[Foto’s] Padtoets: Die weergalose Porsche Panamera  

Die nuwe Porsche Panamera (Foto: Porsche)

Almal het hulle droomkar. Vandat ek ʼn klein laaitie was, wou ek ʼn Porsche hê. As die Lotto-gode nou vir my ʼn kleinhuisie vol geld in die bank deponeer ry ek direk Porsche toe en koop vir my ʼn GT3. Ek het nog nooit in een gery nie, maar ek soek een. Toe Porsche dus een oggend skakel en sê ek mag ʼn beurt kry met die Panamera, het ek amper flou geword!

Ek breek amper my foon se skerm soos ek die inligting soek oor die Porsche Panamera 4S. Ek lees daar is 324 kW en 550 Nm. My palms begin sweet soos die opwinding my hart vinniger laat klop. Die stemmetjie in my kop sê vir my: “Weet jy hoe is ʼn Porsche met 324 kW?” Een ding van ʼn Porsche: Hulle het nie altyd die meeste krag nie, maar wat hulle met daai krag doen, is asemrowend.

Die nuwe Porsche Panamera (Foto: Porsche)

0 – 100 km/h in 4,2 sekondes. Sjoe. 289 km/h. Oooooeeeeeee. Ek troos myself dat die Panamera 4S gelukkig allewielaandrywing het. Toe wag ek vir die dag dat ek die Porsche mag gaan haal. Soos ʼn glimlaggende tiener wat sy meisie se pa vir die eerste keer ontmoet daag ek by Porsche in Johannesburg op. Ek is opgewonde, maar benoud oor die verantwoordelikheid wat saam met die sleutel kom. Ná ons deur die truuks en funksies is vat ek die pad. Ek is eers versigtig en probeer sin maak van die Panamera se proporsies. Dit is nie ʼn klein kar nie, maar hy voel nie groot nie. Die binneruim voel meer soos ʼn kajuit. Alles is vir die bestuurder ergonomies uitgelê. Porsche het verseker dat die passasiers gemaklik en veilig is, maar die fokus lê nie by hulle nie.

Die eerste keer wat ek die versneller bietjie masseer kom ek dadelik agter, dié Panamera kan maklik teen 120 km/h op die snelweg ploeter, maar daar is baie krag onder jou regtervoet. Bitter baie. Na so 80 km besluit ek dat ek al bietjie gewoond is aan die Panamera en sy gedrag. Waar die verkeer toelaat begrawe ek my regtervoet diep in die mat. Die 8-spoed PDK- outomatiese ratkas skop ʼn hele paar ratte terug en skielik verander die luukse gemakstoel in en tuimeltrein met ʼn vuurpyl aan hom vas. Dit is letterlik asemrowend. Soos die Panamera die ratte klim begin my asemhaling stadig normaliseer. Wow. Dit is verslawend.

Die nuwe Porsche Panamera (Foto: Porsche)

Toe ek by die huis aankom lyk dit of die seuns se oë uit hul koppe gaan val. Tot my vrou sê: “Sjoe, dit is mooi!” Nou kyk, dit is een groot verrassing van die Panamera. Die eerste Panamera was glad nie mooi nie. Eintlik ʼn bietjie lelik. Nes die eerste Cayenne. Ek kan nie besluit wat presies Porsche gedoen het nie, maar die “nip en tuck” wat hul gedoen het, het wonders verrig.

My foon het nie ophou lui met pelle wat wou kom sien, kyk en voel nie. Ek het eers na ʼn paar dae die lanseerbeheer probeer. Dit is skrikwekkend. Fisika sê dat dit onmoontlik is vir twee ton om só te versnel. Jy staan stil, en dan doen jy 70 km/h. Wat meer beïndruk is hoe die Panamera dit doen, elke keer, weer en weer – sonder drama. Stadig maar seker begin my liefde vir dié handelsmerk geregverdig word. Die Panamera met sy lieflike 2,9 V6 turbopetrolenjin is verwarrend. Indien jy jou in toom kan hou, is hy billik op brandstof en toer rond soos enige ander luukse motor. Maar, dan is daar die ander persoonlikheid wat onder die versneller wegkruip. Gooi net brandstof in en kyk in bewondering aan hoe die groot, 4-deur, 4-sitplek, luukse Porsche jou hartsnare roer.

Die nuwe Porsche Panamera (Foto: Porsche)

Hier moet ek dan byvoeg. Die Porsche is eintlik gevaarlik in die eerste ruk terwyl jy hom leer ken. Die kar is só doeltreffend in wat hy doen dat jy nie agterkom hoe vinnig jy ry nie. As jy nie oplet nie gaan die veiligheidstelsels jou net so ver bring. Ek het met die einste Porsche myself vir die eerste keer in tien jaar bang gery. Ek vra nou nog gereeld vir die passasier om verskoning. Ek is bly my oomblik van “boetie, pasop vir jou!” was in ʼn Porsche. Ek is oortuig dat nie veel ander handelsmerke die draai sou gemaak het nie – maar die Panamera was vas op sy voete en die PASM (Porsche Advance Suspension Management) met die PTM (Porsche Traction Management) het verseker dat ek en my passasier vandag kan terugdink en sê: “Dit was rof.”

