As ons kyk na die medium-grootte sportnutsvoertuie wat dié uitleg in Suid-Afrika bekend, gewild en toeganklik gemaak het, kom twee modelle na vore. Die Nissan Xtrail en die Hyundai Tucson. Soveel as 56 408 eenhede van die eerste generasie Tucson en iX35 is in Suid-Afrika verkoop – ʼn bewys van dié voertuie se gewildheid.
Die nuwe Tucson is wel nou in sy tienerfase en het, nes ʼn kind, ook duurder geword. Ook net soos ʼn tiener mooier en meer volwasse en met goeie maniere. Die nuwe Tucson is bewys dat dié motorvervaardiger ‘goeie ouers’ is.
Die derde generasie Tucson het ʼn meer aggressiewe voorkoms as dié van sy voorganger. Dit is vir my geensins ʼn probleem nie.
Die tweede generasie, genoem iX35, was vir my te verfynd met kieskeurige lyne. Die binneruim is eenvoudig en verfrissend. Hier is nie oortollige goetertjies in dié kajuit nie. ʼn Gemaklike bestuursposisie is maklik gevind en al die kontroles val ergonomies binne bereik. Al die tegnologie is ook maklik om te bewerk. Die Tucson Elite is vrygewig toegerus. ʼn Magdom luukshede verseker dat elke reis ʼn gemaklike een is. Daar is klimaat- en spoedbeheer, ʼn elektries verstelbare bestuurdersitplek, outomatiese ruitveërs en ligte. Veiligheidstelsels sluit in ʼn blindekolwaarskuwingstelstel, voertuigstabiliteitbeheer en agterkruisverkeeralarm – een van my gunstelinge, veral as ek uit my pypsteel terugstoot en nie mooi kan sien wat in die pad aangaan nie. Dan waarsku hy indien daar verkeer is wat in die pad aankom. Hellingbeheer is nog ʼn tegnologiese hulpmiddel wat puik werk, veral as jou oprit ʼn bietjie steil is, verseker dit dat jy nie terugrol in die pad in nie.
Ek moet bieg dat ek deesdae nie smoorverlief is op dubbelkoppelaarratkaste nie. Ek vind hulle nie puik as dit met ʼn dieselenjin gepaard is nie. Ek is bly dat Hyundai besluit het om ʼn gewone outokas met ʼn wringkragomsitter te gebruik. Dié ratkas is ook reg geprogrammeer en gee ʼn mens toegang tot al die dieselenjin se wringkrag, maak nie saak teen watter spoed jy ry nie. ʼn Slegte ratkas maak ʼn dieselenjin regtig onplesierig, maar as ʼn mens dit regkry soos Hyundai met dié Tucson, dan is dit voorwaar gerieflik.
Dié enjin bied 131 kW en 400 Nm. Dié 2,0-dieselenjin is toegerus met ʼn spesifieke turbo met eienskappe wat goed werk in die suurstofontneemde Hoëveld. Dié turbo gepaard met die effektiewe wringkragomsitter in dié Tucson sorg vir ʼn aangename bestuurservaring. Ek het ʼn indrukwekkende gemiddelde brandstofverbruiksyfer van 6.8 ℓ/100 km gehandhaaf. Dié Tucson se bene is lank en hy trek soos ʼn trein. Ek meen al wat kort is allewielaandrywing – maar, dit verander ʼn voertuig se karakter, gewig en natuurlik sy prys.
Die ritgehalte en vering in die Tucson is nog ʼn goeie eienskap van dié voertuig. Hy ry lekker sag en stil maar kan hom steeds gedra indien jy bietjie voet in die hoek sit. Hyundai het nog ʼn bietjie toordery toegevoeg op die Tucson se kattebak. Die vloer is plat en die kattebak nie te versmaai nie, en tog is daar ʼn volgrootte spaarwiel onder die vloer.
Ek kan die Tucson maklik opsom. Dit is ʼn puik alternatief vir sy mededingers. Hyundai bou al lankal goeie gehalte voertuie met ʼn indrukwekkende spesifikasievlak en ʼn klasleidende waarborg. Die enjin en ratkas is fantasties en die brandstofverbruik baie goed. Al wat my bietjie krap is die prys. In dié prysklas is daar ook groter opsies soos die Everest, Fortuner en Trailblazer. Hier is klomp alternatiewe, één van hulle gaan jou kielie en jou sak pas.
Die reeks lyk so:
Tucson 2.0 Premium | 115 kW/ 196 Nm | 8.9 ℓ/100 km | R379 900 |
Tucson 2.0 Premium outo | 115 kW/ 196 Nm | 9 ℓ/100 km | R399 900 |
Tucson 1.6 Turbo Executive | 130 kW/ 265 Nm | 8.3 ℓ/100 km | R449 900 |
Tucson 1.7CRDi Executive | 85 kW/ 280 Nm | 4.7 ℓ/100 km | R449 900 |
Tucson 2.0 Elite outo | 115 kW/ 196 Nm | 9 ℓ/100 km | R469 900 |
Tucson 1.6 Turbo 4WD Elite | 130 kW/ 265 Nm | 8.5 ℓ/100 km | R534 900 |
Tucson 2.0CRDi Elite | 131 kW/ 400 Nm | 6.7 ℓ/100 km | R539 900 |
Die reeks word gedek deur ʼn vyf jaar/ 150 000 km voertuig en sewe jaar/ 200 000 km dryfstelsel waarborg en ʼn vyf jaar/ 90 000 km diensplan.
Die kompetisie lyk so:
Mazda CX-5 2.2DE Active | 110 kW/ 380 Nm | 5.7 ℓ/100 km | 3 jaar/ onbeperkte km waarborg 3 jaar/ onbeperkte km diensplan | R440 100 |
Kia Sportage 2.0CRDi EX | 130 kW/ 400Nm | 6.8 ℓ/100 km | 5 jaar/ onbeperkte km waarborg 5 jaar/ 90 000 km diensplan | R487 995 |
Ford Kuga 2.0TDCi AWD Trend | 132 kW/ 400 Nm | 6.2 ℓ/100 km | 4 jaar/ 120 000 km waarborg 5 jaar/ 90 000 km diensplan | R499 900 |
Toyota Rav4 2.2D-4D AWD VX | 110 kW/ 340 Nm | 6.5 ℓ/100 km | 3 jaar/ 100 000 km waarborg 5 jaar/ 90 000 km diensplan | R549 700 |
Volkswagen Tiguan 130kW 2.0TDI 4Motion Highline | 130 kW/ 380 Nm | 6.4 ℓ/100 km | 3 jaar/ 120 000 km waarborg 5 jaar/ 90 000 km diensplan | R558 300 |
Al hierdie voertuie is goed, maar onbekostigbaar .
Die Mazda CX5 bied waarde vir geld en is my keuse.