[Foto’s] Padtoets: Dié Suzuki is oulik, én ʼn Motor van die Jaar-finalis

Die Suzuki Ignis (Foto: Suzuki)

Een van die 10 Motor van die Jaar-finaliste is die indrukwekkende, klein Suzuki Ignis. In die kantoor is hy as Ignatius gedoop. Annelize, Maroela Media se projekbestuurder, besit self ʼn Suzuki. Sy’t my nou al gek gemaak met allerhande planne oor hoe sy ʼn Ignatius van haar eie kan besit.

Soos ek al telkemale gesê het … karre hoef nie altyd 500-perdekrag en heerlike leerbekleedsel te hê nie. Aan die ander kant van die mark is daar ook klein juweeltjies. Die Suzuki Ignis is net só ʼn juweel. Hy is oulik, klein, ruim binne, het ʼn puik enjin en bied al die luukshede wat mens regtig benodig. Wat meer het mens nodig?

Die aangesig van Ignatius is uiters modern, en oulik. Mens kan verskillende kleurkombinasies kies. Rooi met ʼn swart dak of blou met ʼn wit dak (my gunsteling). Daar is ook ʼn magdom bykomstighede wat mens kan bestel om jou Ignis te verpersoonlik nes jy hom wil hê. Baie oulik.

Die binneruim is baie groter as die indruk wat die buiteproporsies skep. Daar is billike beenruimte vir die agterste passasiers en ʼn lugtige gevoel voor in die kajuit. Die radio is met Bluetooth toegerus, so mens kan lekker jou musiek van jou foon af speel deur die klankstelsel. Dit is nie net heeltyd speeltyd nie, Ignatius het ABS met elektroniese remkragverspreiding, remhulp en twee lugsakke.

Die Suzuki Ignis (Foto: Suzuki)

Die 1.2-viersilinder-enjin in die Ignis is puik. Die 61 kW en 113 Nm wat op papier staan, het geen verbintenis met hoe die Ignis op die pad voel nie. Die Ignis weeg slegs 850 kg en dit laat hom regtig sterk trek op die pad. Die 1.2-viersilinder is indrukwekkend lig op brandstof, al ry mens normaal – nie soos die belaglike NEDC-toetse gedoen word waar sportmotors 3 ℓ/100 km bereik nie. Die Ignis kom lag-lag by sy beweerde 5.1 ℓ/100 km uit. Die vyfspoedratkas werk ook soos ʼn droom en ʼn ligte koppelaar maak dit makliker om die verkeer te trotseer.

Ritgehalte is indrukwekkend vir so ʼn klein motor. Gewoonlik as daar so ʼn kort asafstand betrokke is, kan ʼn kar bietjie stamp-en-wip, maar nie die Ignis nie. Sy padhouvermoë is ook beter as wat mens verwag van ʼn klein regop luikrug wat ʼn kruismodel wil wees.

Dit is baie maklik om die Ignis op te som. Dit is ʼn puik klein voertuig. Suzuki is ʼn baie sterk vervaardiger op die oomblik. Sy voertuie loop weg met toekennings links en regs. Hy is verlede jaar aangewys as Cars.co.za se handelsmerk van die jaar. Mens kan hier nie ʼn fout maak nie.

Die reeks lyk só:

Suzuki Ignis 1.2 GL61 kW/ 113 Nm5.1 ℓ/100 kmR169 900
Suzuki Ignis 1.2 GLX61 kW/ 113 Nm5.1 ℓ/100 kmR189 900
Suzuki Ignis 1.2 GLX outo61 kW/ 113 Nm4.9 ℓ/100 kmR204 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/200 000 km-waarborg en 2 jaar/30 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Kia Picanto 1.2 Smart61 kW/122 Nm5.0 ℓ/100 km5 jaar/ onbeperkte km-waarborg

Opsionele diensplan

R195 995
Fiat Panda TwinAir Lounge63 kW/145 Nm4.2 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

3 jaar/100 000 km-diensplan

R199 900
Volkswagen Cross Up!55 kW/95 Nm4.7 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km-waarborg

Opsionele diensplan

R197 900

Tussen die kompetisie is die Panda regtig oulik en sterk, veral oor sy diensplan. Die tweesilinder-turbo-enjin het emmers vol wringkrag. Toetsbestuur hulle almal, een gaan jou hart gelukkig maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SE MAAR NET ·

Ek ry self ‘n Ignis. Ek ry 96 km per dag binne en buite verkeer. My gemiddelde brandstof gebuik is 19.9 km/h. En dis van stilstaande verkeer tot 130 km p/h. Ek noem haar cuteness. En my manlief noem haar naughtiness, want sy is baie stout met haar krag. Node loos om te se. Ek is dol verlief op haar…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.