeg met 88 kW en 205 Nm nie die sportiefste wees nie.

Vir die prys is die Clio nie te sleg nie, maar dit maak dit nog steeds nie ‘n sportmotor nie. Vir die prys is ‘n McDonalds burger ook nie te sleg nie, maar dit maak dit nie ‘n driestermaaltyd nie.

Zani ·

Volgens my inligting loop die 88kW GT-Line van 0 tot 100km/h in 9.0 sekondes, maar ek gaan nou nie hare kloof oor ‘n amperse half-sekonde nie.

Vir die prys, met die toerusting en goeie waarborg, en die redelike goeie verrigting, is dit eintlik ‘n aantreklike keuse, veral wanneer dit vergelyk word met die STADIGE Corsa Sport (gaan kyk na sy massa en onderstel), baie ou Fiesta (die nuwe weergawe is byna hier), en kleinerige Peugeot.

Die Renault-Nissan alliansie verrig wondere!

Chrisjan ·

Nog ‘n kar vol tierlantyntjies!Ek het ‘n Renault 5 Ls nuut gekoop jare gelede en van hom ontslae geraak met 16,000km op.Die grootse drek wat ek in my lewe gery het!Renault?Nooit ooit weer nie dankie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.