Met nuwe respek vir Porsche en ʼn beter idee van waar my emmer van talent leegloop het ek die Porsche teruggegee. Dit was voorwaar ʼn belewenis.

Die Panamera 4S het ʼn magdom veiligheidstelsels. Een wat ek glo standaard toerusting moet word in alle voertuie is die Night View-infrarooi kamera met voetgangerwaarskuwing. As jy in die nag sou ry skakel die infrarooiskerm in die kajuit aan en die voertuig waarsku jou van ʼn voetganger. Die hoofligte sal ook as waarskuwing flits aan die kant waar die voetganger is. Dié tegnologie is indrukwekkend effektief en glad nie hinderlik nie.

Die baanbeheer- en blindekolwaarskuwingstelsels in die Porsche werk ook fantasties. Die baanbeheer trek glad nie aan die stuur nie en gee net ʼn vibrasie deur die stuurwiel sodat jy weet jy is besig om uit jou baan uit te dwaal. Die Adaptive Cruise Control verseker gemaklike snelwegreistogte. Jy stel ʼn sekere spoed en die spoedbeheer verseker dat die voertuig stadiger ry indien daar byvoorbeeld ʼn voertuig voor jou is. Sodra die voertuig wegskuif versnel die voertuig self terug na die spoed wat jy gekies het.

Die nuwe Porsche Panamera (Foto: Porsche)

Die raakskerm in die kajuit is ook indrukwekkend. ʼn Mens kan sien dat ʼn pasgemaakte skerm gemaak is vir die spasie. Alle stelsels kan deur die raakskerm beheer word en die Bose-klankstelsel verseker dat jy jou musiek kan geniet.

Ek het gesukkel om die Panamera aanvanklik te verstaan en te besluit waar hy in die reeks pas. Ek gesels toe ʼn bietjie met Porsche en wat hulle vir my sê maak heeltemal sin. Alle Porsche-voertuie is uit die staanspoor ontwerp en gebou as sportmotors. Die vraag dan is, wat soek jy? ʼn Klein afslaandak of tweedeursportmotor, dan koop jy ʼn 718 Cayman of Boxster. Die 911 is die tradisionele Porsche. Panamera is ʼn luukse vierdeur, viersitpleksportmotor. Macan en Cayenne is sport-nutsvoertuie. Die 918 is ʼn hiper-sportmotor.

Ek het altyd gewonder, hoe bestaan die Autobahn nog? Dit is heel eenvoudig. Mens sal met gemak, heel veilig teen die Autobahn kan op- en af jaag teen 300 km/h en die voertuig sal dit kan hanteer. Ek sal eendag ʼn Porsche besit.

Die reeks lyk so:

ModelKragVerbruik0 – 100 km/hPrys
Panamera243 kW/ 450 Nm7,5 ℓ/100 km5,5 sekR1 361 000
Panamera 4243 kW/ 450 Nm7,7 ℓ/100 km5,3 sekR1 390 000
Panamera 4 Executive243 kW/ 450 Nm7,8 ℓ/100 km5,4 sekR1 498 000
Panamera 4S324 kW/ 550 Nm8,1 ℓ/100 km4,2 sekR1 588 000
Panamera 4S Executive324 kW/ 550 Nm8,2ℓ/100 km4,3 sekR1 823 000
Panamera Turbo404 kW/ 770 Nm9,3 ℓ/100 km3,6 sekR2 481 000
Panamera Turbo Executive404 kW/ 770 Nm9,4 ℓ/100 km3,7 sekR2 684 000
Panamera Turbo S E-Hybrid500 kW/ 850 Nm2,9 ℓ/100 km3,4 sekR2 931 000
Panamera Turbo S E-Hybrid Executive500 kW/ 850 Nm2,9 ℓ/100 km3,5 sekR3 134 000
Panamera 4 Sport Turismo243 kW/ 450 Nm7,8 ℓ/100 km5,3 sekR1 431 000
Panamera 4S Sport Turismo324 kW/ 550 Nm8,2 ℓ/100 km4,2 sekR1 667 000
Panamera Turbo Sport Turismo404kW/ 770Nm9,4 ℓ/100 km3,6 sekR2 522 000

Die reeks word gedek deur ʼn twee jaar onbeperkte km waarborg en 3 jaar/ 90 000 km omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk so:

Mercedes-AMG E43 4Matic295 kW/ 520 Nm8,4 ℓ/100 km4,6 sek

250 km/h

2 jaar/ onbeperkte km waarborg

6 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 174 008
BMW 640i Gran Coupé331 kW/ 550 Nm7,5 ℓ/100 km5,4 sek

250 km/h

2 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudinsplan

R1 269 156
Audi S7 Sportback Quattro235 kW/ 450 Nm9,3 ℓ/100 km4,6 sek

250 km/h

1 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudinsplan

R1 295 000
Jaguar XJ 3.0 Supercharged Portfolio250 kW/ 450 Nm9,1 ℓ/100 km5,9 sek

250 km/h

3 jaar/ 100 000 km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 935 774

Die kompetisie is moeilik. Die enigste voertuig wat baie naby kom, is die Audi S7 Sportback. ʼn Baie luukse koepee met vier deure. Die Mercedes-AMG is ʼn gewone sedanmotor. Die gaping tussen die BMW 640i en M6 is te groot, prysgewys en met die kragsyfers. My hart lê tog by die Porsche.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.