[Foto’s] Padtoets: Die toekoms is opwindend met die BMW X5

Die BMW X5 (Foto: BMW)

Gelukkig het almal verskillende smaak. Indien nie, was die wêreld baie meer vervelig as wat dit tans is. Party mense, ek inkluis, hou van dieselmotors. Party hou uitsluitlik van petrolenjins. Party het al die voorreg gehad om volle elektriese motors te ry – en dit is regtig plesierig. Ek glo daar is plek vir elektriese voertuie, maar hibridiese motors is vir my in die kol.

Hibridiese dryfstelsels bied verskeie voordele. Een van die voordele is dat die voertuig vir ’n klein afstand slegs op elektriese krag kan ry. Die Europese Unie wil teen 2050 alle binnebrandenjins uit stede verban. Daar is vier groot stede wat teen 2025 die vuilste dieselenjins wil verban om lugbesoedeling te bekamp, naamlik Parys, Madrid, Atene en Mexiko-stad. Aan die ander kant het ’n mens nie reikafstand-angs met ’n hibridiese dryfstelsel nie.

Dit bring my by BMW se Drive-e-stelsels wat op verskeie voertuie beskikbaar is. Ons het ’n beurt gehad met die X5 xDrive 40e. Dié X5 geniet ’n petrol-hibridiese dryfstelsel. Daar is BMW se asemrowende tweeliter-viersilinder-petrolenjin en ’n sinchroniese elektriese-motor. Die X5 se blikbrein beheer watter krag na watter wiele toe gaan in watter hoeveelheid. Die stelsel beheer dit foutloos sonder dat jy agterkom wat aan die gang is, tensy jy daardie inligting op die iDrive-skerm vertoon.

Die BMW X5 (Foto: BMW)

Die 40e is soos elke ander X5 aan die buitekant, behalwe die klein laaiprop op die linker-voorste modderskerm. Ons toetsmotor het die mooi M-sport-afrondingspakket aangehad. Dit gee die X5 ’n paar visuele opkikkerings en laat hom sommer sportief lyk. Die binneruim op die X5 is BMW se unieke opinie van luuks. Ek hou daarvan. Daar is nie allerhande truuks en knoppies nie, net die iDrive wat alles beheer. Die sitplekke stel vinnig en perfek reg, maak nie saak hoe jy daarvan hou om te sit nie.

Hibridiese voertuie is aanvanklik nogal vreemd. Jy skakel hom aan en absolute stilte is al wat jy hoor. Sit die voertuig in rat en hy kruip stilletjies weg sonder ’n piep van die binnebrandenjin. Sodra jy jou voet ’n bietjie neersit, dan spring die enjin aan die lewe en jy versnel sonder enige drama. Ek neem aan BMW het baie werk aan die binnebrandenjin gedoen om hom so vibrasieloos en stil te kry. Indien die musiek hard speel deur die indrukwekkende klankstelsel, sal jy nie eens weet wanneer die binnebrand enjin aan- en afskakel nie, tensy jy die toereteller dophou.

Die BMW X5 (Foto: BMW)

In totaal bied die dryfstelsel vir jou 230 kW en 450 Nm-wringkrag. Dit is oorgenoeg stoom om die X5 van 0 – 100 km/h te slinger in 6.8 sekondes en dié 40e is beperk tot 210 km/h om te verhoed dat die elektriese enjin se omwentelinge per minuut te hoog styg. Daardie syfers is indrukwekkend. Die lekkerste deel van hibridiese voertuie is die wringkrag-aanvulling wat moontlik is. Indien daar klein gaatjies in die wringkragkurwe van ’n binnebrandenjin is, kan die ingenieurs die elektriese motor programmeer om daardie gaatjies te vul. Wat ’n mens dan kry is ’n heerlike progressiewe wringkragkurwe wat altyd krag kan bied, maak nie saak hoe vinnig of stadig jy ry nie.

Die ritgehalte in die X5 is indrukwekkend goed vir ’n groot sportnutsvoertuig op 20 duim-bande. Die padhouvermoë is ook puik. Die X5 bied vir my ’n goeie balans tussen padhouvermoë en gemak, waarmee ander fabrikate partykeer sukkel.

Die BMW X5 (Foto: BMW)

Om die X5 te laai is moeiteloos. Hy kom met twee kabels. Jy kan hom in jou motorhuis inprop en oornag laai, of jy kan hom by verskeie openbare laaistasies inprop en laai. Ek moes ’n bekendstelling bywoon in Melrose Arch. Daar is twee laaistasies waarby jy kan stop, inprop – jou sake afhandel en met ’n volgelaaide motor wegry. Hibridiese motors sal waarskynlik meestal by die huis gelaai word omdat dit nie noodsaaklik is om te ry sonder ’n gelaaide battery nie. Die motor skakel dan self oor na die binnebrandenjin.

Ek kan die X5 maklik opsom. As jy vir my gesê het ’n mens kan onder 5 ℓ/100 km handhaaf in uiterste gevalle in ’n X5, het ek gesê jy lieg. As jy vir my gesê het ’n tweeliter-viersilinder-X5 het soveel woema, het ek gesê jy lieg. Die X5 xDrive 40e is puik afgerond en ry heerlik. Daar is ook niks so lekker as om te weet dat al die energie wat herwin word as jy rem, die batterye laai nie. As hibridiese dryfstelsels jou interesseer, kyk gerus – jy sal nie spyt wees nie.

BMW se hibridiese reeks lyk so:

BMW 330e eDrive185 kW/420 Nm1.9 ℓ/100 kmR767 400
BMW X5 xDrive40e230 kW/450 Nm3.3 ℓ/100 kmR1 188 600
BMW 740e eDrive240 kW/500 Nm2.1 ℓ/100 kmR1 496 500

Die reeks word gedek deur ’n 2 jaar/onbeperkte km-waarborg op die voertuig en 8 jaar/100 000 km op die battery, asook ’n omvattende 5 jaar/100 000 km-instandhoudingsplan. Die brandstofverbruiksyfers is in ’n labratorium bereik en is nie ’n geloofwaardige syfer vir alledaagse bestuurstyle nie.

Die kompetisie lyk so:

Volvo XC90 T8 AWD Momentum300 kW/640 Nm2.1 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 128 800
Lexus RX450h SE230 kW/335 Nm5.7 ℓ/100 km4 jaar/100 000 km-voertuigwaarborg

8 jaar/195 000 km-batterywaarborg

4 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 181 500
Mercedes-Benz GLE500e325 kW/650 Nm3.3 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

6 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 310 000
Porsche Cayenne S E-Hybrid306 kW/590 Nm3.4 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

3 jaar/90 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 531 000

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.