[Foto’s] Padtoets: Honda BR-V 1.5 Comfort

Honda B-RV (Foto: Honda)

Welkom by Honda se mededinger in ʼn piepklein mark van drie. Mens wonder dalk hoekom die BR-V so lank en maer lyk en daar is ʼn veeldoelige rede daarvoor. Daar skuil ʼn ekstra twee sitplekke agter in daai kattebak. Dit is ʼn kompakte, veeldoelige 7-sitplek-voertuig en tussen sy twee mededingers, die Toyota Avanza en Suzuki Ertiga, glad nie ʼn lelike eendjie nie.

Die Honda BR-V kan mens eintlik meer klassifiseer as ʼn outydse stasiewa. Slim verpakking laat vir Honda toe om twee klein sitplekke in die kattebak te pas. Met ʼn paar skuiwe en trekke is daar binne ʼn japtrap nog twee sitplekkies. Moet nou nie al die manne bel en ʼn jag-trip reël vir sewe hardebaarde nie … dit sal ongelukkig nie deug nie. Vier volwassenes en drie kleintjies … dit sal kan werk, ja.

Honda B-RV (Foto: Honda)

Die Honda is netjies ontwerp en sy slim versierings laat hom taai lyk. Die binneruim is eenvoudig uitgelê en van duursame materiale gemaak. Die meeste luukshede wat jy sou benodig as ma-wa-bestuurder van lugreëling tot lugsakke is daar.

Die BR-V het Honda se atmosferiese 1.5 liter-V-tec-viersilinderenjin gepaard aan ʼn 6-gang-handrat. Ek is ʼn groot liefhebber van klein atmosferiese enjins wat van toere hou. Hulle kan lekker rustig rits in die woonbuurt of, indien nodig, op die oop pad sit jy voet in die hoek en laat die toere klim; heel bo in die toerestrek is daar ʼn skatkis vol krag om te gebruik as dit pappa se beurt is met die BR-V. Die 6-gang-ratkas hou die toere en brandstofverbruik lekker laag teen 120 km/h.

Al wat bietjie tyd vat om aan gewoond te raak is Honda se ratte wat vreeslik naby aan mekaar is. Sodra mens die kierie gewoond raak, is als weer piekfyn.

Honda B-RV (Foto: Honda)

Ek kan die Honda so opsom: Die BR-V ry heel gemaklik en lekker. Die vering is sag genoeg om gemaklik te wees, dog hard genoeg om die ekstra mensies te dra en bakrol te verhoed.

Die enjin is regtig lekker en daar is oorgenoeg woema wanneer dit nodig is. Die ekstra sitplekke sit die BR-V in ʼn mark van drie, en hy is goed geprys. ʼn Wennertjie. Annelize, Maroela Media se projekbestuurder, sê die Honda was ʼn totale plesier wat spasie betref. Die BR-V het stewig gevoel en die spasie vir al haar kindertjies en hul bagasie was regtig aangenaam. Die kierie het ook vir Annalize bietjie gepla en sy was nie gaande oor die bekleedsel nie. Sy sal dan net na die Elegance-model moet kyk, dit het leer.

Die reeks lyk so:

BR-V 1.5 Trend88 kW/145 Nm6.3 ℓ/100 kmR238 900
BR-V 1.5 Comfort88 kW/145 Nm6.3 ℓ/100 kmR252 900
BR-V 1.5 Comfort outo88 kW/145 Nm6.2 ℓ/100 kmR268 300
BR-V 1.5 Elegance88 kW/145 Nm6.3 ℓ/100 kmR272 900
BR-V 1.5 Elegance outo88 kW/145 Nm6.2 ℓ/100 kmR288 300

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/200 000 km-waarborg en 2 jaar/30 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk so:

Toyota Avanza 1.577 kW/137 Nm6.3 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

4 jaar/60 000 km-diensplan

R278 500
Suzuki Ertiga 1.4 GL70 kW/130 Nm6.2 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

4 jaar/60 000 km- diensplan

R219 900

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Klaas ·

Net jammer dat dit nie ‘n sleepwa mag sleep nie en dat die topspoed beperk is tot 140km ph.

Brendon ·

Dagsê Klaas,

Baie dankie vir jou kommentaar. Ek’t nou met Honda SA bevestig. Die BR-V is beperk tot 160km/h, nie 140km/h nie. Ek kan ook getuig dat die BR-V baie vinniger as 140km/h kan haal. Jy is egter reg oor die feit dat hy nie ‘n sleepstang kan akkomodeer nie.

Groetnis,
Brendon
nms Maroela Media

Koos1 ·

Die Ertiga is grooter as die Honda. Krag het dit ook genoeg, mag ‘n sleepstang opkry en kan ver oor die 140km/h ry (wat totaal onwettig is). As iemand in die mark is, gaan toets al drie en besluit self. Die Ertiga is ongelukkig net in ‘n ligte afwerking beskikbaar.
Daar is egter ook ‘n Chineese opsie FAW Sirrus S80. Ook nie ‘n slegte kopie nie, maar sy herverkoop waarde gaan baie laer wees as die ander drie.
Hierdie is beslis nie net Toyota se mark nie, maar hulle het wel die herverkoop waarde en baie goeie handelaar ondersteunings netwerk. Baie moelike keuse vir iemand in die mark. Ek persoonlik dink die Ertiga het die beste brandstof verbruik, maar ek kan dit nie met feite staaf nie, want ek het die ander nog net getoets en nie gery nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.