Ek moet bieg. In sekere opsigte is ek maar redelik snobisties. Ja, ek trek my neus maar lekker hoog in die lug vir van die nuwe vervaardigers wat ons motormark hier in Suid-Afrika kom omkrap. Die twee skuldiges hier is die Sjinese en die Indiërs.
Van die eerste TATA-produkte wat in Suid-Afrika te koop gestel is, was vir my nie iets om oor opgewonde te raak nie. Ek was redelik skepties toe die vlootbestuurder vir my die Bolt skeduleer. Maar nou ja, soos ek al telkemale hier gesê het … dit is regtig lekker om verbaas te word.
Ek gaan sommer dadelik daarmee wegspring. Die TATA Bolt is ʼn reuseverbetering op sy voorgangers, en heeltemal ʼn billike, aantreklike mededinger in die mark. Die feit dat TATA vir Jaguar Land Rover besit, begin wys in die kajuit van dié klein Bolt. Welkom, TATA, ek glo julle is hier om te bly.
Die bakwerk is netjies ontwerp en die paneelspasiëring is goed. Die kajuit is baie goed toegerus; al wat bietjie pla, is die bestuursposisie, maar ek is heeltemal te vol fiemies daarmee. Daar is elektriese vensters, lugreëling, kragstuur met kontroles vir die klankstelsel op die stuurwiel, stembeheer, Bluetooth en USB met aux vir jou slimfoon, parkeringsensors, sierwiele en ʼn paar ander goedjies. Sjoe! Die nuwe viersilinder-, turboaangejaagde 1.2-enjin is verbasend sterk, en boonop stil. Ja, 66 kW en 140 Nm is nie te versmaai nie. As jy mooi werk met die TATA’tjie – is hy tot lig op brandstof ook.
Ek het nie met die Bolt gejaag nie, so ek kan nie te veel kommentaar lewer oor sy padhouvermoë nie – maar sy ritgehalte is heeltemal in die kol vir ʼn klein, goedkoop tjorretjie.
TATA is ʼn globale maatskappy. Ek is bly om te sien hulle begin die daad by die woord voeg in hul passasiervoertuie.
Die reeks lyk só:
Luikrug 1.2T XMS | 66 kW/140 Nm | 6.5 ℓ/100 km | R157 995 |
Luikrug 1.2T XT | 66 kW/140 Nm | 6.5 ℓ/100 km | R167 995 |
Sedan 1.2T XMS | 66 kW/140 Nm | 6.5 ℓ/100 km | R167 995 |
Sedan 1.2T XT | 66 kW/140 Nm | 6.5 ℓ/100 km | R177 995 |
Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/100 000 km-waarborg en 2 jaar/30 000 km-diensplan.
Die kompetisie lyk só:
Renault Sandero 66kW turbo Expression | 66 kW/135 Nm | 5.2 ℓ/100 km | 5 jaar/150 000 km-waarborg 2 jaar/30 000 km diensplan | R164 900 |
Toyota Etios 1.5 Sprint | 66 kW/132 Nm | 6 ℓ/100 km | 3 jaar/100 000 km-waarborg 2 jaar/30 000 km-diensplan | R174 300 |
Ford Figo 1.5 Ambiente | 82 kW/136 Nm | 5.9 ℓ/100 km | 4 jaar/120 000 km-waarborg 2 jaar/40 000 km-diensplan | R175 700 |
Die TATA en al dié mededingers het twee lugsakke. Die Renault se waarborg is verreweg die beste. Ek glo die Toyota gaan die beste sy waarde hou. Die klein segment is verskriklik mededingend. Gaan toetsbestuur almal en kies die een wat jou hart en sak pas.
Hoe kompeteer hy met die Kia Picanto?
Dagsê Johan,
Baie dankie vir jou kommentaar. Die Kia Picanto is ietwat kleiner as die Bolt. Die Picanto se kwaliteit in die nuwe model is beslis asemrowend. As jy nie spasie nodig nie is die Picanto ‘n puik opsie.
Groetnis
Brendon
nms Maroela Media
Het so ‘n maand gelede vir die gesin ‘n Tata Manza Ignis aangeskaf. Die hele koop het as “Tyre skoppery” begin, maar die verkoopspan in Bloemfontein was uitstekend.
Amper 4000km verder het ek nog geen klagtes nie, brandstof verbruik van 18km/liter en baaaaie meer spasie as die naaste Japanese of Duitse kompetisie. Ek wag in elk geval nog vir die mense van “Alles loop reg, altyd reg…..” om my te skakel nadat ek in elk geval een wou toets bestuur en hulle my sou skakel….
Ek sê Tata het verbeter en is beslis die moeite werd. Die Manza het “ALL THE BELLS AND WHISTLES”