[Foto’s] Padtoets: Ford en Suid-Afrika skryf al dekades aan dié roman…

Ford Focus RS (Foto: Ford)

Ons Suid-Afrikaners het ’n lang geskiedenis met Ford. Ek kan aan talle stories dink van dié oom se Ranchero, daai tannie se Fairlane, my oom se Cortina XR6, sy pel se 3.0S, my stiefpa se Cortina-bakkie waarmee ons karavaan gesleep het en dan die roemryke XR6 Interceptor en Basil Green se Capri Perana! Die modelle was almal voor die laat tagtigerjare.

Toe was daar vir ’n geruime tyd ’n Ford-droogte in Suid-Afrika. Ons Fords was eintlik Mazdas, gebou onder lisensie by Samcor. Gelukkig het Ford teruggekoop in ons land en begin herbou aan dit wat verlore gegaan het. Ons eerste warm Ford daarna was moontlik die Fiesta, Focus en Mondeo ST’s van die vroeë twee-duisende. In 2010 het Ford ons petrolkoppe lus gemaak met die eerste weergawe van die Focus RS wat ons in Suid-Afrika kon koop. Dié RS het 224 kW en 320 Nm uit sy 2.5 liter-vyfsilinderenjin getrek en dit deur die voorwiele gestoot, maar daar het net ’n handjievol die land binnegekom.

In 2016 het Ford ons aan die gons gehad met die splinternuwe Focus RS. Hy het dieselfde enjin as die viersilinder Mustang. Dit is ’n 2.3 liter-viersilinder met 257 kW en 440 Nm. Omdat die RS vierwielaandrywing het kan ’n mens elkeen van daai 350 perde op die teer neerplak. Ek kry sommer hoendervleis. Hy lyk nog mooi ook! Sjoe.

Daar is klomp verskillende tipes motors. Luuks, stadig, ekonomies, sterk, groot… en dan lekker. Net lekker. Kan jy nog onthou op skool, toe die mooiste meisie wat jy geglo het buite jou bereik was instem om saam met jou te gaan fliek? Die Focus RS voel net só. Soos ek nader aan hom stap, begin ek glimlag. Hy staan stil en lyk sommer stout.

Ford Focus RS (Foto: Ford)

As jy inklim, gryp die Recaro-sportsitplekke jou om die lyf soos jy nog nooit vasgehou is nie. Druk die knoppie en die juweel van ’n enjin blaf aan die gang. Jy weet oombliklik die ingenieurs het nie omgegee of jy die bure steur nie. Nog hoendervleis. Ek beweeg stadig uit die parkeerterrein by die kantoor en probeer so min as moontlik aandag trek. Ek wil nie hê die mense moet my vrou bel en sê ek is met een of ander flerrie hier by die kantoor weg nie. Ek hou al die naaldjies en wysers dop. Die oomblik wat ek dink die kar is op ’n goeie operasionele temperatuur begrawe ek my regtervoet in die mat. Die hoendervleis kruip oor my skouers en ek groei ’n glimlag so groot ek kon net sowel ’n hanswors gewees het.

Die verkeerslig is oombliklik by my en ek is bly om te sien dat die remme die 350 perde tot stilstand kan bring. Glimlaggend klim ek op die snelweg en wonder hoe ek vir al die brandstof gaan betaal. Elke keer as jy die pedaal hard trap dan brul die viersilinder soos geen ander nie. Dit is ’n mengsel tussen uitlaatpyp- en induksiegeraas. Dit is wonderlik. Nog hoendervleis. Die rathefboom gly perfek tussen die ratte, nes jy dit nodig het, terwyl die stuur verseker dat die vuurpyl in die regte rigting gaan, elke keer.

Ford Focus RS (Foto: Ford)

Dit ritgehalte verbaas. ’n Kar wat op 19-duim wiele met laeprofielbande ry behoort hom baie slegter te gedra as wat die RS doen. Die kajuit is net so ruim soos enige ander Focus, behalwe as jy die hardedop-sitplekke kies, dan is die beenruimte agter bietjie minder. Die bougehalte in die kajuit is indrukwekkend en die aangesig van buite vir my regtig mooi met die RS-afrondings.

Toe ek by die huis aankom, kyk my twee seuns die Ford met groot bewondering aan. Die vrae spoel oor hul lippe. Hoe vinnig, hoeveel blaasdinge, is hy sterk, kan hy bande kners… My kinders is mal oor die Ford; hulle wil met elke geleentheid saamry. My vrou is nie mal oor die kar nie; sy hou nie van spoed nie. Die Focus is maar swaar op brandstof. Soos ek met hom rondgejaag het is dit ’n jammerte dat ek nie vriende in Saoedi-Arabië het nie. Ek moes ’n kollega optel ná hy sy motor ingegee het vir ’n diens. Hy’t aanvanklik bietjie bang gelyk – en toe die Focus eers vastrap, het hy gedink ons gaan in ’n wentelbaan beland. Hy is só oortuig dat Ford die eerste voertuig is wat in die ruimte sal kom, hy’t sommer vir hom ’n Focus 1.0 Ecoboost gaan koop.

Ek kan die Focus RS maklik opsom. Ek is gek oor die kar. Nie net die kar nie, maar dit waarvoor die kar staan. Dit is ’n raserige, vierwielaangedrewe, handrat-vuurpyl. Hy is ongeskik  en blitsvinnig. Hy het tot ’n drift-modus en lanseerbeheer. Hoe cool is dit? Daar is min jongmense wat die RS kan bekostig, maar vir dié oues wat kan, gaan hy jonk laat voel. Daarop kan ’n mens nie ’n prys sit nie.

Só lyk die RS:

Ford Focus RS257 kW/440 Nm7.7 ℓ/100 km4 jaar/ 120 000km-waarborg

5 jaar/ 100 000km-diensplan

R699 900

Die kompetisie lyk so:

BMW M140i250 kW/500 Nm7.8 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/ 100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R640 726
Volkswagen Golf R213 kW/380 Nm7ℓ /100 km3 jaar/120 000 km-waarborg

5 jaar/ 90 000 km-diensplan

R647 300
Mercedes-AMG A45 4Matic280 kW/475 Nm7.3ℓ /100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

6 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R773 914

Die kompetisie is sterk, maar daar is min wat jou ego sal streel soos die handrat-Ford. Ek is versot en verlore en beraam allerhande planne oor hoe om een te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Brendon ·

Dagsê Paul,

Baie dankie vir jou kommentaar. Ek’t slegs luikrugmotors vergelyk. Tegnies gesproke sal die WRX STi ook meeding, ja.

Groetnis,
Brendon
nms Maroela Media

Paul ·

O ja, dis waar – die nuwe WRX is nie meer in ‘n luikrug-weergawe beskikbaar nie.

Pine ·

En wat van die Audi S3? Die Audi is by die R40k goedkoper, ligter op brandstof, onberispelike bougehalte en sal die Ford vreet soos ‘n mielie…

Elkeen het seker sy voorkeur. Maar lekker bly lekker!

Trots Afrikaans ·

Absolute wenner van Ford, net jammer oor die prys wat op BMW/Mercedes Benz/Audi vlak meeding. Die 3 Duitsers gaan beter herverkoop waarde he, maar die Ford sal ‘n winskoop vir die volgende eienaar wees.

Waghond ·

Die Ford Focus RS is ‘n belewenis. Dit is ‘n mooi kar wat aantrek. En daai engine gee jou ‘n “thrill” in jou allie. Lekker man, lekker – pure plesier!

Werner ·

Mens kry ‘n brandende behoefte om ‘n duur Ford te besit. Gmpf…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.